Kinders en diere loop vuurwerk-gevaar PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Friday, 12 December 2014 11:43
Untitled Document

Wynand van der Merwe

Die jaar het tot ‘n einde gekom en nou is dit die fees-seisoen: Tyd vir kuier en familiebyeenkomste. In diè rubriek wil ek net ‘n paar items, wat ons feesvieringe in ‘n tragedie kan omskep, aanraak.

Desember en vuurwerke is sinoniem met mekaar. Ons moet weet hoe gevaarlik die vuurwerke werklik vir ons kinders en diere is. Elke jaar word honderde kinders vir beserings wat deur vuurwerke veroorsaak is, behandel. Duisende diere – honde, katte en perde – word weens die nalatige afvuur van vuurwerke beseer.

Daar is streng wetgewing oor die gebruik van vuurwerke. Die wetgewing is daar met ‘n doel, so vergewis jouself eers daarvan. Jy kan by jou plaaslike brandweerdiens navraag doen. Sorg dat jou diere veilig is voor jy jou vuurwerke gebruik en, asseblief ouers, laat julle kinders slegs vuurwerke onder streng toesig gebruik.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Gif
Met die skoolvakansie is daar ‘n klomp kindertjies by die huis na ‘n lang skooljaar en ja, kinders is kinders en hulle is nuuskierig. Op plotte is daar maar gewoonlik gif van watter aard ook al. Hou alle gifstowwe buite bereik van kinders. Verkieslik toegesluit en in die oorspronklike houers. Moenie gif in koeldrankbottels hou nie. Paraffien of lampolie wat by die winkel gekoop word is meestal in plastiese koeldrankbottels. Merk dit as gif en hou dit ook ver buite bereik van klein handjies.

Die Nasionale Gif Hulplyn se tolvrye nommer is 0800-111-229. Indien jy vermoed dat enige vergiftiging plaasgevind het, skakel die nommer dadelik vir advies terwyl jy die ambulans ontbied of self op pad is na die hospitaal. Moet nie ander stappe neem sonder dat dit deur die spesialiste aanbeveel word nie. Jy kan dalk net verdere skade doen.

Slange
Met die warm weer is slange aktief en al is die meeste slange nie skadelik nie, is daar wel ‘n kans dat slang en mens mekaar kan ontmoet. Onthou, sonder slange sal ons rot-bevolking die hoogte inskiet en oeste sal lelik verwoes word. Die beste advies is: As jy ‘n slang in die veld raakloop, laat hom met rus en gaan vêr verby hom. Hy pla niemand daar nie.

As daar wel ‘n slang by jou huis is, is dit beter om ‘n professionele slangvanger te kry om die slang te verwyder as om die slang self te probeer vang. Slegs as ‘n laaste uitweg en as dit veilig is, kan die slang vernietig word, maar dit word nie aanbeveel nie.

Die Nasionale Slangbyt Hulplyn is Netcare 911 met nommer 082911. Sou jy deur ‘n slang gepik word, bly kalm, identifiseer die slang as jy kan, sodat jy vir die hulplyn en mediese personeel kan sê watter soort slang dit was.

Probeer om so min as moontlik rond te beweeg tot mediese hulp opdaag. Ek is nie ‘n gekwalifiseerde paramedikus nie en kan net aanbeveel dat jy ‘n boek kry wat slange en slangbyt behandel. Daar is goedkoop boeke vir onder R100.

Die bestuur by SAPD Boschkop en ons gesinne wens die gemeenskap ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige nuwe jaar. Mag God julle seën en bewaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger