Kyk waar staan die son al PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Sunday, 17 November 2013 21:12
Untitled Document

So met ‘n onlangse kuier saam, is die gesels in die rigting van die ouer garde en hulle ‘mouterkarre’ en reisgewoontes gestuur. Dis toe dat vriend Rudie Thirion, wat in die dorre noordelike wêreld van ons wye land grootgeword het, weer aan sy oupa Krisjan Witbaadjie dink. En hy vertel toe in die tong eie aan daai geweste:

“Laat dink julle my nou aan my Oupa Krisjan Witbaadjie,” sê ou Rudie. “Word ek mos een Desembervakansie opgekommandeer om saam te ry Ariamsvlei toe, want Oupa het
'n belangrike geregistreerde posstuk wat moet kom en hy reken dis tyd lat die pampiertjie nou innie posbus moet wees.”

“En gan niemand uit ons koers sou gou genog Ariamsvlei toe loop sta' ry om die ding te loop haal nie.

Oupa mag ook nie meer dryf nie, vanlat hy amper vir my en sus Salome een môre met sy kortgat Zephyr op die pad tussen Kakamas en Upington geverongeluk het. Met dié het pa vir hom geverbied om weer agter die ding se stuurwiel in te klim.”

“So is Gert Snyrivier gewerf om dié dag te dryf. En ek moet saam vir hekke-oopmaak. Want Oupa is haastig. Gert word aangesê om vyfuur op Nimmerrust te wees. Almal sê dis te vroeg, maar Oupa hou voet by stuk. Hy wil die belangrike posstuk vroeg al hê, want as die ding eers in die hand is, moet baie goed dié dag nog gedoen word.”

“Kom ons toe hier by sewe-uur die môre by die poskantoor op Ariamsvlei aan,” sê Rudie.

“Toe soos 'n klei-os se neusgat. Nou staan oupa buite langs die kar. Dan skuifel hy met sy kierie al om die kar en kom sit hier op die voorste sitplek. Dan's dit weer uit tot by die poskantoor se hekkie en probeer loer of daar al beweging binne is.”

“Dis Desembermaand en die son is al bo die koppe uit. So vra oupa Krisjan Witbaadjie later vir Gert Snyrivier: ‘Nou wanner begint die mense da' nou werk. Kyk net waar staan die son al…’”

Dit laat haar nou weer dink aan haar oorle Oupa, sê ou Hess: Oupa het plaas verkoop en 'n stukkie grond naby De Wildt aangeskaf, vertel Hess.

Pas na die trekkery kuier hulle een vakansie daar en hulle ry saam koöperasie toe vir die een en ander. Oupa, toe al in sy tagtigs, bestuur. Die passasiers sit knyp van benoudheid terwyl hy in die vreemde dorp na die regte adres soek.

Na nog so 'n impulsiewe U-draai in die besige dorp, met aankomende motoriste wat briek gooi, uitswaai en veral vinger wys, sê oupa: "Vriendelike plek, dié Brits. Almal groet en ek ken hulle van geen kant af nie."

Wat hom nou weer laat dink aan oom Hansie en sy nuwe mouterkar daar in die Riemland, sê Gert Mossie. Oom Hansie het oor die jare heen elke laaste Vrydag van die maand met sy afgeleefde ou geel karretjie dorp toe gery om die nodige sake by die koöperasie en poskantoor te doen. Die oorgang van perdetrêppie na mouterkar was vir hom destyds al moeilik genoeg en die lastigheid van verkeersreëls en dorpry het hy nooit baasgeraak nie.

Nou het die mense van die klein Riemlandse dorpie gou geleer om op die laaste Vrydag van die maand uit oom Hansie en sy geel kar se pad te bly. Want die oom het maklik in die middel van die straat stilgehou om ‘n geselsie aan te knoop of sommer net daar geparkeer, nooit geweet wat en hoekom ‘n stopstraat is nie en na hartelus ‘n U-draai gegooi waar en soos hy wil. Almal was op hulle hoede vir oom Hansie.

Toe gebeur dit op ‘n dag dat die oes goed was en oom Hansie word omgepraat om vir hom ‘n blink nuwe Fordkar in die groot buurdorp aan te koop. En dis net daar op daardie eerste besoek aan die dorp met die nuwe swart Fordkar, dat die moeilikheid gebeur, sê Gert.

Binne ‘n uur het oom Hansie in drie botsings beland en dwars oor outa Langpiet se baaisiekel gery. Gelukkig het die dorp se mense gou geleer en was daar vorentoe geen ernstige voorvalle as oom Hansie op elke laaste Vrydag van die maand met sy nuwe mouterkar die dorp aandurf nie . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger