Boerejode soos Jakkals en Wolf maak hulle merk in oorlog Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 27 October 2014 23:52
Untitled Document

Angie Kleijn

Jakkals en Wolf was die byname van twee Boerejode wat in die Engelse Oorlog vir die Boerekant gespioeneer het. Die wedervaringe van dié twee, asook karakters met byname soos die ‘Mak Joodjie’ en ‘Paul Kruger se Jood’, is iets wat nie sommer in geskiedenisboeke na vore kom nie.

Ongeveer 300 Jode het saam met die Boere geveg. ‘n Beraamde 250 van hulle het in die kommando’s diens gedoen en omtrent 50 het as wagte in dorpe en krygsgevangekampe opgetree. Tog was daar nooit ‘n ‘Joodse Brigade’ nie.

Joodse vrywilligers is in verskeie kommando’s opgeneem en ‘n aantal staaltjies is van die skertse onder kommandolede vertel, soos die een van die ou Joodse man wat met ‘n skermutseling nie vinnig genoeg skuiling kon vind nie. Hy het sy kop agter ‘n kleinerige klip probeer wegsteek. Die doodse stilte wat geheers het ná die spervuur, is verbreek deur die Jood se stem. “Gert,” het hy na sy buurman agter ‘n groot rots geroep. “Hoeveel vir jou klip?”


Die eerste Jood wat in die oorlog dood is, was ‘n Pretorianer, die 60-jarige Harry Spanier

Harry
Die eerste Jood wat in die oorlog dood is, was ‘n Pretorianer, die 60-jarige Harry Spanier. Hy was ‘n genaturaliseerde Transvaler, voorheen ‘n Amerikaanse burger van Columbus, Ohio, en het op 12 Desember 1899 by Surprise Hill naby Ladysmith aan die Natalse front gesneuwel.

Sy begrafnis is in Pretoria gehou en is deur Paul Kruger bygewoon. In ’n toespraak het Paul Kruger gesê: “Ag, barmhartige God, selfs Abraham se kinders het ons in ons nood help veg.”

Die Pretoriase Hebreeuse gemeenskap is tussen 1890 en 1895 gestig en hulle eerste sinagoge in Paul Krugerstraat is in 1898 ingehuldig. Jode het sedert dié dorp gestig is in Pretoria gebly. Die eerste Joodse setlaar in Pretoria was ‘n man genaamd De Vries, wat later staatsaanklaer en Volksraadlid geword het.

Blykbaar was daar ‘n hoë persentasie Hollandse Jode in Pretoria, omdat Paul Kruger Hollanders in die 1890’s aangemoedig het om die ZAR se staatsdiens te beman. Daar was ‘n paar Duitse Jode, maar die meerderheid was van Litaue, Latvia en Rusland. Slegs ‘n handjievol van hulle is in ‘n Boererepubliek gebore. Hulle kon nie Engels praat nie, en baie van hulle het eers Afrikaans geleer, omdat dit nader aan Jiddisj is.


Linda Nathan, Mary Kluk, Rabbi Moshe Silberhaft, David Saks en Ronnie Herr by die Joodse Anglo-Boere-oorlog Gedenkteken wat op 6 Augustus 2012 langs die Burger Gedenkteken op Platrand, buite Ladysmith, onthul is

Duisende Jode wat vir hulle lewens uit Rusland gevlug het, het in die 1880’s deel van die goudstormloop in die Transvaal geword. Hulle is in die Boeremagte opgeneem, maar is nie deur die Russiese vrywilligers, wat in die Vreemdelingelegioen kom veg het, as Russe aanvaar nie. Dié het ‘n aparte Russiese kommando in die Boeremagte gestig en het geweier dat Jode daar mag aansluit.
Die ironie is dat die Britte ná die oorlog groot hoeveelhede Boerejode van Russiese oorsprong na Rusland, waar dood op hulle gewag het, teruggestuur het.

Van die Russiese Boerejode wat bekendheid in die oorlog verwerf het, was kommandant Kaplan, kommandant Isaac Herman, Joseph (Jakkals) Segal en Wolf Jacobson.


Die boek, ‘Boerejode, Jews in the Boer armed forces, 1899 – 1902’, is deur David Saks geskryf en gebaseer op inligting wat in die veertiger jare deur die destydse hoofrabbi en amateur-geskiedkundige, Louis Rabinowitz, opgeteken is

Jakkals
Jakkals was maar 16 jaar oud toe die oorlog uitgebreek het en hy as verkenner by generaal Christiaan de Wet se kommando aangesluit het. Hy is later gekies om generaal JBM Hertzog op sy berugte strooptogte in die Kaapkolonie te vergesel.

Jakkals se naam word gewoonlik saam met die van Wolf Jacobson, nog ‘n bekende Boerejoodse verkenner en spioen in Hertzog se kommando, genoem. Dié twee het glo ‘n gedugte spioenasiespan gemaak en dit is juis oor Wolf se naam, dat Joseph ‘Jakkals’ gedoop is.

Jakkals is in Latvia gebore. Sy pa, Avram, het ‘n winkel in Philippolis in die Oranje-Vrystaat oopgemaak en die familie het nooit leer Engels praat nie. Avram se winkel is deur die Britte afgebrand omdat hy die Boeremagte van noodsaaklikhede voorsien het.


Wyle hoofrabbi van Suid-Afrika tussen 1945-1961, Louis Rabinowitz

Jakkals het beroemdheid verwerf toe hy deur die Oranjerivier in vloed geswem het om versterkings te bring en generaal De Wet se kommando so gered het. Hy het later ‘n sertifikaat van De Wet gekry waarin die generaal verklaar het dat hy Jakkals goed ken en dat hy “sy plig as ’n Boer dapper en getrou” gedoen het. Hy het ‘n Dekorasie vir Getroue Diens ontvang.

Ná die oorlog het Jakkals in die Smithfield-omgewing gaan boer en noue bande met generaal Hertzog bly handhaaf, selfs nadat hy eerste minister geword het.

In die twintigerjare, ná Hertzog Joodse sakemanne in ’n toespraak blameer het vir die Afrikaners se lyding, het Jakkals na Bloemfontein gery om ’n verskoning van Hertzog te gaan eis.

Jakkals het ook een keer ‘n ‘Greyshirts’ vergadering in Smithfield bygewoon. Dinge het glo vir hom ‘n bietjie begin skeefloop, tot hy opgestaan het en gesê het: “Ek is Jakkals wat vir die Boere geveg het.”


Die agterkant van die boek, ‘Boerejode’, het ‘n aanhaling van Joseph ‘Jakkals’ Segall. “Ek [het] na Suid-Afrika as ‘n kind gekom, en ek [het] altyd die land lief gehad asof ek hier self gebore is. Ek het gevoel dat ek my man moet staan en, as dit nodig is, my lewe gee, vir die ou Vrystaat.”

Jeannot
Die meeste Joodse Vrystaters, soos Herbert en Otto Baumann en Jeannot Weinberg, het aan die westelike front geveg. Jeannot was ná die Slag van Modderrivier een van die sewe dapper manne wat ’n koppie teen ’n Engelse regiment verdedig het.

In ’n brief aan sy pa het hy egter geskryf dat hy twyfel of die ophef wat oor hulle gemaak word verdien is, want volgens hom was hulle meer domastrant as dapper.

Jeannot was ‘n paar dae later in die Slag van Magersfontein, waar die Boeremagte die Britse leër oortuigend verslaan het. Hieroor skryf hy op 17 Desember 1899: “Woensdag en Donderdag het daar steeds 116 lyke op die slagveld gelê. Generaal Cronje het die Engelse generaal gevra of hy die mense moet begrawe en of die Engelse dit self gaan doen. Eers toe het die ambulanse gekom om die lyke met sand toe te gooi. Die grafte was so vlak dat die voete nog uitgesteek het. Die stank is verskriklik en aasvoëls vlieg oral rond.”


