Eeu gelede se Desember sal hiervoor onthou word Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 12 December 2013 22:22
Untitled Document

Wat het die Vrouemonument, Charlie Chaplin, Tretchikoff, Tarzan en die Mona Lisa in gemeen? Die antwoord lê in Desember 1913. Ons kyk na ‘n paar hoogte- en laagtepunte, geboortes, ‘n sluipmoordpoging, onthulling en hoe Kerskaartjies daardie jaar gelyk het.

Vrouemonument
Die Nasionale Vrouemonument is op 16 Desember 1913 in Bloemfontein onthul en 20 000 mense het die seremonie bygewoon. Die twee polisiemanne weerskante van die blommekranse is Josias Petrus Albertus Reyneke Joubert, links, en Daniel Casparus Joubert, regs.

Dié monument bring hulde aan die ongeveer 26 370 vroue en kinders wat in die Engelse Oorlog dood is, meestal in Britse konsentrasiekampe. ’n Hele geslag potensiële Afrikaners is in dié kampe uitgewis, altesaam 22 074 kinders en 4 182 vroue, asook sowat 1 500 mans (meestal bejaardes).

In Februarie 1907 is die eerste konferensie oor so ‘n monument gehou, en daar is besluit om £10 000 vir die oprigting daarvan in te samel. Die verarmde volk het gereageer en vier jaar later was die bedrag bymekaar. Die beeldhouer Anton van Wouw en die argitek Frans Soff het opdrag gekry om die ontwerp te doen. Bouwerk het in 1911 begin.

Die monument se 44 kampgedenkstene verteenwoordig die aantal konsentrasiekampe, en die volle besonderhede van kinder- en vrouesterftes is daarop aangebring. Roerende beeldhouwerke staan as herinnering van tonele uit dié oorlog.


Foto: Frikkie De Wet-versameling

Speelgoedpop
Kersvader, 1913-styl, met ‘n speelgoedpop op ‘n Kersfees-poskaart

Charlie Chaplin
Wie ken nie die silwerdoek swygjare se bekendste akteur, Charlie Chaplin, nie? Die pamflet adverteer Charlie Chaplin se 1913 Amerikaanse toer saam met die Britse Fred Karno komediegroep. Hy was slegs ses maande besig met sy tweede Amerikaanse toer toe hy sy eerste aanbod om in ‘n film te speel van die New York Motion Picture Company gekry het. Die aanbod was om Fred Mace, Keystone Studios se ster, te vervang. Charlie het in September 1913 ‘n kontrak vir $150 per week geteken en het vroeg in Desember 1913 in Los Angeles, die tuiste van Keystone Studio, aangekom.

Kewpie
“I am the Kewpie Santa Claus” lees die inskripsie op die 1913 fles/sigarethouer

Sluipmoordpoging
In Desember 1913 is die skatryk mynmagnaat en politikus, Sir Lionel Phillips, deur ontevrede Suid-Afrikaanse vakbondlede geskiet. Van dié koeëls het hom in die nek en bobeen getref. Hy het die aanval oorleef en is eers ‘n kwarteeu later oorlede. Lionel is in London gebore en toe hy 20 jaar oud was het hy op ‘n skip na Suid-Afrika geklim, op soek na rykdom. Hy het die grootste deel van die 600 myl van Kaapstad na Kimberley se diamantmyne geloop om daar werk te gaan soek. In Kimberley het hy later ‘n diamantsorteerder geword, ‘n koerant bedryf en ‘n myn bestuur. Dié foto is 30 jaar later geneem toe hy reeds ‘n mynmagnaat was.

Pikswart pels
‘n Kersvader met pikswart pels rondom sy rooi jas en mus. Dié Kerskaartjie is in 1913 gepos

Eeu van beweging
Die eerste bewegende motoronderstel-produksielyn is op 1 Desember 1913 deur Henry Ford in werking gestel. Henry het vir jare na ‘n manier gesoek om sy produksieproses vinniger en goedkoper te maak en het op die ou einde die plan daarvoor by ‘n vleisverwerkingsfabriek in Chicago, en die manier waarop hulle die karkasse hanteer, afgekyk. ‘n Nuwe motorkar het elke twee en ‘n halwe minute van die produksielyn afgekom. Dié plan het so goed gewerk dat Henry se 10 miljoenste Ford op 4 Junie 1924 verskyn het.

