Burgerspark; '?n Monument vir '?n vertrapte president Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 23 April 2014 00:17
Untitled Document

Angie Kleijn

“Begrawe my in die hek van my skaapkraal, sodat elke spoor van my tot vergetelheid vertrap kan word.”
Dit was die laaste wens van ‘n ZAR president wat in die ouderdom van 47 jaar as ‘n gebroke man oorlede is. Thomas Francois Burgers se standbeeld staan vandag nog in Burgerspark, Pretoria se oudste park, wat op 9 Maart 1979, bykans ‘n 100 jaar na Thomas se dood, as ‘n nasionale monument verklaar is.


Thomas Francois Burgers

Thomas is op 1 Julie 1872 op die ouderdom van 38 jaar as ZAR president ingesweer. As Kaapse predikant moes Thomas vanuit die staanspoor ’n bittere stryd teen verdagmakery voer. Omdat hy, met al sy persoonlike besittings, pa gestaan het vir ’n hele aantal lenings vir die Republiek, was hy verarm toe die Republiek op 12 April 1877 deur die Engelse geannekseer is. Hy is vir dié anneksasie blameer, het sy gesondheid verloor en het saam met sy gesin in ’n skaapwagtershut in die Karoo geëindig waar hy half blind saam met diere moes damwater drink.


‘n Ou poskaart van Burgerspark wys die musiekkoepel en visdam

Park
Thomas het vroeg in 1874 reeds 18 erwe opsy gesit vir ‘n botaniese tuin. Die vier-hektaar-grootte Burgerspark is na hom vernoem, alhoewel die stuk grond eers in 1890, dertien jaar ná hy uit die ZAR weg is, in ‘n volwaardige park omskep is.

Sy standbeeld is 76 jaar ná hy weg is, daar opgerig. Dit is befonds uit die boedel van een van sy dogters, Mary Adelene Jorissen. Die stadsraad het die projek in 1950 op tender uitgesit en aan die Litauer kunstenaar, Moses Kottler, toegeken. Die standbeeld is in 1953 onthul.


Die standbeeld van president Thomas Francois Burgers
Foto: MiggieSA

Burgerspark is uitgelê op die plek waar die Voortrekkers, wat op die plaas Elandspoort kom woon het, gekamp het voor die dorp gestig is. Geld om die uitleg van die park moontlik te maak het eers in Paul Kruger se tyd beskikbaar geraak en dit danksy die goudstormloop.

Die staatsbotanikus, James Hunter Mclean, is in 1890 aangestel om ‘n botaniese tuin uit te lê. Hy is deur George Jesse Heys, ‘n welgestelde sakeman en eienaar van Melrose-huis net oorkant Burgerspark, bygestaan. Melrose-Huis het bekendheid verwerf toe dit in die Engelse Oorlog deur Lord Roberts as die Britse magte se hoofkwartier gekommandeer is nadat Pretoria in Junie 1900 binnegeval is.


Die tee kiosk knap nadat hy in 1912 oopgemaak het
.

Die kiosk vandag
Foto: Dorsetbruce
.

Reg langs Melrose-Huis in Jacob Maréstraat was die Kleyn-huis, genaamd Parkzicht, wat in 1895 oorkant Burgerspark opgerig is. Die huis is gebou vir regter Frederik Willem Hendrik Kleijn.

Burgerspark se ornamentele hekke kom van dié huis, wat deur die argitek Klaas van Rijsse (jnr) ontwerp is. Die Boere-afgevaardigdes wat die 1902 vrede-ooreenkoms by die aangrensende Melrose-Huis onderhandel het, is daar gehuisves. Parkzicht se hekke is na Burgerspark verskuif nadat die huis gesloop is. Die hekke, soos die musiekkoepel, is later deur vandale beetgekry.


Die musiekkoepel

Musiekkoepel
Die musiekkoepel met sy Sjinese-styl pagode-dak was een van die potyster strukture wat met die draai van die vorige eeu vanuit ‘n katalogus uit Glasgow, Skotland, bestel kon word. Die musiekkoepel is deur die Skot, Walter MacFarlane, gemaak en is in 1895 in die park opgerig.


‘n Gazebo naby die kurator se kothuis het ook van een van die aangrensende
huise wat gesloop is, gekom
Foto: Tony McGregor

Die 24ste regiment van Roberts Hoogte (later Voortrekkerhoogte) het gaste hier vermaak en die koepel is ook vir amptelike geleenthede deur eerste minister, generaal Louis Botha, gebruik.

