My ouma Anne kon ?sien? PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 18 August 2008 05:01
Untitled Document

Poortjiestraat was ’n stofpaadjie aan die buitewyke van die Transvaalse dorpie waar my ouma Anne gebly het. My ouma Anne wat kon ‘sien’. “Met die helm gebore,” het ek die grootmense soms hoor sê.

Die rooibaksteen-huisie was perfek vierkantig met ’n rooi sinkdak en ’n rooi Cobra-gepoetste stoep waar varings in verfblikke weerskante van die stoeptrappies waggestaan het. Hier het my ouma sedert my oupa Boy se oorlye alleen gebly, ’n weduwee reeds van voor my geboorte af.

Jy het deur die silwergeverfde tuinhekkie geloop, met ’n reguit tuinpaadjie af. Weerskante van die paadjie is lang, smal blombeddings met bakstene afgebaken. Die bakstene is skeef, teen ’n hoek van 45 grade staangemaak – die een dié kant toe en die volgende een weer anderkant toe sodat hulle ’n driehoekpatroon vorm – soos op’n draak se rug.

In die beddings het leeubekkies en gesiggies geblom. ’n Lappie leeubekkies en dan weer ’n entjie se gesiggies en dan weer leeubekkies, al die pad langs die paadjie af. Die grond in die beddings is nog klam van gister se leibeurt. Jy kan dit ruik.

As jy so halfpad met die tuinpaadjie af is, kom ouma Anne by die oop voordeur uit en gaan staan met haar vuiste op haar heupe op die stoep om ons in te wag. Sy het haar blommetjies-voorskoot aan. Aan haar voete is ’n paar breedgetrapte, bruin pantoffels.

“Verskoon tog die ou pantoffels, maar die liddorings . . .” ’n Paar grys hare het uit die stywe bolla op haar kop ontsnap en hang langs haar slape af. “My aaaarde,” sê sy,“ek dag julle kom nooit aan nie.”

My ouma noem ons almal “my kind” as ons om die beurt gesoengroet word. My pa, die oudste van haar sewe kinders: “Hoe gaan dit, my kind?” Dan my ma: “Welkom, my kind.” En dan ons drie kinders:“Aarde, kyk net hoe het jy gerek, my kind.”

Binne staan die koffie en beskuit, vir die grootmense, en aanmaakkoeldrank en koekies, vir die kinders, reeds reg. Die geur van kookkos dryf van die kombuis af die voorkamer binne.

Nuus word uitgeruil. Ouma Anne vertel breedvoerig van al my ooms en tannies en niggies en nefies se siektes, skete en kwale. As my ma vra na my ouma se gesondheid, antwoord sy: “Nee wat, my kind, soos dit maar met ’n ou mens gaan . . .”

Ons staan nader vir middagete. Die groot greinhouttafel is netjies gedek – vir sewe mense. Ons is net ses. “Hoekom die ekstra plek, ma?” vra my pa. “Verwag ma dan iemand?”

My ouma antwoord met ’n glimlag dat ’n mens “nooit weet nie”. Dan dra sy en my ma die bakke van die kombuis af nader; skaapboud en gebakte aartappels, ’n bruingebakte skrophoender wat ouma self geslag het, groenboontjies, blomkool met witsous, stampmielies en pampoenkoekies. Vir later is daar doekpoeding met vla. Ouma Anne was reeds van voordag af doenig voor die ou Aga stoof.

Die kos is heerlik. Almal eet met genoegdoening. Dan verbreek my ouma die stilte: “Kan julle dit darem inkry?” wil sy weet, en sy kry die welverdiende komplimente waarna sy gesmag het.

’n Rukkie later hoor ons ’n motor in Poortjiestraat stilhou. Die tuinhekkie gaan met ’n uitgerekte“pieeep” oop en weer met ’n“peeeip” toe. Iemand kom by die voordeur in. Dis my oom Gawie wat deesdae in Durban bly.“Jammer dat ek sommer so hier inval sonder om te gelaat weet het,” sê oom Gawie met die groet saam.

“Toemaar, my kind,” sê my ouma Anne. “Kom sit gerus. Ek gaan haal net gou die bord kos wat ek vir jou uitgeskep het, uit die lou-oond uit . . .”.

 

© 2019 Die/The Bronberger