Dogtertjie
‘n Dogtertjie met ‘n rooi mus pryk op dié 1913 Kerskaartjie

Koning van kitsch
Vroeër het almal iewers ‘n familielid gehad met ‘n Tretchikoff-afdruk teen die muur. Wie onthou nie die sterwende swaan, huilende roos of verlore orgidee nie? Sy Sjinese meisie, ook bekend as die groen vrou, was een van die beste verkopers onder kunsafdrukke in die twintigste eeu. Vladimir Grigoryevich Tretchikoff is op 13 Desember 1913 in Siberië (vandag Kazakhstan) gebore. Met die uitbreek van die Russiese Rewolusie in 1917 het sy gesin na China gevlug. In die Tweede Wêreldoorlog was hy ‘n gevangene in Serang en later op parool in Batavia (nou Jakarta). Tretchikoff is in 1946 met sy vrou, Natalie, en dogter, Mimi, in Suid-Afrika herenig. Hy is op 26 Augustus 2006 in Kaapstad in die ouderdom van 92 jaar oorlede.  

Copenhagen
‘n Deense 1913 Kers-poskaart, posseël en stempel wat wys dat die poskaart op 24 Desember in Copenhagen gepos is

Baronet gebore
Politikus, prokureur en melkboer, Sir De Villiers Graaff, is op 8 Desember 1913 in Suid-Afrika gebore. Hy het sy pa, Sir David Pieter de Villiers Graaff, se baronetskap in 1931 oorgeneem. Divvie het in 1948 ‘n parlementslid vir die Verenigde Party geword en het leierskap van dié party in 1956 oorgeneem. Hy het ook krieket vir Westelike Provinsies gespeel. Divvie is op 4 Oktober 1999 in die ouderdom van 85 jaar in Kaapstad oorlede en sy baronetskap is deur sy seun, Sir David de Villiers Graaff, geërf. Dié baronetskap is een van 12 wat tussen 1841 en 1924 aan Suid-Afrikaners toegeken is.

Engeltjies
Engeltjies bring Kerspersente op dié 1913 Kersfees-poskaart

Kriekettoetsreeks
Herbie Taylor was die kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan in die Desember 1913 – Maart 1914 se toetsreeks teen Engeland. Die Engelse kaptein was Johnny Douglas en die toer is deur die Marylebone Krieketklub gereël. Daar was vyf toetse en hulle het 18 eersterangse wedstryde gespeel, insluitende die toetse. Die Engelse het die reeks gewen.

‘Jack-in-the-box'
Kyk net na die ongewone ‘Jack-in-the-box’ speelding wat dié 1913 John Winsch Kersvader vashou

Mona Lisa terug
Leonardo da Vinci se Mona Lisa, wat in Augustus 1911 uit die Louvre Museum in Parys gesteel is, is op 10 Desember 1913 in Florence gevind. ‘n Italianer, genaamd Vincenzo Perugia, wat jare lank in die Louvre gewerk het, het die portret aan ‘n handelaar in Florence probeer verkoop. Hy het aan die handelaar verduidelik hoe hy die portretraam gebreek het, die doek onder sy hemp opgerol het en dit so ongesiens uit die museum verwyder het. Vincenzo het blykbaar 25% afslag op die prys aan ‘n Signor Geri en Professor Poggi gebied omdat hy wou hê dat dié portret in ‘n openbare galery in Italië, en nie Parys nie, moes hang. Vincenzo is as ‘n nasionale held in Italië, waar hy sewe maande in die tronk spandeer het, beskou. Die Mona Lisa is op 13 Desember 1913 aan die Louvre terugbesorg.

Speelgoed
Nog ‘n 1913 John Winsch Kers-poskaart, gedruk in Duitsland

Tarzan-opvolg
Edgar Rice Burroughs se tweede Tarzan-storie, ‘The return of Tarzan’, is twee keer deur die ‘All-Story’ tydskrif afgekeur. Met sy derde probeerslag het hy dit aan ‘New Story’ gestuur wat dit dadelik vir $1 000 gekoop het en in sewe aflewerings tussen Junie en Desember 1913 publiseer het. Twee van dié uitgawes dra die legendariese NC Wyeth se illustrasies op die tydskrif se voorblad.

 

© 2020 Die/The Bronberger