Reuse byeenkoms sonder goedkeuring gehou PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 12 December 2014 11:52
Untitled Document

Die eerste byeenkoms by die omstrede Zion Christian Church (ZCC) Zimbabwe se perseel tussen Rayton en Cullinan het glo sowat 3 000 mense van 14 tot 17 November gelok. Volgens ZCC se hoofkantoor is dié organisasie egter glad nie deel van hulle kerk nie en moet toestemming vir sulke byeenkomste nie gegee word nie.

Grondeienaars langs gedeelte drie van die plaas Rooikopjes op die Zonkolol-pad het op 8 November amptelik kennis van dié byeenkoms gekry. Johan van den Heever, Sunet Smit, Salie Smit, Christo Brand en Gerhard Fourie moes teken dat hulle die kennisgewing ontvang het.


‘n Lugfoto van die byeenkoms

Volgens die kennisgewing is die SAPD en Metro-polisie ingelig en het ZCC Zimbabwe toestemming vir die byeenkoms ontvang. Die kennisgewing is deur Joseph Mageja, ZCC Zimbabwe se algemene sekretaris vir Suid-Afrika, onderteken.

Karen Yssel van die Rayton/Cullinan Gemeenskapspolisiëringsforum het by die SAPD en Metro gehoor dat hulle eers op 11 November oor die byeenkoms ingelig is en dat hulle nie goedkeuring daarvoor verleen het nie.


‘n Sluipfoto van ‘n gedeelte van die byeenkoms

Onbekend
Karen het ook uitgevind dat daar volgens ZCC se hoofkantoor geen ZCC Zimbabwe bestaan nie. Sy het ‘n brief van ZCC se hoofkantoor ontvang wat ook aan SAPD Cullinan gestuur is. Volgens die brief, op die ZCC briefhoof van ‘His grace, bishop dr BE Lekganyane’, word daar redelik driftig gestel dat ZCC Zimbabwe onbekend is aan hulle. Die brief adviseer die SAPD om nie nou of ooit toestemming vir so ‘n byeenkoms te gee nie.

Die SAPD en Metro-polisie kon nie die byeenkoms stop nie, omdat dit op private eiendom gehou is.
“Die byeenkoms was ‘n reuse sukses, maar vir inwoners ‘n nagmerrie. Busse en taxis het die nat pad stukkend gery. Daar was klagtes van dronk mense wat op die pad rondgeloop het,” sê Reline Badenhorst, omgewingsake voorsitter van AfriForum se Rayton/Cullinan tak.

Reline sê dat lugfoto’s deur Premier Mapping aan haar gestuur is om die omvang van die byeenkoms langs die Zonkolol-pad te kan sien.


Mense op pad na die byeenkoms

Aansoek
Inwoners het in Augustus bewus geword van ‘n aansoek vanaf ZCC Zimbabwe om ‘n plek van aanbidding vir 2 000 mense op gedeelte drie van die plaas Rooikopjes 483JR te bou. Volgens ‘n kennisgewing wat op die perseel aangebring is, moes teenkanting die Tshwane Metroraad voor 10 September 2014 bereik.

Inwoners het by die metroraad meer inligting probeer kry oor die aansoek. Volgens dié raad se kantore in Centurion en in die middestad was daar in daardie stadium geen aansoek ingehandig nie.
Reline het ‘n algemene teenkantingsdokument opgetrek en 249 teenkantings teen die projek is verkry.

Die gros daarvan is deur Karen Saunders ingevorder. Joan Du Toit van die Cullinan Bewarea het die teenkanting by die Departement van Landbou gaan aflewer en Dawie Badenhorst jnr by Tshwane Metroraad se Centurion-kantoor.

Intussen is die aansoek om ontwikkeling op die perseel ingedien, maar goedkeuring is nog nie ontvang nie, alhoewel die bouproses voortgaan. Reline sê dat Flip van Staden, bou-inspekteur van die Nokeng-gebied nie bewus was van die bouery nie.


Die tente vanuit die lug

 

© 2019 Die/The Bronberger