Garstvontyn ? van Voortrekkerplaas tot voorstad PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 17 September 2008 23:58
Untitled Document

Boere het lank voor Pretoria nog sy naam gekry het, op die plaas Garstvontyn gewoel en gewerskaf. Min het die oorspronklike eienaars geweet dat dié plaas, wat ’n dag te perd buite Pretoria was, in voorstede omskep sou word. Die laaste dele van die plaas is in die 2000’s in sekuriteitsontwikkelings soos Woodhill, Mooikloof Heights, Mooikloof View, Mooikloof Ridge, Mooikloof Manor, Mooikloof Gardens en The Wilds omskep.

Die storie van die plaas Garstvontyn is dié van die eerste Voortrekkers wat in die Pretoria- omgewing kom woon het.

Ons praat nou van bekende name soos die Bronkhorsts van die Fonteine- vallei plase, die Erasmusse van die latere spookhuis en die Rademeyers, na wie die hedendaagse restaurant wat deel van dié plaas was, vernoem is. JGS (Gert) Bronkhorst en sy broer L Bronkhorst was, saam met die Van der Walts en Prinsloos, die eerste Voortrekkers wat hulle in die Fonteinevallei kom vestig het tussen 1832 en 1842.

Die plase Groenkloof en Elandspoort het aan die Bronkhorsts behoort. Een van dié Bronkhorstdogters het getrou met Andries Beetge, die eerste eienaar van die plaas Garstvontyn wat onder die Transvaalse regering die plaasnommer 428 gedra het. Die plaas is vir die eerste keer op 9 Augustus 1841 op Beetge se naam geregistreer deur ’n kommissie van Rustenburg wat deur GJ Kruger gelei is.


Die Rademeyer opstal
Foto: Rademeyers

Plaas
Arrie Faure van The Wilds, ’n sekuriteitsdorp wat vandag vyf persent van die oorspronklike Garstvontynplaas beslaan, het navorsing oor die eienaarskap van dié stuk grond gedoen.

Hy het gevind dat Beetge se oorspronklike plaas “5 079 Morg en 241 Rooden” groot was. Een morg is 600 vierkante roede en 0,8565 hektaar. Die plaas was dus 4 351,523 hektaar groot.

Die Beetges het nie baie dekades op Garstvontyn gebly nie. Volgens Arrie se navorsing is dié plaas op 14 Maart 1859 oorgedra op Jacobus Cornelis Rademeyer se naam. Hy was getroud met ’n dogter van Daniël Jacobus Erasmus van die spookhuis-faam.

Erasmus se huisie op die Krygkorterrein, nou bekend as Denel, gebou in 1860, bestaan nog alhoewel dit herkonstrueer is ’n honderd meter van sy oorspronklike standplaas. Die eerste hartbeeshuisie langs die Wolwespruit het helaas verlore gegaan.

Die tweede Rademeyers opstal (1910) wat nou ’n restaurant in die Moreleta-kloof is, spog vandag steeds met die 1880 opstal, net noord van die historiese silos. Dit is na dié Rademeyers wat die Rademeijerspruit vernoem is. Hy ontspring op die Wingate Park Buiteklub se gronde, vloei deur Moreletapark Natuurreservaat en is ’n belangrike voedingsaar vir die Moreletaspruit.

Dit is met Rademeyer wat die onderverdeling van Garstvontyn begin het. Hy het op 5 Julie 1859’n deel van die plaas verkoop aan MJ de Beer. Toe Rademeyer op 19 Junie 1868 oorlede is, is sy deel van die plaas verder onderverdeel tussen sy ses seuns. Dié onderverdeling het tussen 1875 en 1878 plaasgevind. Dit is in hierdie tyd dat die plaasnommer verander het van Garstvontyn 428 na Garstfontein 374 JR.


Die Erasmuswa wat uit die kultuurhistoriese museum verdwyn het
Foto: Krygkor versameling

Wolfaardt
In 1927 het Jakobus Wolfaardt 1 050 hektaar van die oostelike deel van die plaas gekoop. Die storie van die spog-melkplaas, Wolfaardt Landgoed, is in Januarie 2005 se Bronberger vertel.

Jakobus Wolfaardt is op 16 Augustus 1953 sonder ’n testament oorlede. Daar is besluit om die plaas se bates in vier te deel en nie die plaas self nie. Een deel het aan sy vrou gegaan, ’n deel aan elk van sy twee dogters en ’n deel aan sy seun Pieter William Wolfaardt, wat op die melkplaas aanhou boer het. Rondom 1975 is ’n gedeelte van omtrent 150 morg verkoop aan ontwikkelaar Roque of Rand. Dit het Pieter van genoeg fondse voorsien om sy ma en oudste suster se aandele in die plaasbates te koop. In die mid 1970’s is die Niemandkommissie deur die Stadsraad van Pretoria daargestel om grond te onteien vir dorpsontwikkeling wat deur die stadsraad self gedoen sou word en nie deur ontwikkelaars nie.

Die stadsraad het Wolfaardt Landgoed in 1980 by Pieter gekoop, maar het toe nooit die grond ontwikkel nie, blykbaar omdat hulle hul vingers so verbrand het met die ontwikkeling van die Garsfontein- voorstede.


Pieter Wolfaardt, een van die laaste boere wat ?n stuk van die oorspronklike plaas Garstvontyn besit het waar hy ?n melkplaas bedryf het
Foto: Beeld, Vrydag 26 Maart 1999

Ontwikkel
Pieter het 100 morg van die oorspronklike plaas behou en ’n deel van die plaas gehuur by die stadsraad, wat mettertyd van dié stukke grond begin verkoop het. Die deel waar Woodhill Gholflandgoed vandag staan is deur’n ontwikkelingskonsortium, wat CJ Irons, Kroon & Seuns en EG Chapman ingesluit het, gekoop. Woodhill is op Donderdag 25 Maart 1999 amptelik geopen.

Volgens Arrie se navorsing het ontwikkelaar PJJ Van Vuuren Beleggings in 1998 vier stukke van die grond gekoop. Die eerste deel van 62 hektaar is op 27 Julie 1998 gekoop by Wolfaardt Boerderybelange.’n Tweede deel van 45 hektaar is op 12 Desember 2001 oorgedra vanaf die Tshwane Metropolitaanse munisipaliteit. Die derde deel van 21 hektaar is op 21 Desember 2001 by Wolfaardt Boerderybelange gekoop en die vierde deel van 84 hektaar is op 25 Julie 2002 oorgedra vanaf die Tshwane Metropolitaanse munisipaliteit.

Deel van die munisipaliteit se ooreenkoms met PJJ Van Vuuren Beleggings was dat ’n pad gebou moes word tussen Atterbury- en Garstfonteinweg. Dit is danksy dié ooreenkoms dat De Villebois Mareuil-rylaan daar gebou is. PJJ Van Vuuren Beleggings het besluit om 220 hektaar van die grond te ontwikkel as die sekuriteitsdorp The Wilds.

The Wilds se huiseienaarsvereniging is op 14 April 2003 gestig.


S het die beeste minder as ?n dekade gelede nog rondgeloop op die deel van Wolfaardt Landgoed waar Woodhill-gholflandgoed vandag is
Foto: Anton Jansen

 

© 2019 Die/The Bronberger