Hoe gaan dit met my? PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 22 May 2014 21:56
Untitled Document

Ou Peterjasie laat weet hy het ná diepe oorpeinsing eindelik uitgewerk hoekom daar na die taal wat ons praat, as ons ‘moedertaal’ verwys word. Dit word moedertaal genoem, sê Peterjasie, omdat stomme vader gewoonlik nie veel van ‘n praatkans inkry nie.

Hy sê ook, die huwelik is ‘n instelling waar een persoon altyd reg is. Die ander een is die man.

Maar dan gebeur dit ook dat mense wat ons bitter graag wil hê moet met ons praat, dit nie wil doen nie. Soos die volgende gesprek, wat vir die ware reinheid oorvertel word, van kan getuig. ‘n Man bel op ‘n mooi dag ‘n sekere hospitaal:

“Goeie more, ek sal graag met iemand wil praat wat vir my meer inligting oor ‘n pasiënt wat by julle verpleeg word, kan gee.”

“Wat is die pasiënt se naam?”

“Louis Roux.”

Net ‘n oomblik asseblief, ek skakel u deur na verpleging”

“Verpleging wat praat. Kan ons u help?”

“Ek wil net graag weet hoe dit met Louis Roux in kamer 302 gaan, asseblief.”

“Hou net ‘n rukkie aan, ek skakel u deur na die dokter wat aan diens is.”

“Dr Welgemoed wat praat, waarmee kan ek help?”

“Goeiedag dokter, ek sou graag wil weet wat die gesondheidstoestand van mnr Louis Roux is. Mnr Roux is in kamer 302 waar hy al drie weke deur julle behandel word.”

Net ‘n bietjie asseblief. Ek kry net gou sy lêer.

“Ah, hier het ek dit, laat ons sien. Ja, dit lyk of dit heel goed gaan. Mnr Roux het goed gereageer op die voorgeskrewe medikasie. Hy het gesond geëet, sy bloeddruk, cholesterol en hartklop is normaal en more haal ons hom van die hartmonitor af.

“As dinge in die volgende 48 uur só voortduur, sal sy persoonlike arts hom waarskynlik voor volgende naweek uit die hospitaal ontslaan en sal mnr Roux kan huis toe gaan.”

“Maar, dis fantastiese nuus! Ek is ongelooflik verlig! Dankie dokter. Baie, baie dankie!”

“Dit klink of u erg begaan is oor die pasiënt. Is mnr Roux naby familie van u?”

“Nee dokter, dit is ek, Louis Roux, wat praat. Ek bel hier uit kamer 302 uit. Almal en sy maat loop hier by my kamer in en uit, maar niemand sê vervlaks iets nie. Ek wou maar net hoor hoe dit met my gaan . . .”

 

© 2019 Die/The Bronberger