Die eerste swaeltjie om terug te keer PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 26 August 2014 08:38
Untitled Document

Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie. Tog word die terugkeer van die eerste swaels elke jaar entoesiasties aangeteken. Van die heel eerste swaeltjies wat gesien word is die witkeelswael, wat al van einde Julie in ons kontrei begin aanmeld.

Die kenners sê hulle kom so vroeg terug, omdat hulle hier by ons broei. Hulle het ook nie so ver om te vlieg nie, omdat hulle in die winter glo net tot Angola, Zambië, Kenya en Tanzanië trek. Swerms van 20 tot 1 000 voëls vlieg van April tot Mei op in Afrika.


‘n Witkeelswael voer haar kuikens in die nes
Foto: Peter Steyn

Die witkeelswael, Hirundo albigularis, is 14–17 cm lank en weeg 16–29 g. Soos ander swaels is sy snawel kort en swak, met ‘n groot gaping. Hy vreet hoofsaaklik vlieënde insekte, wat hy in vlug agternasit, alhoewel hy ook op die grond kan rondpik agter prooi aan.

Sy snawel, bene en voete is swart en sy onderste dele wit. Die boonste dele is ‘n donker metaalagtige blou met ‘n rooibruin voorkop. Sy stert is gevurk en daar is wit vensters in die blou vere.

Dié swael se wit keel en blou-swart borsband is diagnosties. Die gebande oewerswael en Europese swael het ook ‘n wit keel en donker borsband, maar dié is bruin en hulle rugkante is ook bruin. Jong witkeelswaels se rugkante is minder glansend as dié van volwassenes en hulle het ‘n bruinerige voorkop, wat later die kenmerkende rooibruin kleur word.


Witkeelswaels

Dié algemene somerbesoeker bly gewoonlik in paartjies naby aan water en word gereeld naby mensgemaakte strukture, soos damme en brûe, gesien. Hulle broei van Augustus tot Maart, met ‘n piek van Oktober tot Desember, en bou ‘n nessie van mondjiesvol modder. Die nes is in die vorm van ‘n halwe koppie, wat aan ‘n vertikale rots of muur, net onder ‘n dak of rotslyste, vasgemaak word.

Die nessie word met fyn gras, vere of hare uitgevoer en kan jaar na jaar weer gebruik word. Baie nessies word naby of bo-oor water gebou, soos teen ‘n watertenk, damwal of brug en dit is interessant dat jong kuikens vir kort afstande kan swem as hulle per ongeluk uit die nessie val.

Die wyfie lê twee tot vyf wit eiers met bruin en blou spikkels, wat na 15 tot 18 dae uitbroei. Sy broei alleen, maar die kuikens word deur altwee ouers gevoer en kan na 18 tot 25 dae begin vlieg. Kuikens kom die eerste twee weke saans terug om in die nessie te slaap.

Witkeelswaels kan meer as een keer ‘n seisoen broei.

 

© 2019 Die/The Bronberger