Wat het van badkamerdeure geword? PDF Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 17 September 2008 17:50
Untitled Document

Rina Swart van Faerie Glen skryf:

Hoekom bou mense gastehuise, ‘lodges’ en hotelkamers sonder badkamerdeure? Veral in die moderne geboue is die slaapkamer net ’n groot oop vertrek met ’n toilet, wasbak en glasstort in die een hoek. Wat het van privaatheid geword? Probeer hulle goedkoper bou? Die pryse word stewiger, maar die verbruiker kry minder.

Ons reis nogal baie en slaap dikwels in bogenoemde plekke, maar wanneer ons bespreek, is die standaard vraag: “Is daar’n badkamerdeur wat kan toemaak?” Natuurlik beteken geen badkamerdeur geen bespreking.

Ek het met vriende, familie en ’n paar ander mense hieroor gepraat, en raai wat, hulle voel dieselfde. Soms reis twee vriende saam, of pa en kind, ma en seun, en deel dan ’n slaapkamer. Hoe nou gemaak in die oopplan-slaapkamer met die glasstort?

Dis vir my onverstaanbaar dat ’n ontwikkelaar/bouer/ argitek nie aan sulke dinge dink nie. Dit kan werk in jou eie slaapkamer in jou eie huis, maar nie in ’n semi-openbare plek nie.’n Ander doring in my vlees is die spieël wat so klein is dat jy net jou kop kan sien. Asseblief, ’n vollengte spieël. ’n Mens wil tog sien hoe jy lyk voordat jy uitgaan. En dan die elektriese prop vir die haardroër wat nie naby ’n spieël is nie.

’n Mens wil tog in ’n spieël kyk terwyl jy jou hare droogblaas. Soms, wanneer ek ’n mooi, smaakvolle gaste-plek sien, wil ek huil oor die onpraktiese uitleg van die slaapkamers. Ek was self lank in die bedryf en ons het geglo: slaap een aand in jou gastekamers en jy sal gou die frustrasies verstaan van ’n bedlamp waarby jy nie kan lees nie, dawerende lugversorgers, los matjies met opkrul hoeke en (’n erge een) geen bankie om jou tas op neer te sit nie.

Miskien moet ek begin om ’n soortgelyke diens aan gaste-plekke te verskaf. Sal dit graag doen. Bel my net by 082-441-0952.

 

© 2019 Die/The Bronberger