Generaal De Wet se kommando. Die man in die middel met die langer baard is generaal Kolbe. Regs van hom op die foto is kommandant Pretorius

Kruger se Jood
Johannes Stephanus Jacobus Arnhold, bekend as ‘President Kruger se Jood’ het sy voorname aangepas ter ere van dié president vir wie hy geveg het. Hy het in die Staatsartillerie gedien voor hy op Kestrolhoogte, Wakkerstroom gevang is.

Ná die oorlog het hy sekretaris van die Transvaalse en Militêre Bond van die ou ZAR geword en was vir ‘n ruk opgesluit omdat hy geweier het om in 1914 teen die rebelle te veg.

Hy het blykbaar na generaal De Wet, wat hom ‘Christianie’ genoem het, in sy laaste dae omgesien. Op De Wet se sterfbed het hy vir Christianie gesê om met ‘n Boeremeisie te trou en goeie Afrikaanse bome te plant, nie onkruid nie.

Christianie het egter nooit getrou nie en toe die destydse hoofrabbi en amateur-geskiedkundige, Louis Rabinowitz, in die veertiger jare navorsing oor Boerejode in die Engelse Oorlog gedoen het, het hy Christianie in Wonderboom gekry. Christianie het as ‘n armblanke op sy oudstryderspensioen en gunste en gawes van sy Afrikanervriende, geleef. Hy is in ‘n stadium na die Pretoriase Tehuis vir Bejaarde Jode gestuur, maar het na drie dae gevlug en was vir die res van sy lewe bang om terug gestuur te word.


Roland Schikkerling, skrywer van ‘Commando Courageous: A Boer’s Diary’. Hy het op 19 jaar oorlog toe gegaan en gebly tot die oorlog in 1902 verby was

Russiese rebel
Chaim David Judelewitz, die 24-jarige ‘Russiese rebel’ was een van die min wat dit reggekry het om te ontsnap ná generaal Piet Cronjé by Paardeberg gevange geneem is. Hy was ‘n kort mannetjie, maar met die beleg van Kimberley het hy dit reggekry om sewe Skotse troepe eiehandig te vang.

Hy is tot veldkornet bevorder en was later by die Prieska-rebellie teen Britse heerskappy betrokke. Ná die rebellie deur die Britte onderdruk is, het ’n groepie Boere onder Chaim se bevel met plundertogte in die Noord-Kaap voortgegaan.

In Mei 1900 is hulle op Kanoneiland in die Oranjerivier naby Upington deur ’n groot Britse mag verras en is Chaim doodgeskiet.


Paul Kruger by ‘n sinagoge

Uitlanders
Nie alle Jode wat aan Boerekant geveg het was landsburgers nie. Daar was ook baie Europese en Russiese vrywilligers. Een van hulle was Leopold Lewe, wat uit ‘n ryk familie in Kovno gekom het en ‘n luitenant in die Russiese berede magte was toe hy en twee mede-offisiere besluit het om uit die weermag weg te glip om die Boere te gaan help. Leopold het aan verskeie guerrilla-optredes deelgeneem, soos om ammunisie-treine te kaap. Ná die oorlog het hy sy fortuin as diamanthandelaar gemaak en in Kaapstad gaan woon.

Nicholas David Kaplan was ‘n veteraan van die Russiese weermag. Een van sy Boeremakkers, F Zeiler, het van hom gesê dat hy nou wel soos ’n bondel wasgoed op ’n perd sit, maar waar verstand nodig was om die Engelse te uitoorlê, was sy plan altyd van die bestes.

