Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 17 November 2013 21:18
Untitled Document

Angie Kleijn

Kommandant Gideon Jacobus Scheepers is op 18 Januarie 1902 geblinddoek en aan ’n stoel langs sy graf, wat reeds in die Karoo-veld gegrawe was, vasgebind. Kitchener het die bevel gegee, die vuurpeleton se skote het geklap, Gideon het agteroor geval en is net daar begrawe.

Sy liggaam is egter dieselfde nag nog deur Britse troepe opgegrawe en op 'n onbekende plek herbegrawe. Hulle het geweier om sy stoflike oorskot aan sy kommando te oorhandig omdat hulle wou verhoed dat ’n held van hom gemaak word. Navrae aan die Britse militêre owerheid het niks opgelewer nie en Gideon se pa en ma het tot die dag van hulle dood na hulle seun se graf gesoek.


Kommandant Gideon Scheepers in die tronk
Foto: Kaapse Argiewe

Gebore
Gideon is op 4 April 1878 op die plaas Roodepoort tussen Middelburg en Belfast in die ZAR gebore. Hy was die seun van Jacobus Johannes Scheepers en Sophia Charlotte, ‘n nooi van der Merwe. Hulle is op 22 November 1875 in Middelburg getroud en het tien kinders gehad. Gideon se broers en susters was Sophie Charlotte (later Liebenberg), Schalk W, Elsje J (later Sommers), Chatharina E (later Botha), Jacobus J, Hendrik F, Aletta M (later Beukes), Hester Maria en Maria W.

As seun het Gideon hom geroepe tot die kerk gevoel, maar sy familie kon dit nie bekostig om hom universiteit toe te stuur nie. Dit is hoekom die uitnodiging wat President Paul Kruger in 1895 aan alle seuns gerig het, vir Gideon belangrik was. Die president het belowe dat elke seun wat hom daardie jaar by die ZAR se Staatsartillerie in Pretoria aanmeld vir opleiding, die geleentheid sou kry om verder te studeer.

Op 16 jarige-ouderdom het Gideon, wat op die gesin se plaas al met spieëls en seinapparaat geëksperimenteer het, na Pretoria getrek en ‘n heliografis by die Staatsartillerie geword. ‘n Heliograaf is ‘n apparaat wat met die hulp van spieëls en sonlig ‘n sein in ‘n gekose rigting stuur.


Gideon voor die Militêre Hof op Graaff-Reinet. Hy sit onder met sy gesig na kaptein Wilson, kolonel Sprot en luitenant Dawson. Sy dokter sit agter hom aan die punt van die tafel
Foto: Daleen Norden versameling

Vrystaat
In 1898 het generaal Christiaan De Wet die 18-jarige Gideon, wat toe al ‘n sersant-majoor was, gevra om ‘n veldtelegrafie-eenheid in die Vrystaat op die been te bring om beter kommunikasie tussen die Transvaalse en Vrystaatse Boeregeneraals te verseker.

Gideon is in Mei 1898 tot kaptein van sy eie verkenningskommando bevorder en op 19-jarige ouderdom is hy as bevelvoerder van die OVS-Veldtelegrafie aangestel.

Ses weke voor die amptelike uitbreek van die Engelse Oorlog het Gideon ook ’n belangrike rol in die oprigting van 'n heliograafverbinding tussen Bloemfontein en Pretoria gespeel.

Die Boere het vindingryke maniere uitgedink om met mekaar in verbinding te bly en in die Vrystaat het veldtelegrafiste selfs plaasheinings gebruik om boodskappe deur vibrator-trillers te stuur. Só kon die Boerege­neraals gedurig vasstel waar versterkings in die veld nodig was.


Gideon se wa kom by Graaff-Reinet se kerkplein aan waar sy vonnis gevel gaan word. In die agtergrond is die boere wat gedagvaar is om teenwoordig te wees
Foto: Daleen Norden versameling

Oorlog
Gideon was betrokke by die Slag van Magersfontein, die beleg van Kimberley en die Slag van Paardeberg, waar hy met genl Piet Cronjé se oorgawe ontsnap het.

In Maart 1900 is hy na kaptein van die Oranje Vrystaat Verkennerskorps bevorder. In Junie het hy die groot opslagplek by Rooiwal, wat generaal De Wet later vernietig het, ontdek. In Augustus het hy treinspore in die Vredefort-distrik gesaboteer en in Oktober is hy na die suidelike Vrystaat gestuur waar hy, onder generaals Hertzog en Fourie, bygedra het tot die suksesvolle remobilisasie van die suidelike Vrystaat as ‘n afspringplek vir ‘n inval in die Kaapkolonie.

