Op 84 lei Drienie eerste vroue-optog oor rebelle se lot PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 26 January 2015 21:42
Untitled Document

Angie Kleijn

Honderd jaar gelede het ‘n 84-jarige weduwee van ‘n Boeregeneraal die heel eerste vroue-protesoptog na die Uniegebou gelei. Weduwees, soos Nonnie de la Rey en Mathilde Beyers, en vrouens wie se rebelle-mans in die tronk was, soos Cornelia de Wet, het in dié optog deelgeneem.

Tydgenootlike bronne het beweer dat meer as 6 000 vroue, wat meer as 65 000 vroue landwyd verteenwoordig het, op 4 Augustus 1915 opgeruk het om druk op die regering uit te oefen om veroordeelde rebelle vry te laat. Die ‘Pretoria News’ het egter berig dat daar net 2 500 vroue was.

Die 1914 Rebellie is in September 1914 op die spits gedryf toe eerste minister, genl Louis Botha, die aktiewe burgermag vir die inval van Duits Suidwes-Afrika opgekommandeer het. Die rebelle kon nie insien waarom Suid-Afrika, knap 12 jaar ná die Engelse oorlog, vir hulle aartsvyand teen die Duitsers moes veg nie.


Vroue uit Natal wat aan die optog deelgeneem het
Foto: Otto Husemeyer in ‘Die Brandwag’, 1915-09-01

Genl Koos de la Rey het Botha se oorlogsplanne in die parlement bevraagteken, maar wou nie hê dat broer teen broer moes baklei nie. Hy is op 15 September 1914 dood toe ‘n koeël by ‘n padblokkade hom in die rug getref het. Genl Christiaan Beyers het op 8 Desember 1914 in die Vaalrivier verdrink toe hy as rebelleleier van regeringsmagte probeer wegkom het.

Die meeste van die rebelleleiers is gevang. Boeregeneraal, Christiaan de Wet, is op 1 Desember 1914 ’n ent wes van Vryburg gevange geneem. ’n Spesiale hof het hom in Julie 1915 aan hoogverraad skuldig bevind en tot ses jaar gevangenisstraf en ’n boete van tweeduisend pond gevonnis.

Jopie Fourie het op 20 Desember 1914 voor ’n vuurpeloton gesterf nadat hy, as kommandant van ’n rebellekommando, terwyl hy nog lid van die regeringsmagte was, van verraad aangekla is.


Drienie Joubert, weduwee van die eertydse kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Piet Joubert

Drienie
Hendrina (Drienie) Joubert, die 84-jarige weduwee van die ZAR se kommandant-generaal, Piet Joubert, was een van die vroue wat die mees verslae was oor die rebelleleiers se straf.

Genl Joubert het in die Engelse Oorlog vir Drienie op kommando saamgeneem. Sy kommandolede se vrouens het Drienie se voorbeeld gou gevolg en was konstant besig met die voorbereiding van kos en die omsien na gewondes. Wanneer dit nodig was, het hulle self die geweer opgeneem.

Dit was Drienie se idee om ‘n betoging te hou om vir die vrylating van die veroordeelde rebelle te gaan pleit. Haar seun, Jan Joubert, het haar oorreed om die betoging nie alleen aan te pak nie. Hy het haar gehelp om ’n oproep op te stel wat landswyd aan verskillende vroue-organisasies en koerante gestuur is.

‘n Ope brief in die name van Drienie Joubert en Elsie Eloff, Paul Kruger se oudste dogter, het in verskeie koerante verskyn. Vroue dwarsoor die land is uitgenooi om saam met ’n sentrale vrouekomitee, wat in Pretoria gevorm is, te werk. Vanaf die Kaap tot by die Limpoporivier is vrouekomitees georganiseer en is afgevaardigdes verkies om namens hulle streek ’n versoekskrif aan die goewerneur-generaal, burggraaf SC Buxton, te gaan oorhandig.

Optogte, saamtrekke en selfs betogings is oral gereël en petisies, wat op die begenadiging van die rebelleleiers aangedring het, is op dorpe aan landdroste oorhandig. Telegramme van ondersteuning is na die komitee in Pretoria gestuur en Tibbie Steyn, president MT Steyn se vrou, het van Onze Rust in die Vrystaat vir Emily Hobhouse oor die reëlings geskryf.


