Hulle doen nie meer dinge nie . . . PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 27 February 2014 23:40
Untitled Document

Dié dinge-om-te-doen gedoente van die Bronnie laat hom nou dink, sê Gert Mossie. “Kan gevaarlik wees,” sê Allen Prentjies van agter sy koerant uit.

En hy dink, sê Gert Mossie, die ‘dinge’ wat mense in sy jonger dae gedoen het, verskil darem hemelswyd van die dinge wat vandag se jongmense doen. Dis soos om ‘n piekniek met die pandemonium van ‘n rockfees te vergelyk, sê Gert.

Of ‘n kleilat met ‘n aaipod, sê Groot Piet in die Hoek. Net anderdag sê hy vir sy dogter: “Gaan kry gou vir my ‘n koerant.” “Moenie laf wees nie. Pa kan sommer my aaipad leen,” antwoord dogter. “Daai spinnekop het nooit geweet wat hom getref het nie,” sê Groot Piet.

Vandag se kinders, sê Gert, sal seker dink ‘n kleilat is ‘n ding wat ‘n pottebakker maak en dat ‘touches’ ‘n nuwe soort slimfoon is. Hulle weet nie meer hoe om te speel nie en ‘buite’ is vir die bloedjies die ongerieflike stukkie straf tussen die huis en die ‘mall’, sê Gert.

Ja, waar is die dae van foefieslaaids, donkiery, kennetjie en giffie en gesonde kattekwaad soos vrugte-gaps? Daai was nou vir jou dinge om te doen.

Sy gunsteling, moet hy sê, was donkerkamertjie en dit kon ‘n ou nie buite speel nie, sê Groot Piet. Eintlik kon jy seker, maar dan sou dit seker net donkertjie genoem wees.

Hy dink, sê Gert Mossie nou, dat donkerkamertjie noodsaaklik was vir die ontwikkeling van elke jongeling se vaardighede. Dit het die grondslag gelê vir latere blootstelling aan die draaif-ien waar gevorderde vernuf nodig was. En nou het die land se heel laaste draaif-ien ook toegemaak, sien hy.

Hartseer dag, sê Allen Prentjies. Hy weet nie wat van die land gaan word sonder inryteater-vryplekke, vrugtediewe en ‘n klomp ‘hooligans’ wat mekaar met klei gooi nie. Groot Piet begin met sy opstaankreun en kry ‘n kyk in die oë wat gevaar voorspel.

Wag Piet, kalmeer, sê Gert Mossie. Allen Prentjies verstaan nie altyd mooi nie. Hy is mos eintlik Engels, maar verder is hy nie te sleg nie.

Hy dink in elkgeval dis tyd dat hy huis toe gaan, sê Groot Piet. Hy wil nie Sewende Laan op die TV mis nie, en hy wil loop kyk wat sê sy vriende op die faceboek. Net eers ‘n teksboodskap vir die vrou stuur om te sê hy het nie van die brood en melk vergeet nie . . .

Ja, dis die veilige ding om te doen, waag Allen Prentjies dit jou werklik.

Hy sal maar hier in die drinkgat bly tot hy seker is die krieket is verby, sê Gert. Glad nie vir hom lekker om te moet kyk hoe ‘n windlawaai Aussie met ‘n hangsnor ons kampioene verniel nie.

Maar gelukkig het die rakbie weer begin en sal hy ook nou sy naweke maar noodgedwonge binnenshuis moet deurbring, sê Gert. Rakbiekyk is ‘n goeie ding om te doen, en al verloor jou span sorg die kommentators darem ook vir lekker ligte vermaak, sê Gert Mossie.

Net Maandag, met die varsity-rakbie what rôks, het ou Toks weer ‘n groot wysheid kwytgeraak. Met geesdriftige oorgawe gil die land se tweede grootste rakbiekommentator dit uit: “Joe! Een ding is vir jou seker! Hierdie wedstryd gaan aanhou tot die einde!”

 

© 2019 Die/The Bronberger