As tweede-in-bevel onder generaal Pieter Kritizinger het Gideon die nag van 15 Desember 1900 die Oranjerivier naby Aliwal-Noord oorgesteek. Dit was die begin van die guerrilla-oorlogvoering wat vir amper een en 'n halwe jaar in die Kaapkolonie sou voortwoed.

Gideon se taak was om die suidelike Karoo te deurkruis en die Britte soveel skade as moontlik te berokken deur spoor-, telegraaf- en posverbindings te ontwrig, hinderlae op te stel, en om koloniste by die Boeremagte te laat aansluit.


Die doodsvonnis is op dié parade op 17 Januarie 1902 gevel. Gideon staan in die middel met die wit broek
Foto: Daleen Norden versameling
Gideon, in die wit broek, word terug geneem na die wa wat hom tronk toe vervoer ná die doodsvonnis uitgespreek is
Foto: Daleen Norden versameling

Uniondale
Op Sondagoggend 20 Januarie 1901, terwyl die Nagmaaldiens in Uniondale aan die gang was, het Gideon en sy kommando die dorp binnegery. Uniondale was goed beleër en 'n stelsel van sewe militêre forte was rondom die dorp in aanbou.

Bykans almal was in die kerk, en Gideon se kommando het die landdroskantoor omsingel, die magistraat gearresteer, die tronk oopgesluit en die gevangenes vrygelaat. Die landdros is in hulle plek opgesluit, en Gideon het alle dokumente wat teen Afrikaners gerig was, in die magistraatskantoor verbrand. Hy het die Union Jack gestryk, die Vierkleur in die plek daarvan gehys en in die hoofstraat op en af gery met die Union Jack aan sy perd se stert vasgemaak.

Een van die toeskouers, 'n veraf familielid, was so beïndruk met die manewales dat hy ’n paar honderd pond aan die kommando geskenk het om voorraad te koop.


Op 31 Mei 1999 is dié monument in die Langkloof by die plek van Gideon se laaste veldslag, onthul
Foto: Trail Rider

Bevorder
In April 1901 is die 22-jarige Gideon tot kommandant van ’n 150-man eenheid, die Witkoppenkommando, bevorder. Dié kommando, wat hulle naam gekry het oor die wit band op hulle hoedens, het op sy hoogtepunt uit 250 troepe bestaan. Hulle was in Oos-Kaapse distrikte soos Graaff-Reinet, Cradock, Montagu en Murraysburg bedrywig.

Klaarblyklik het Gideon een aand in Murraysburg by vriende gaan kuier om oorlogsverslae uit ander dele van die land te bekom. Hy wou ook vir sy verloofde, Johanna Scheepers, ’n groeteboodskap vanaf die hotel stuur.

By die hotel het Gideon ’n groepie Engelse offisiere aan etenstafel gesien en homself in vlot Engels as oorlogskorrespondent gaan voorstel. Daar het Gideon doodluiters begin saamgesels oor die Britse troepesterkte en -bewegings.

Die kakies het by dié ‘joernalis’ gespog met hulle veldtaktieke tot Gideon weens ‘werkdruk’ moes voortgaan. Hy het sy deel van die rekening onder sy servet gebêre en toe die kakies die rekening moes betaal, lê daar ‘n pond met ‘n nota in groot swart letters: Een pond vir fooi as toegif vir die aand se waardevolle inligting – Kommandant GJ Scheepers, veldtelegrafis.


Die destydse byskrif by dié foto sê dat Gideon besig was om van sy ‘wonde’
te herstel in die tenthospitaal
Foto: Anglo-Boere-oorlog Museum

Brand
Op 27 Junie 1901 het Gideon vir die burgemeester van Murraysburg gesê dat hy alle Britse openbare kantore sou afbrand as die dorp nie binne agt dae beleër word nie. Die Britte het nie op die dreigement reageer nie en op 6 Julie is die hoofkonstabel se kantoor, poskantoor, openbare kantoor, die winkel van Herbert Sharwood en die Rose-Innesse se huis aan die brand gesteek.

In Augustus 1901 het dinge egter op ‘n tragedie begin afstuur toe ‘n geheime Britse agent naby Ladismith by Gideon se kommando aangesluit het. Dié agent was ‘n broer van een van Gideon se goeie vriende, kommandant Judge Henry Hugo.

In sy boek ‘The poisoning of Gideon Scheepers: the Anglo-Boer War 1899-1902: a true incident from the guerrilla war in the Cape Colony’, skryf RJ Constantine dat die agent laat in September, naby die Kamanassierivier buite Oudtshoorn, vir Gideon gif in ‘n glas wyn ingegee het.

Dit was nie genoeg om hom dood te maak nie, maar hy het so siek geword dat hy sy troepe gevra het om hom net daar te los.


