Te lui om sy wyfie te vermaak Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 April 2014 23:56
Untitled Document

Die luitinktinkie kry sy naam omdat hy die enigste tinktinkie is wat nie vertonings-in-vlug vir sy maat hou nie.

Hy kom plaaslik as ‘n algemene standvoël teen klipperige heuwelhange in beboste wêreld voor. Die luitinktinkie vreet grootliks insekte en soek die meeste van sy prooi naby grotte of rotsskeure met omliggende plantegroei.

Die voël is 14 cm groot en weeg 13-15 gram. In vorm en gewoonte, veral dié om sy stertjie regop te hou, lyk die luitinktinkie die meeste van al die tinktinkies in die streek soos ‘n langstertjie. Hy verskil van ‘n langstertjie deur sy rooierige kroon en warm dofgeel onderste dele en word van die neddikkie onderskei deur sy lang, dun stert wat dikwels regop gehou word.


Die luitinktinkie sit dikwels met sy stert omhoog
Foto: Buckham Birding

Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes lyk soos die volwassenes. Hulle bly in gras- en bosbedekte heuwelhange, besaai met klippe en rotse en hulle roep is ‘n skellende
‘tzeeee-tzeeeh-tjee-tjee’.

Die luitinktinkie se nessie is ‘n balvormige struktuur met ‘n sy-ingang aan die bokant. Dit word tipies uit droë gras gebou en met sagte plantmateriaal uitgevoer. Die nessie word in klossies gras in ‘n doringagtige struik of bo-op lang gras wat aan bossies vasgeknoop is, geplaas.


‘n Luitinktinkie voer ‘n skerpbekheuningvoël-kuiken
Foto: Alan Manson

Die broeiseisoen is van September tot April, met ‘n piek van Oktober tot November. Die wyfie lê twee tot vier eiers wat vir 13-15 dae uitgebroei word.

Die kuikens word grootliks deur die wyfie gevoer en hulle verlaat die nes na 13-14 dae. Hulle is na
21-30 dae ten volle onafhanklik.

Luitinktinkies word deur die skerpbekheuningvoël, wie se eiers hulle uitbroei en die kuikens daarna grootmaak, geparasiteer.

 

© 2020 Die/The Bronberger