Plaasskool en Oppermans stap 110 jaar saam PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 22 May 2014 22:02
Untitled Document

Laerskool Witpoort het sy 110e bestaansjaar op 17 April gevier. Nasate van die plaasskool se oorspronklike baanbrekers is vandag nog by die skool betrokke.

‘n Skoolouer, Frikkie Combrink van Tokoza Rose, het spesiaal ‘n Witpoort roos gekweek en geregistreer om dié mylpaal te gedenk. Die langsteel snyblomme is op 17 April aan die skool oorhandig deur Frikkie en sy vrou Ansie.


Meester Bos en sy leerlinge in 1904

Elke skoolkind het ‘n kolwyntjie, versier met die syfers ‘110’, gekry wat deur Adri de Bruyn, ‘n lid van die bemarkingskomitee gebak is.

Laerskool Witpoort het in 1904 met 32 kinders begin in ‘n kamer wat Hendrik Prinsloo van Kameelzynkraal beskikbaar gestel het. Meester Bos het vir 18 maande hier skoolgehou, daarna vir ‘n jaar by Johannes Leoboltus Smit op Vlakfontein en toe vir ses maande by JGS Opperman se plaas op Kameelzynkraal.


‘n Ongedateerde foto van die leerlinge voor die skooltjie

Nasate
Nasate van dié 1904 stigterslede is steeds by die skool betrokke, soos die voorsitter van die beheerliggaam, Jaco Opperman. Die skool se snoepie-tannie, Joey Opperman, se oupa-grootjie, Gert Opperman, het deel van die grond geskenk.

Joey se oupa, Flip Opperman, bekend as Wit Flip, was een van die eerste leerlinge aan dié skool. Wit Flip het later jare self daar onderrig gegee. ‘n Opsigter, Oom Hans, het geglo dat Wit Flip se spook nog by die skool rondloop.


Government Skool, 25 Februarie 1919

Joey se ouma, Jienie Prinsloo, het in 1912 by Witpoort begin skoolgaan, dieselfde jaar wat haar toekomstige skoonpa, JGS Opperman, die nuwe skoolgebou geopen het.

Jienie en Wit Flip se seun, Gert, het in 1934 hier begin skoolgaan. In die sestigerjare het Gert se kinders gevolg en was almal by Juffrou Tokkie Claassen in graad een.


Die onderwyswoning soos hy in 1916 gelyk het

Joey het haar nooiensvan behou deur met ‘n “vreemde” Opperman, Rudolph, te trou. Dié twee het op die familieplaas, Kameelkraal, net langs die skool geboer en Rudolph het by Laerskool Witpoort skool gehou.

Joey en Rudolph se dogter, Roelien, is in 1987 na Juffrou Tokkie se graad een klas en hulle ander twee kinders, Marina en Gerhard, het gevolg. In 2008 was dit die vyfde geslag Oppermans se beurt toe Joey se kleinseun, Gerhard, na Juffrou Tokkie toe is met sy twee boeties, Eric en Kevin, knap daarna.


Skoolbusse en hulle bestuurders in 1949

Meester
Meester Bos was van 1904 tot 1906 prinsipaal by Laerskool Witpoort en is deur Meester van Leeuwen opgevolg tot 1908. Dié een-vertrek skool het op 14 Mei 1907 ‘n Transvaalse Regering staatskool geword

Op 28 Julie 1909 het JGS Opperman van Kameelzynkraal en JL Smit van Vlakfontein elkeen een morg van hulle plase wat aan die plaas Witpoort grens, geskenk. ‘n Nuwe skoolgebou, bestaande uit twee vertrekke en ‘n amptelike onderwyserswoning, is twee en ‘n half jaar later, op 23 Januarie 1912, geopen toe W Mennega hoof was.


Hettie Lombard saam met haar graad twee klas in 1967. Sy was tot in die negentigerjare ‘n graad twee onderwyseres by Witpoort

Die klasse het tot st 6 gegaan, wanneer ‘n skoolverlaterseksamen afgelê is. St 3 tot st 6 was saam in die prinsipaal se klas. Sy assistent het die grade tot st 2 behartig. In die laer klasse het die kindertjies op leie geskryf en elkeen moes sorg vir ‘n botteltjie water en ‘n lappie vir skoonmaak.

Daar was geen sportgeriewe nie en skoolvervoer het uit Goewerment-donkies bestaan. Met oestye is die skool toegemaak sodat die kinders op die lande kon help.


Van links na regs: Gert Opperman; sy dogter Joey Opperman wat in 1964 in graad een was; haar dogter Roelien wat in 1987 graad een toe is; Jienie Opperman, Joey se ouma wat in 1912 op Witpoort in graad een was; en regs, Juffrou Tokkie Claassen, wat beide Joey en haar dogter Roelien in graad een onderrig het

Meester Jan Koelman was prinsipaal van 1914 tot sy aftrede in 1931 en sy groot liefde vir musiek het die Witpoortkoor, waarin leerlinge en volwassenes deelgeneem het, tot gevolg gehad.

Die beknopte onderwyserswoning is in 1919 met twee rondawels aangevul, een vir meester Koelman en die ander vir sy assistent, mnr A de Winter.


Adri de Bruyn het ná ‘n deurnag baksessie vroeg die oggend elkeen van die 400  kolwyntjies wat sy eiehandig gebak en met die syfers ‘110’ versier het, self voor in die saal uitgepak
Foto:  Laurette van der Vyver & Louise Bowen

Frikkie Combrink het ‘n Witpoort roos gekweek en geregistreer om Laerskool Witpoort se 110e bestaansjaar te gedenk
Foto:  Laurette van der Vyver & Louise Bowen
.

Saam
In die 1930’s is die Boschkop, Kleinzonderhout, Knoppiesfontein en Rietfontein skole, en later ook Tweefontein Skool, by Witpoort gevoeg. Die leerlingtal het tot 120 gegroei. In 1938 is nog twee morg grond aan die skool afgestaan en die Kleinzonderhoutbus is in gebruik geneem. Twee nuwe klaskamers is in 1942 gebou en in 1944 is ‘n nuwe skoolbus op die Witpoort-Yzervarkfontein-roete geplaas. Teen 1947 was daar drie skoolbusse wat kinders van Kleinzonderhout, Bapsfontein en Yzervarkfontein vervoer het.


Frikkie en Ansie Combrink het die skoolsaal in ‘n lushof van wit rose omtower
Foto:  Laurette van der Vyver & Louise Bowen
.
.

Dié foto is in 2008 geneem. Joey Opperman staan agter haar kleinkind, Gerhard Jooste. Links van hom is haar dogter, Roelien, en regs is haar pa, Gert Opperman

.

Eers in die vroeë sestigerjare het die skool weer te klein begin word en is aangebou. Die personeel, wat dekades lank uit vier lede bestaan het, het eers in 1976 tot 10 gegroei.

Ten spyte van vele uitbreidings oor die jare is Witpoort steeds ‘n kaalvoet-skool waar almal, soos van ouds, mekaar op die naam ken.

 

© 2019 Die/The Bronberger