Later jare is ‘n Eerste Wêreldoorlog-monument ter herdenking aan lede van die Suid-Afrikaanse Skotse Regiment wat in die oorlog gesneuwel het, in die park opgerig.


Een van die groot bome in die park
Foto: Tony McGregor

Kothuis
Die kurator se oorspronklike kothuis is deur staatsargitek Sytze Wierda ontwerp en in 1893 gebou. Hy is in 1904 afgebreek en deur ‘n tipiese voorbeeld van die ‘chalet’-styl eklektiese Wilhelmiens-huise met sterk romantiese Europese eienskappe, vervang. Dié huis toon die oorgang na die ‘Art Nouveau’-styl.

Die huis herinner ‘n mens ook nogal baie aan die Erasmuskasteel in Erasmuskloof, wat deur dieselfde Hollandse argitek, Frans Van der Benn, ontwerp is. Leslie Simmonds, wat destyds die kommissie ontvang het om die Erasmuskasteel te ontwerp, het die werk aan Frans Van der Benn uitgekontrakteer. Frans is ná die Engelse Oorlog heraangestel as munisipale argitek.


Sytze Wierda

Argitek Vivian Rees-Poole

George Heys

Min het deur die laaste 110 jaar aan die kurator se huis verander, behalwe die toevoeging van ‘n ekstra slaapkamer met noordelike aansig. Die kothuis is vir sy honderdjarige herdenking teen ‘n koste van R400 000 restoureer en ‘n elektriese geyser, spoeltoilet en nuwe kombuiskaste is geïnstalleer.

Dié kothuis is tot 1975 as die kurator se huis gebruik, maar daarna is dit aan stadsraad-werkers verhuur. Dit is later aan die ‘Pretoria Community Ministries’, wat werk in die middestad doen, verhuur.


Lord Kitchener se wagte voor die hekke van Melrose-Huis

Kiosk
Burgerspark se kiosk is tipies van die soort tee-kiosk wat met die draai van die 19de eeu opgerig is. In 1897 het Wierda ‘n indrukwekkende agtkantige tee-kiosk ontwerp, maar weens finansiële probleme en die uitbreek van die Engelse Oorlog, is dié kiosk nooit gebou nie.

Eers in 1909 het die stadsraad se parke-afdeling weer voorgestel dat so ‘n struktuur vir sosiale doeleindes opgerig moet word.


Die kurator se kothuis

Die kiosk is in 1910 deur Vivian Sydney Rees-Poole, wat vir die Openbare Werke Department in Pretoria gewerk het, ontwerp om met die verwagte besoek van die Prins van Wallis saam te val. Vivian was deel van die span wat aan die Uniegeboue gewerk het en was, saam met W Barboure, verantwoordelik vir die ontwerp van Kerkplein in 1912.

Die boukontrakteur was EHJ Clark, wat ‘n aantal terugslae in die bou van die kiosk ervaar het. Die perseel was met termiete oortrek, iets wat die argitek nie geweet het nie. Nog ‘n terugslag was die ineenstorting van die betonvloer op die gebou se eerste vlak. Die amptelike opening was op die ou einde eers op 16 September 1912.

In die vroeë jare is die kiosk gereeld vir burgemeestersonthale gebruik.


Eerste Wêreldoorlog-monument ter herdenking aan lede van die Suid-Afrikaanse Skotse Regiment
Foto: Tony McGregor

Helene Rayman se skildery van Parkzicht, die huis van regter FWH Kleijn
.

Florarium
In Junie 1960 het die stadsraad ‘n fonds gestig vir die oprigting van ‘n florarium vir eksotiese plante van verskillende klimaatstreke, wat termostaties beheer word. Die florarium is op 8 Oktober 1974 deur Tienie Vorster, vrou van eerste minister John Vorster, geopen.

Die florarium is ‘n reghoekige staalstruktuur met halfmaan-punte onder ‘n gevleuelde konsertina-dak wat ingevul is met glas en ‘n staalrooster. Die mure is van baksteen en die struktuur is in vier dele opgedeel. Die oostelike deel verteenwoordig die wêreld se koeler streke en die suidelike deel ‘n koel, klam klimaat. Die westelike deel bevat Suid-Afrikaanse plante wat in droë en selfs woestyn-toestande voorkom en die noordelike deel huisves plante wat in ‘n tropiese klimaat aard.

Die florarium se struktuur het nooit verander nie en kan vandag nog tussen 10 vm en 5 nm op weeksdae en tot 3.30 nm op naweke en vakansiedae besoek word.

Burgerspark is tussen Parklaan, Andries-, Jacob Mare- en Van der Walt-straat.


Die florarium

 

© 2020 Die/The Bronberger