In sy boek, ‘Commandoes Courageous’, skryf Roland Schikkerling dat Nicholas nie ’n bangbroek was nie. “Een keer het hy na ’n blokhuis gekruip met twee bomme om sy nek gepak in ’n saalsak.” Nicholas het baie maal vir die troepe die treinspoor met dinamiet gelaai “en waar hy die skoot geplant het, was die ontploffing ook ’n seker ding”.

Nicholas het glo ook gereeld as beroepswedder opgetree as die kommando ‘n perderesies gereël het.
Nathan Kasrils, oupa van Ronnie Kasrils, was ‘n skerpskutter en spioen in die oorlog. Dit blyk of hy as Boere-agent in die ‘Kimberley Mounted Rifles’ gedien het.


Generaal de Wet en sy staf op Potchefstroom in 1901
Foto: Zuid-Afrikahuis

Gevang
Meer as 80 Jode is in die oorlog gevang en in krygsgevangenekampe in Natal, Kaapstad, Ceylon, St Helena, Bermuda en Indië aangehou. Jakkals is twee weke voor die einde van die oorlog gewond. Hy, sy pa Avram, en dié se broer, Moshe, is al drie in die oorlog gevang.

Wolf was ‘n bittereinder en is nooit in die oorlog gevang nie.

David Lewis Cohen is gevang nadat hy gewond is. Sy enkel is met generaal Smuts se Kaapse inval op 17 September 1901 deur ‘n koeël vergruis in die aanval op ‘n Britse kamp naby Cradock. David se wond het gangreen opgedoen en hy moes agtergelaat word.

Deneys Reitz, wat saam met David geveg het, sê dat hy ‘n baie droë sin vir humor gehad het. Toe hy deur die Britte gevang is het hulle hom gevra hoekom hy as ‘n Joodse uitlander vir die Boere kom veg het. David het glo gesê dat hy vir die ‘franchise’ baklei.


Generaal Christiaan Rudolf de Wet

Joel Duveen was ‘n bittereinder wat op die ou einde in 1904 aan swartwaterkoors dood is. Hy het geweier om die laaste ure van sy lewe op die bed van ‘n plaaslike Engelse winkelier te lê, omdat hy nie op ‘n Engelsman se bed wou sterf nie.

Jeannot Weinberg is ná die val van Bloemfontein gevang en weer vrygelaat, maar weer gearresteer en na die Groenpunt-kamp in Kaapstad gestuur omdat hy terug gepraat het met ‘n Britse offisier. Hy het probeer om ‘n tonnel onderdeur die doringdraad te grou, maar is deur een van sy medepligtiges verraai en na Ceylon gestuur.


‘n Tipiese algemene handelaarswinkel in 1900, waarskynlik soos die een wat Jakkals se pa
bedryf het

Nog ‘n algemene handelaar soos dié wat rondom die 1900’s in die platteland te siene was
.

Ceylon
Jeannot was vir omtrent ‘n jaar in Ceylon waar hy Franse klasse gegee het en lesse in boekhou gekry het. Hy is as ‘n Rus geklassifiseer en moes saam met ander uitlanders na ‘n kamp by Ragama gaan. Hy het bitterlik hieroor gekla omdat al sy vriende Afrikaans was.

Die 19-jarige Marcus Sacks, bekend as die ‘Mak Joodjie’ is by Spioenkop gevang en het ook op Ceylon beland. Dit is hier waar hy sy roeping ontdek het. Die meeste krygsgevangenes het baie ure gehad om handwerk, wat vandag nog in museums te siene is, te doen. Die Mak Joodjie het baie tyd spandeer om ornamente van enige materiaal wat hy in die hande kon kry, te maak en dit het die basis van sy lewenslange loopbaan in die maak van speelgoed gevorm.

Die Joodse Anglo-Boere-oorlog Gedenkteken is op 6 Augustus 2012 langs die Burger Gedenkteken op Platrand, buite Ladysmith, onthul.

 

© 2020 Die/The Bronberger