Werkers se rol in landelike beveiliging PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 27 October 2014 21:46
Untitled Document

Plot- en plaaswerkers en landelike veiligheid gaan hand aan hand. Van die werkers is al jare by die werkgewer. Werkers op ‘n plaas of plot het baie kere meer van ‘n “oor op die grond” as wat die eienaars het. Daarom is ’n goeie verhouding tussen werkers en werkgewers belangrik om die veiligheid van die eiendom en inwoners te verseker.

Nuwe werkers moet met groot oorleg aangestel word en navrae aan vorige werkgewers moet liefs nagegaan word. Hou ook ’n afskrif van al jou werkers se persoonlike besonderhede op lêer – van identiteitsdokumente tot besonderhede van huisadres en naaste familie, soos ouers of ander direkte familie wat nie op die perseel woon nie.

Probeer om gereeld met jou werkers te praat oor veiligheid. Soms sien of hoor hulle van vreemde of verdagte persone in die omgewing voor die werkgewer daarvan bewus is. Sulke inligting kan misdaad bekamp as dit betyds bekom word. Die werkers moet die vrymoedigheid kan hê om met die werkgewer oor sulke voorvalle te praat.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Net soos jou eie woning, is dit raadsaam om jou werkers se behuising te beveilig met ‘n heining en beligting. Werkers kan ook geteiken word vir aanvalle. Hetsy dit nou is om hulle as persoon te benadeel of om inligting oor die eienaars te kry in die beplanning van ‘n aanval.

Beplan saam met jou werkers ‘n manier waarop hulle jou kan waarsku oor dreigende gevaar. Selfone is seker die maklikste, alhoewel ander metodes ook gebruik kan word soos noodknoppies of fluitjies.

Nog ’n wenk wat kan help, is die gebruik van kodewoorde in noodgevalle. Dit kan vir jou en jou gesin ook werk, nie net tussen jou en jou werkers nie. Dit gebeur dikwels dat misdadigers werkers en selfs van jou gesinslede dwing om oproepe te maak om jou onder valse voorwendsels uit die huis te kry of om jou na ‘n ander plek in jou huis te lok, waar die misdadigers vir jou wag.

‘n Subtiele kode kan jou betyds waarsku dat die oproep onder dwang gemaak is en dat daar gevaar is, sonder dat die misdadigers dit weet en dan gewelddadig optree teen die persoon wat moes bel.

Jou huis- en kluissleutels moet ten alle tye onder veilige bewaring wees om te keer dat kopieë gemaak kan word. Moenie jou huis- en kluissleutels aan dieselfde bos hou nie. Sou jy vermoed dat daar met jou sleutels gepeuter is, vervang so gou as moontlik die slotte en sleutels.

Wees paraat en wees veilig.

 

© 2019 Die/The Bronberger