Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 26 August 2014 08:43
Untitled Document

Waar kom Wapadrand se naam vandaan? Lank voor daar ‘n voorstad was, het ‘n wapad, wat met die goudstormloop as die hoofpad tussen Johannesburg en Pelgrimsrus gebruik is, deur die Bronberg geloop.

Dié maand vra Eric Bolsmann in ‘n artikel op bl 21 of die Frans Oerder skildery genaamd ‘Wapadrand’ werklik ‘n weergawe van dié wapad deur die Bronberg is.


Koos Reyneke, een van Wapadrand se stigters het in 2002 vir ons gewys waar die
ou wapad geloop het

In November 2002 het Koos Reyneke, een van die oorspronklike stigters van dié dorpsgebied, vir Die Bronberger gewys waar die ou wapad geloop het.

Koos het vertel dat die stilhouplekke langs spruite en by fonteine die wapad se roete bepaal het. Die goudbegeesterdes se eerste stop van Johannesburg af, was by Halfweghuis. Daarna breek die wapad weg van die ou Johannesburg/Pretoria pad by Sesmylspruit en mik na die tweede stilhouplek by Wapadrand.


Die dammetjie in Disselboomstraat, wat moontlik op Frans Oerder se skildery is

Hier het die wapad wes van Hans Strijdomrylaan geloop om die spruit te volg wat vandag toegegooi is. Van die spruit af het die wapad gedraai na Lynnwoodweg-verlenging tot by die Zwavelpoortspruit.

Koos het gesê dat die pad dié spruit so min of meer parallel met die Boschkoppad gevolg het. Die derde stilhouplek was waar ‘n mens afdraai na die Rhenosterfonteinpad. Daar is sterk fonteine so paar kilometer in dié pad af op die plaas Kleinfontein, wat ook die plek was waar die wapad gevurk het – die een pad Bapsfontein toe en die ander na Bronkhorstspruit. Dié vurk was ‘n belangrike afsaalplek op die hoofpad na die ou Oos-Transvaal.


Die dorpsgebied, Wapadrand

Koos, ‘n argitek wat ook betrokke was by die restourasie van Pelgrimsrus, was een van die oorspronklike stigters van die dorpsgebied Wapadrand en dit is danksy sy kennis van die ou wapad dat dié voorstad se straatname vernoem is na die onderdele van ‘n ossewa. Hy sê toe hy die eerste keer deur dié stuk grond geloop het, daar nog oorblyfsels van ou waens knap by die Bronberg gelê het.

Koos het vertel dat ‘n klomp mense van die Campus-groep destyds saamgespan het om agt plotte – ongeveer 107 hektaar – langs die Bronberg te koop en aangebied het om self dienste te verskaf.

Blykbaar het hulle om dié rede binne ‘n week ‘n dienssertifikaat gekry.

Die dorp Wapadrand is in 1983/4 geproklameer.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger