PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 18 September 2008 00:53
Untitled Document

’n Ou begraafplaas met meer as’n dosyn grafte is onlangs deur padwerkers met die verbreding van Garstfonteinweg gevind. Een van die leesbare leiklip-grafstene dra ’n datum van 1908. Stootskrapers en kettingsae het dié begraafplaas naby die ingang van Woodhill Gholf Landgoed en die kruising van Garstfonteinweg met De Villebois Mareuilrylaan per ongeluk blootgelê.


’n Grafsteen van een van die grafte wat langs Garstfonteinweg gevind is.
Foto’s: Anton Jansen

Die padwerkers het eers net een ou grafsteen in die lang gras sien lê toe hulle besig was om ’n historiese bloekomlaning, wat die oprit gevorm het na die destydse Wolfaardt melkplaas, te sloop. In Die Bronberger van Januarie 2005 het erfenis- en restourasiekonsultant, Anton Jansen, die verhaal van Wolfaardt Landgoed met sy historiese huise, damme en leivore vertel. Nou het een van die laaste bewyse van dit wat eens ’n spog melkplaas was – die bloekomlaning - gesneuwel ter wille van ontwikkeling, sê Anton.

Hy is ontsteld oor die owerhede se gebrek aan oorleg wat die vernietiging van ons land se erfgoed tot gevolg het. Gelukkig sê hy, kan die oorskotte wat die padwerkers gevind het nie net ‘gestort’ word nie. Daar moet, volgens wetgewing, nagevors word wie daar begrawe is en sekere prosedures moet
gevolg word.

Verskuif
Raadgewende ingenieurs, EDS Engineering, het intussen spesialiste aangestel om die naasbestaandes van die dooies op te spoor en dan die grafte te verskuif. Volgens Henk Steyn, besturende direkteur van Professional Grave Solutions, ’n maatskappy wat spesialiseer in die verskuiwing van grafte, sal dié proses ongeveer drie maande neem.

Hy sê dat as die naasbestaandes nie opgespoor kan word nie, hy sal aansoek doen vir die nodige permitte om die oorskot na die naaste begraafplaas, in dié geval die Pretoria-Oos-begraafplaas, te skuif.

Die plek waar die begraafplaas gevind is, is nou omhein en geen konstruksiewerk word daar gedoen nie. Volgens Garnet van der Walt van EDS Engineering is dit ’n kleinerige gedeelte wat nie ’n groot invloed op die opgradering van die pad het nie. Hy sê die pad behoort teen Februarie volgende jaar klaar te wees, maar dat die opening van die nuwe Parkwoodwinkelsentrum uitgestel mag word.

Die ingang van die sentrum is op’n gedeelte van die gebied waar die grafte ontdek is.“Mag die owerhede tog die wysheid hê om ’n gedenkteken langs die pad op te rig wat aandui wat ’n eeu gelede hier gebeur het,” sê Anton Jansen.

Anton sê in enige beskaafde land sou die owerhede in konsultasie met die bewoners en erfenisbewaringliggame’n openbare debat oor die vernietiging van erfgoed, soos’n historiese bloekomlaning, gevoer het. Hoë snelheid spoorwegprojekte is vir jare in Europa vertraag omdat kersieboorde in die pad gestaan het.

Laning
“Sou jy sestig jaar gelede met dit wat nou Garstfonteinweg is verby Eastwoodlokasie gery het, rigting Welbekend, was daar ’n eenvoudige klipmuuringang na die melkplaas. Later is die pad verlê en moes Wolfaardt ’n nuwe ingang bou, maar nog steeds het ’n mens deur die historiese bloekomlaning gery,” sê Anton.

Mettertyd het die grondpad’n teerpad geword en is die grond aangekoop deur die destydse Stadsraad van Pretoria. Stadigaan is geskiedenis vernietig toe beide plaashuise gesloop is om plek te maak vir Woodhill Gholf Landgoed.

“Veral die sloping van die latere huis van die 1920’s was barbaars, want dit was ontwerp en gebou deur die befaamde Herman Horstmanshof,” sê Anton.

Anton sê dat die stadsraad en sekere ‘erfeniskonsultante’ ondanks pleidooie van bewaringsliggame om die melkplaas te bewaar, dit beter geag het om die erfenisterrein te ontwikkel om miljoene te verdien.

“Dis verby, gedane sake,” sê hy. “Nou kom ’n nuwe fase. Garstfonteinweg moet verbreed word want Woodhill-, Mooikloof-, Rietfontein- en Grootfonteinbewoners se skool- en werkaktiwiteite is in Pretoria, en Garstfonteinweg is net te beperk om die verkeer te hanteer veral met nuwe winkelkomplekse wat in aanbou is.”

Dan neem stootskrapers en kettingsae oor en vernietig die laaste bietjie van ons historiese getuienis sonder oorleg.


S word die historiese bloekomlaning langs Garstfonteinweg vernietig. Pretoria-Oos Hospitaal kan in die agtergrond gesien word.

 

© 2019 Die/The Bronberger