Gideon saam met matrone Johnson in die Beaufort-Wes-tenthospitaal
Foto: Gedenkboek van die NG gemeente Beaufort-Wes

Siek
Die Britte het Gideon op 12 Oktober op die plaas Kopjeskraal naby Prins Albert gevang en die geskiedenisboeke sê dat hy vir simptome van blindedermontsteking, ingewandskoors of koorssiekte behandel is.

Gideon was vir ’n week in Matjiesfontein se hospitaal, en is daarna van 19 Oktober tot 14 November in Beaufort-Wes in ’n tenthospitaal naby die rivier verpleeg.

In sy nagelate dagboek skryf hy oor sy verblyf: “Hier brachten zij mij in een tent alleen, als pasient en werd ek zeer goed behandeld, kreeg alles waarom ik vraag. Dr. Kaptein Evans en Dr. Carren deden alles om het voor my gemakkelik te maken en de verpleegsters, (met) Matrone Johnson waren de goedheid zelf . . .”

“My aandacht werd hier getrokken door de groote onrust over my; 'n doorn draad heining werd om myn tent gespannen, van vier en twintig draden, en wachten met bejonetten in de tent, met 'n ander officier en twee wachten achter en voor de tent en 'n wacht langs de bomen. 'n Officier was op dienst by de wachten.”

Blykbaar het die Britte gevrees dat die Boere Gideon sou probeer bevry voor hy na die tronk op Graaff-Reinet oorgeplaas kon word.

Gideon word geblinddoek en op ‘n stoel vasgemaak. ‘n Mens kan sy wit broek agter die wagte sien
Foto: Daleen Norden versameling
Gideon val agteroor toe hy op 18 Januarie 1902 voor ‘n vuurpeleton langs sy graf doodgeskiet is
Foto: Daleen Norden versameling
.

Krygsraad
In Graaff-Reinet het ’n Britsse Krygsraad besluit dat Gideon nie as offisier van die Boeremagte behandel sal word nie. As offisier sou hy bloot militêre bevele uitgevoer het. Die krygsraad aanvaar egter getuienis dat Gideon oorlogsmisdade gepleeg het. Die klagtes teen hom het sewe aanklagte van moord, sewe aanklagte van brandstigting en die mishandeling van gevangenes en swartes ingesluit. Hy is op almal skuldig bevind en tot die dood veroordeel.

Was ’n Britse militêre hof volgens die internasionale reg bevoeg om die doodvonnis oor ’n krygsgevangene wat nie ’n Britse onderdaan was nie, uit te spreek terwyl die oorlog nog aan die gang was? Selfs in die VSA het die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat besluite ondersteun dat Gideon volgens die Geneefse Konvensie behandel moet word. Dié pogings was te laat om sy teregstelling te verhoed en Gideon is op 18 Januarie 1902 voor ‘n vuurpeleton doodgeskiet.

Op pad na sy teregstelling het die Britse Coldstream Guards nie die gebruiklike ‘Dodemars’ uit Saul gespeel nie, maar die spotliedjie ‘More work for the undertaker’.


Die aanwysings na die Gideon Scheepers monument en wandelpad in die Kamdebo Nasionale Park

Graf
Gideon is langs sy oop graf doodgeskiet, maar toe sy familie later sy beendere wou herbegrawe, was sy graf leeg en het hulle uitgevind dat die Britte sy oorskot op ‘n onbekende plek herbegrawe het.

Dit het na ‘n jarelange soektog gelei met kleurvolle insidente waar vals oorskot telkens aan Gideon se ouers gebied is en selfs ‘n insident toe ‘n geestesversteurde hom as Gideon voorgedoen het.

Gideon se pa, Jacobus, is in 1934 oorlede en sy ma, Sophia, het daarna op haar eie tot haar dooddag in 1956 na Gideon se oorskot gesoek. Haar soektog na haar seun se finale rusplek was die inspirasie vir DJ Opperman se gedig, ‘Gebed om die gebeente’. Dié gedig is in ‘n kantate omskep deur komponis Hendrik Hofmeyr.

Vele gedigte en huldeblyke is oor Gideon geskryf, soos ‘’n Swaard in die Sand: Die lewe en dood van Gideon Scheepers’ deur Johannes Meintjies.

In 1978 is ‘n gedenksteen 2 km buite Graaff-Reinet, op die R63 na Murraysburg in die Nasionale Kamdebo-park, naby die plek van Gideon se teregstelling opgerig.

Bykans 100 jaar ná sy dood is nog ‘n monument op 31 Mei 1999 in Langkloof by die plek van Gideon se laaste groot veldslag, onthul.


Kmdt Gideon J Scheepers, 4/4/1878 – 18/1/1902. Gefusilleer 100 meter noordoos van hierdie gedenkteken. “ . . . Hy leef in hierdie land nou, ewig en altyd . . .” DJ Opperman

 

© 2020 Die/The Bronberger