Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 26 August 2014 08:38
Untitled Document

AO Wynand van der Merwe

Honde is van die beste beveiligingsmiddele op plotte en plase. Ongelukkig weet misdadigers dit ook en sal baie keer voor ’n diefstal of roof die diere vergiftig.

As van jou honde skielik vergiftig word is dit baie keer ’n teken van so ’n voorgenome poging. Wees ekstra paraat en meld die voorval by die polisie aan sodat ekstra patrollies in die omgewing gedoen kan word.

Wees ook versigtig vir vreemdelinge op jou perseel, veral in die aand. Probeer om besoeke van onbekende mense soos loodgieters en elektrisiëns eerder in die dag te doen en vra vir identifikasie, selfs al blyk dit dat die persoon ‘n lid van die polisie is.


Adjudant Offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Van die kriminele doen hulle voor as polisiebeamptes en dra selfs uniforms. Geen regte polisiebeampte sal omgee om sy identifikasiekaart te wys nie. Indien jy onraad vermoed, sluit die deure en kontak die polisiestasie. Sê vir die persoon dis wat jy doen. ’n Ware polisiebeampte sal wag, maar ’n krimineel sal vlug.

Hou deure en veiligheidshekke toe en gesluit, veral in die aand. In verskeie voorvalle wat aangemeld word, blyk dit dat die deure oop was terwyl die inwoners by die huis was. Die rowers verkry so toegang tot die huis, soms sonder dat die inwoners eers geweet het daar is betreders in die huis.

Moenie ’n sagte teiken word nie. Misdadigers hou teikens dop voor hulle toeslaan. Probeer om nie ’n roetine te volg nie. Dit vergemaklik die aanval, waar as jy jou roetine verander, dit moeiliker word vir ’n onverwagte aanval.


‘n Hond bly jou beste vriend as dit oor beveiliging gaan

Wees ook waaksaam wanneer jy uit was en terug kom by jou huis. Let op na jou honde se gedrag. Jy weet hoe hulle gewoonlik reageer wanneer jy by die huis kom. Wees uiters versigtig as hulle vreemd optree of heeltemal weg is. Skakel eerder die polisie of jou sekuriteitsmaatskappy voor jy die perseel betree. Wag vir hulp en begeleiding saam met die instansie.

Net ’n laaste punt wat aandag verg. Mense, asseblief, moenie wild en wakker skiet nie. Daardie rondte moet iewers grond toe. Jy maak die bure senuweeagtig. Skote word gehoor, maar geen hulp word gevra of inligting gegee hoekom daar geskiet word nie.

Dit het noudie aand weer op Mooiplaats gebeur. Dit het soos oorlog geklink. Niks is by die polisie aangemeld nie. Dit is nog onbekend wat die rede vir die skietery was. Onthou, wees verantwoordelik met jou vuurwapen.   

 

© 2020 Die/The Bronberger