PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 24 November 2014 21:59
Untitled Document

Wynand van der Merwe

Dit is weer die einde van die jaar. Kersfees is net om die draai en vir baie van ons beteken dit ‘n lang vakansie, lekker eet en baie persente. Maar vir een gesin van Kleinfontein is dit nie beskore nie.

Op 7 November om 8 vm het die Kruger-gesin se huis op Kleinfontein landbouhoewes tot op die grond afgebrand. Niks kon gered word nie. Talle van hulle diertjies is ook dood of beseer in die brand.

Terwyl ek nog op die toneel was, het inwoners van die gemeenskap begin om onder mekaar reëlings te tref om die gesin te help. Die verslae uitdrukkings op daardie gesin se gesigte sal my lank bybly. Die gemeenskap se vrywilligheid om te help sal my langer bybly. Ek het daar weereens besef dat ons Vader wel oor ons waak.

As iemand enige bydraes wil maak om die Kruger-gesin te help kan julle Claudia Beyers by
072-372-6077 bel.

Die weer is warm en droog die tyd van die jaar – ideale omstandighede vir weghol veldbrande wat groot skade kan veroorsaak. Dit is raadsaam om die nodige voorsorg te tref om brande te bekamp en oop vure te vermy. Die 24-uur-nommer vir die brandweer se rampbestuur is 012-358-3600. Van die beheerkamer af kan die omroeper die regte omgewing se brandweer uitstuur.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Rommel
Dit het ook onder my aandag gekom dat daar ’n groot probleem is met onwettige rommelstorting in ons omgewing. In die laaste landelike beveiligingsvergadering het ek die probleem met die Metro Polisie se bevelvoerder van wyk ses bespreek. Die rommelstorters verbreek ’n munisipale verordening en kan beboet word.

Metro Polisie het versoek dat die gemeenskap die volgende moet doen: Neem die voertuig se registrasienommer af. Dis belangrik, as julle kan, om die voertuig daar te hou sonder om in geweld betrokke te raak. Indien dit nie moontlik is nie, laat die voertuig eerder ry.

Skakel die volgende 24-uur-nommer: 012-358 5216, en dien die klagte in. Dit is Metro Polisie se beheerkamer.

Vakansie
Vir die van ons wat eersdaags met ’n welverdiende vakansie gaan, onthou asseblief die volgende: Kry iemand betroubaar om na jou perseel te kyk. Sorg ook dat die persoon al die nodige noodnommers het.

Asseblief mense, sê tog net vir die persoon wat jou plek oppas wat die betrokke perseel se adres is.

Ons het al baie voorvalle gehad waar die persoon nie ’n idee het waar hy is nie en die polisie kan dan ook nie betyds by die perseel uitkom nie. Moet asseblief onder geen omstandighede jou geweerkluis se sleutels by die huis los nie.

Diefstal
Diefstal van perde-vervoerwaens en sleepwawiele neem weer toe. Meld asseblief die voorvalle by die polisie aan sodat ons statistieke het. Sodoende kan ons weet waar en hoe om ons patrollies aan te pas. As daar nie voorvalle aangemeld word nie, wys dit nie op ons rekenaarstatistieke nie.

Wees paraat, wees veilig.

 

© 2019 Die/The Bronberger