Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 29 July 2014 09:24
Untitled Document

Myra en haar Italianer help Boere in Argentinië vestig

Angie Kleijn

Myra is die noemnaam van ‘n Pretoriase meisie, wat in die Engelse Oorlog deur ‘n Hongaarse Sondagkoerant as ‘n ‘Boere-amasone’ beskryf is. Die foto wat van Myra en haar suster en ‘n vriendin die wêreld ingestuur is, is een waar hulle met gewere voor ‘n vierkleurvlag gereed staan.


Myra Güttmann

Wat dié Hongaarse berig nie gesê het nie is dat Myra verwant was aan generaal Piet Joubert, aangetroude familie van Paul Kruger en deel van sy gevolg in Europa, en verwant aan Sammy Marks se vrou, Bertha. Hulle noem ook nie dat Myra later met die bevelvoerder van die verenigde Uitlanderkorps, die Italianer Camillo Ricchiardi, getroud is en dat hulle twee ná die oorlog die Boere, wat nie onder die Britse juk in Suid-Afrika wou leef nie, help repatrieer het na Argentinië.

In die oorlog was Myra ‘n Rooikruis-verpleegster en sy het Camillo Ricchiardi ontmoet toe sy hom in die hospitaal in Pretoria verpleeg het ná hy ‘n ernstige beenwond in die Slag by Colenso opgedoen het.


Myra se ma, Anna Elizabeth Maria Johanna Guttmann, gebore Joubert
Foto: ‘Die President en ek’, G du Plessis

Myra
Verskillende bronne kan maar net nie saamstem oor Myra se regte name nie. Sy word Myra Franzyska Guttman, Hannah Mira Gutmann,Hannah Myra Franciska Guttman-Joubert of Franzyska Salomina Güttmann genoem. Volgens haar man se Italiaanse rekords was haar name Francisca Salomina (Myra) Ricchiardi, gebore Güttmann. Volgens Lombard en Heese se ‘Suid-Afrikaanse Geslagsregister’ was sy Salomina Francisca, gebore op 2 Maart 1883.

Sy was ‘n suster van Frederik Christoffel (Frikkie) Eloff se vrou, Magdalena Elizabeth, gebore Güttmann. Frikkie was Paul Kruger se kleinseun, die seun van Gert Eloff en Annie Kruger.


Kommandant Camillo Ricchiardi, die Italianer wat in die Engelse Oorlog vir die Boere kom veg het
.

Magdalena Eloff, gebore Guttmann, met haar kinders en suster, Myra
Foto: ‘Die President en ek’, G du Plessis

Myra was die dogter van ‘n Poolse gekerstende Jood, Adolf Güttmann, en Anna Elizabeth Maria Johanna (Annie), ‘n nooi Joubert. Adolf was ‘n winkelier van Kuilsrivier en wewenaar, en Annie ‘n weduwee van Charles Cole Bryant. Annie en Adolf is op 1 Februarie 1885 in die Chapel of All Saints in Durbanville, Kaapstad getroud – ná al drie hulle kinders reeds gebore is.

Hulle is in Desember 1894 geskei, vyf jaar ná Annie ‘n hofbevel teen Adolf aangevra het vir die herstel van huweliksregte en, by gebreke aan voldoening, vir toestemming om haar man vir egskeiding te dagvaar.

Adolf het Annie en die kinders in Desember 1886, toe hulle in Johannesburg gebly het en Myra drie jaar oud was, verlaat en sonder taal of tyding verdwyn. Annie het later uitgevind dat hy by Dorothy de Rode in Kaapstad bly.


Die offisiere van die Vreemdelingelegioen. Die bevelvoerder, kapt. Camillo Ricchiardi, staan naaslinks met die ligte jas. Die graaf Pecci, ‘n neef van die Pous, staan heel links. Regs van Ricchiardi staan kapt Max Schiffi (met die veer in die hoed) en heel regs is die hertog Villeneuve de la Colette. Van links sit maj Guiseppe Caldara, die Oostenrykse baron Anton Ritter von und zu Goldeck und Lindenburg, en lt Simon

Italianer
Myra was maar 16 jaar oud toe sy die Italianer, wat 18 jaar ouer as sy was, ontmoet het. Hy is beskryf as ‘n lang, aristokratiese man, belese, ses tale magtig, vrygewig, aktief, toegewyd, aggressief-dapper, godsdienstig en ‘n kampvegter vir die Boere.

Camillo Ricchiardi is op 5 Junie 1865 in Alba in die westelike Italiaanse Alpe gebore. Hy het aan die militêre akademies van Modena, Udine en Pinerolo studeer en het in 1887 luitenant van die vierde Kavallerie-Regiment van Genoa geword.


Sammy Marks se vrou Bertha, ‘n nooi Güttmann, in omtrent 1906

Magdalena Elizabeth Eloff (Güttmann), Myra se suster

Daarná is hy na Saluzzi, waar hy kaptein van die Koninklike Piedmontese Kavallerie geword het. Hy het die garnisoen in 1891 verlaat om militêre adviseur van die koning van Siam te word.

Camillo het die Amerikaanse koerante in die Sino-Japanese oorlog van 1895 verteenwoordig. Met die Italiaans-Abessiniese oorlog in 1896, was hy in Abessinië. Hy was ook korres­pondent vir ‘n Turynse blad in Shanghai en in 1898 het hy in ‘n vrywilligerskorps in die Filippyne teen die VSA geveg.


Camillo Ricchiardi, Italiaanse avonturier en soldaat in die ZAR
.

Dié foto het in die Hongaarse Sondagkoerant, ‘Vasárnapi Újság’, verskyn. Die onderskrif sê: Boere-amasones van Pretoria: mev Eloff, mev Mira Güttmann en mej Flanagan

Korps
Camillo het in 1899 saam met ander Italianers via Lourenco Marques na die ZAR gekom. Hy het in Desember 1899 by die Krugersdorp-kommando aangesluit, maar kry op 6 Januarie 1900 goedkeuring om ‘n Italiaanse vry­willigers­korps op die been te bring.

Dié korps het in Natal geveg en, ná De Villebois Mareuil gesneuwel het, word Camillo kolonel en bevelvoerder van die verenigde Uitlanderkorps of Vreemdelingelegioen. Die Engelse het £2 000 belowe aan die een wat Camillo sou kon vang. Hy is egter swaar gewond en is saam met 20 ander na die hospitaal in Pretoria gestuur waar hy Myra ontmoet het.


Kaptein Camillo Ricchiardi (met die wit hemp in die middel) en Boere by die Hotel Boer in Argentinië

Daar word beweer dat dit Camillo is wat Winston Churchill by die Natalse Chieveley-stasie in die oorlog gevange geneem het.

Die Italiaanse korps is op 22 September 1900 in die omgewing van Komatipoort ontbind. Hulle is deur die Portugese op die skip Styria van die Lloyd Austriaco-redery geplaas en saam met die Ierse vrywilligers na Trieste vervoer. Die reisgeld is deur die Zuid-Afrikaansche Republiek betaal.

Op bykans elke hawe waar hulle aangedoen het, het dié Italianers en Iere betogings teen die Britte gehou en die Boererepublieke se vlae gehys. Terug in Italië het Camillo steun vir die Boere gewerf.


‘Camillo Ricchiardi - Italian Boer War Hero’ deur Mario Lupini

Europa
Myra was saam met die Eloffs deel van president Paul Kruger se gevolg in sy selfopgelegde ballingskap in Europa. Toe Paul Kruger in Marseilles, Frankryk, aangekom het op die eerste been van sy Europese missie, was Camillo op die hawehoof om hom te ontmoet en het die pluiskeile van verskeie Britse toeskouers se koppe geklap toe hulle nie, soos die Franse, hulle hoede vir die president wou lig nie.

In 1901 het Camillo die president se geselskap na Menton aan die Franse Riviera gevolg en het op sy verjaardag, 5 Junie, in Menton met Myra getrou. Dié twee het na Suid-Amerika verhuis, waar Camillo talle konferensies oor die Boere-saak belê en veral uit Argentinië en Uruguay probeer het om die Boere om te haal om 'n nuwe lewe in Suid-Amerika te begin.


Kaptein Ricchiardi en die Italiaanse korps
Foto: Zuid-Afrikahuis

Hy is in 1902 as administrateur van ‘n groep Boere-vlugtelinge in Chubut aangestel. In 'n brief aan sy vorige “wapengezellen” skryf hy in April 1903 uit Buenos Aires dat die Argentynse republiek, wat “uwen heldemoed bewondere”, hulle die vrugbaarste landerye en die rykste weivelde aanbied.

