Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 27 January 2014 22:15
Untitled Document

Hy kan duik, sy toon omdraai en sy vlerk se elmboog buig om die son uit sy oë te hou terwyl hy vlieg.

Die visvalk, Pandion haliaetus, is so ongewoon dat wetenskaplikes hom in sy eie genus, Pandion, en familie, Pandionidae, geplaas het. Dié valk is ‘n enkele lewende spesie wat bykans wêreldwyd voorkom – op alle kontinente behalwe Antarktika. Daar is vier algemeen erkende subspesies.


Die visvalk se dieet bestaan hoofsaaklik uit vis
Foto: Mike Baird

Naam
Die ‘Pandion’ deel van sy naam is vernoem na die mitiese Griekse koning van Athene, oupa van Theseus, wat in ‘n arend verander het. ‘Haliaetus’ kom van die Griekse woord vir ‘see arend’. Die voël se Engelse naam, ‘osprey’ is vir die eerste keer rondom 1460 neergepen en kom van die Anglo-Franse ‘ospriet’ en die Middeleeuse Latynse woord, ‘avis prede’ (later ‘avis praedæ’), wat roofvoël beteken.

‘n Legende oor dié voël, wat in Albertus Magnus se werk en die Holinshed Kronieke voorkom, is dat hy een gewebde poot en een poot met kloue het. In die Middeleeue het hulle geglo dat visvalke visse hipnotiseer sodat hulle maag-in-die-lug draai om maklik gevang te kan word.

Daar word selfs in Shakespeare se ‘Coriolanus’ hierna verwys: “I think he'll be to Rome As is the osprey to the fish, who takes it By sovereignty of nature.”

Anders
Visvalke is baie anders as ander roofvoëls wat in die dag jag. Visvalke en uile is die enigste voëls wie se buitenste toon kan omdraai, wat hulle in staat stel om hulle prooi met twee voorste en twee agterste tone vas te gryp. Dié eienskap is veral handig as ‘n glibberige vis vasgevat moet word.

Nog verskille is dat die visvalk se tone almal ewe lank is, sy hakgewrig is netnerwig en sy kloue is gerond, eerder as gegroef, met kort stekels wat help om visse vas te gryp.


‘n Visvalk trek ‘n vis uit die water
Foto: Mike Rae

Visvalke se gewrigte is almal baie buigbaar. Dit is hoekom hy, as hy in skerp lig invlieg, die gewrig in sy vlerk kan buig om sy oë te beskerm. Hy het goeie sig, wat hom help om van hoog uit die lug iets onder die water te sien.

Sy neusvleuels kan toemaak om water uit sy longe te hou as hy duik. Visvalke kan tot ‘n meter onder die water induik en hulle digte olierige vere help om die papnat voël met prooi en al uit die water te laat vlieg. Dié soort vere veroorsaak egter ook dat hy nie dieper as ‘n meter kan duik nie.

Verwar
‘n Visvalk is 55-59 cm lank en kan verwar word met ‘n onvolwasse visarend wat in ‘n soortgelyke habitat van varswatervlakke, riviermondings en strandmere aangetref word. Die visarend is egter ‘n groter voël met breë vlerke en ‘n baie kort stert, en neem gereeld die visvalk se prooi by hom af.

‘n Visvalk se vlugbuitelyn lyk soos dié van ‘n groot meeu met ‘n diagnostiese swart masker op ‘n wit kop, ligte ondervlerke en swart vlekke op die polsgewrigte. Die geslagte lyk eners en onvolwassenes lyk soos die volwassenes.

Hy is ‘n nie-algemene besoeker, hoofsaaklik in die somer, wat in Europa broei en gewoonlik nie in suidelike Afrika roep nie.

Hulle kom van Oktober tot Desember hier by ons aan en vertrek weer tussen Maart en Mei. Visvalke migreer in swerms van agt tot tien en die wyfies neig om vroeër na Afrika te migreer as die mannetjies.

Hulle vlieg hoofsaaklik in die dag, maar sal in die nag oor water trek. ‘n Gemiddelde vlug is 260–280 km per dag met ‘n maksimum van 431 km per dag.


Die visvalk kan sy vlerk se elmboog buig
Foto: Trevor Hardaker

Broei
Visvalke kan begin broei as hulle drie tot vyf jaar oud is, maar in die afwesigheid van geskikte nesbouplek, kan hulle wag tot hulle sewe jaar oud is.

Daar is slegs vier bevestigde broei-rekords in suidelike Afrika, so die broei-inligting kom van Europa waar die nes deur beide mannetjie en wyfie gebou word. Dit is ‘n groot, toringagtige platform van stokke, wat tot 1,5 m hoog kan wees en 1 m wyd. Daar is ‘n koppievormige holte bo-op die struktuur wat met droë gras uitgevoer is.

Die voëls kies net een maat, maar kan klaarblyklik ‘skei’ as die broeiproses nie uitwerk nie. Die wyfie lê een tot vier eiers wat vir 35-43 dae uitgebroei word en die kuikens bly vir ongeveer 50 dae in die nes.

Visvalke word gewoonlik so tien jaar oud, alhoewel sommiges 20 tot 25 jaar oud word. Die oudste Europese visvalk op rekord het 30 jaar oud geword.

 

© 2020 Die/The Bronberger