“Honderde Boeren en Burgers zijn hier reeds gevestigd en leven gelukkig en welvarend in hun nieuw vaderland,” lui sy brief.


Die Bronkhorstspruitbrug in die boek, ‘Camillo Ricchiardi - Italian Boer War Hero’

Vernietiging van die Wilgerivierbrug in die boek, ‘Camillo Ricchiardi - Italian Boer War Hero’

Argentinië
Die Boerevolksplanting is deur die Argentynse landbouminister, dr Wenceslao Escalante, aangemoedig. Volgens Eduardo Monteagudo, ’n Argentynse antropoloog wat ’n studie oor die Boere-nasate in Argentinië doen, is die migrasie deur ’n ooreenkoms tussen die Argentynse en Britse regerings gereël.

Die eerste groep families, Visser, Dolten, Behr en De Merillad, het in 1902 voet op Argentynse bodem gesit. Ander groepe het in 1903 (byna 100 mense), 1905 (300 mense) en 1908 aangekom. ‘n Groep het egter na Suid-Afrika teruggekeer ná Uniewording op 31 Mei 1910.


Op die Suid-Afrikaanse-Argentynse monument staan ‘Eer jou vader en jou moeder’, gevolg deur vanne soos: Van der Merwe, Viviers, Kruger, Van Wyk, Visser, Naudé, Van der Walt, Blackie, Botha, Van der Linde, De Bruyn, Joubert, Vorster, Snyman, Du Plessis, Pienaar, Dickenson, Myburgh, Van Heerden, Grobelaar, Edwards, Van Zyl, Venter, Coetzee en Schlebusch

Die Argentynse regering het vir elke familie ’n stuk grond in die yl-bevolkte dorslandgebied van Patagonië, die suidelike deel van die provinsie Chubut, gegee om met skape te boer. Dié Boere-kolonie is later Colonia Escalante gedoop.

Die eerste Boere het onder mekaar getrou en net Afrikaans gepraat. Eduardo Monteagudo sê dat daar nie statistieke beskikbaar is oor hoeveel mense nog Afrikaans kan praat nie, maar dit is bitter min en net die ouer garde. Omdat daar nie Afrikaanse skole was nie, kan min van dié wat nog Afrikaans kan praat, dit lees of skryf.


Nasate van die Boere-Argentyne in Comodoro Rivadavia by die monument

Die soort Afrikaans wat hulle praat word nie meer in ons stede gehoor nie. Hulle praat byvoorbeeld van die Ingelse, ‘n ‘meisiekjend’ en ‘aggentaggentag’ vir 88. Om daarna te luister, besoek http://www.youtube.com/watch?v=udBob1zbpjc.

Daar is vandag na raming sowat 100 Boerefamilies in Patagonië oor en dié wat nie meer boer nie, woon óf op die dorp Comodoro Rivadavia, Argentinië se belangrikste petroleumsentrum, óf in Sarmiento. Die meeste van hulle kan geen Engels praat nie en hulle huistaal is nou Spaans al behou hulle ‘n tradisie van Suid-Afrikaanse geregte en sing ou volksliedjies met groot geesdrif.


Die Suid-Afrikaanse-Argentynse monument in Comodoro Rivadavia is in 2002 gebou om 100 jare van die Boere-gemeenskap in Argentinië te herdenk. Regs lê Suid-Afrika se kaart, in die middel ’n ossewa, en links die Argentynse provinsie, Chubut, se kaart


Die gebou van die Genootskap van Christen Vrouens van die Suid-Afrikaanse Gemeenskap in Comodoro Rivadavia
.
.
.

Terug
Camillo en Myra het nie lank in Patagonië gewoon nie. Hulle het twee kinders gekry en het in 1905 na Buenos Aires getrek en is in 1913 terug na Italië. Dit is hier waar Camillo die eerste van ‘n paar beroerte-aanvalle, wat hom verhoed het om aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem, gekry het.

Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het hulle na Moroko verhuis waar hy op 21 Januarie 1940 in Casa Blanca oorlede is. Myra is bykans 30 jaar daarná in 1969 oorlede. Waar, weet ons nie.


‘n Kaart van die gebied waar die Boere-gemeenskap in Argentinië woon

 

 

© 2020 Die/The Bronberger