‘Vreeslose Drienie – die lewe van Hendrina Joubert’

Komitee
Die komitee-voorsitter was CA Neethling en die vise-voorsitter, Henrietta Armstrong. Sannie van Wyk was saam met Drienie en Elsie die drie ere-presidente. Die koerante het grotendeels na die komiteelede verwys deur hulle mans se voorletters, eerder as hulle eie, te gebruik.

Hulle was Elsie van Broekhuizen (Elsie Eloff se dogter en Paul Kruger se kleindogter), M Marais, G Hofmeyr, T Roos, J du Plessis, Helena Muller, I van Alphen, A Bisschop, N Gey van Pittius, A Roux,
J Bosman, J Joubert, F Beyers, P van der Byl en GS Preller.

Die komitee se plan was om die goewerneur-generaal te vra om genl Christiaan de Wet onmiddellik vry te laat, om amnestie te verleen aan almal wat vir hulle deelname aan die Rebellie gevonnis is, en om diegene wat ná die betoging nog verhoor sou word, vry te skeld.

Vroue het op Maandag 2 Augustus in Pretoria begin aangekom en die komiteelede het as gasvroue opgetree. Op 4 Augustus is die vroue vanaf die hoek van Beatrix- en Vermeulenstraat volgens hulle provinsies in groepe gesit.

Rosette is teen die lamppale vasgemaak om te wys waar die vroue moes aantree. Vooraan was die Vrystaatse vroue onder ’n wit-en-oranje roset. Daarna het die Kaapse vroue onder ’n wit-en-blou en die Natalse vroue onder ’n wit-en-rooi roset gevolg. Die Transvaalse vroue was heel agter onder ’n wit-en-groen roset.

Cornelia de Wet, genl de Wet se vrou, het ‘n swart rok aangehad en het op die agtergrond gebly.

Jacoba Elizabeth (Nonnie) de la Rey, weduwee van genl Koos de la Rey, was in weduweedrag.


Elsie van Broekhuizen (Elsie Eloff, Paul Kruger se oudste dogter, se kind)
Foto: Zuid-Afrikahuis

Nonnie
In die eerste fase van die Engelse Oorlog het Nonnie dikwels vir Koos op kommando besoek. Toe Nonnie die nuus van haar oudste kind se dood ontvang, het sy na haar man op die slagveld gehaas.

Ná lord Methuen vir Nonnie uit haar huis verdryf het, het sy en haar jonger kinders op 1 Desember 1900 met ’n wa en osse, ’n spaider, melkkoeie en ’n groepie bediendes vertrek om tot die einde van die oorlog in Mei 1902, rond te swerf. Nonnie het gesorg dat sy altyd naby haar man se kommando bly.

Koos het ook altyd geweet waar sy vrou en kinders was en het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om hulle te besoek nie.


Die vroue-optog op pad na die Uniegeboue
Foto: Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum

Cornelia
In die Engelse Oorlog is die 44-jarige Cornelia de Wet na Merebank-konsentrasiekamp gestuur. Die lewe in die kamp is met opset swaar gemaak om haar te dwing om generaal De Wet te oortuig om oor te gee.

Op ‘n keer het nog ‘n Britse offisier haar weereens besoek om haar te probeer oortuig om ‘n dokument te onderteken wat haar man sou versoek om die stryd te staak. Sy het die brief en petisie (glo met ‘n klomp vroue-name op) voor die offisier opgeskeur en in sy gesig terug gegooi.

Op haar grafsteen in Dewetsdorp kan ‘n mens vandag nog die brons afbeelding sien van ‘n vrou wat besig is om ‘n brief stukkend te skeur.


Nonnie de la Rey, generaal Koos de la Rey se vrou, in ongeveer 1890
.

Rachel Isabella (Tibbie) Steyn, eggenote van die laaste president van die Oranje-Vrystaat, MT Steyn, in 1944

Bobaas-spioen, Johanna Brandt
.
.
.

Welkom
Voor die optog na die Uniegebou het Drienie almal verwelkom. Mev H Steyn van die Vrystaat het ’n boodskap van haar skoonsuster, Rachel Isabella (Tibbie) Steyn, vrou van die laaste president van die Oranje-Vrystaat, MT Steyn, voorgelees. Tibbie kon weens siekte nie self daar wees nie, en het geskryf dat sy innige dank aan Drienie en Elsie verskuldig was omdat hulle die vroue aangespoor het om so ’n groot en edel werk te verrig.

In die aanloop tot die Engelse Oorlog was Tibbie haar man se getroue bystand. Ná die val van Bloemfontein in 1900 het sy voor die Britse troepe gevlug en ondanks swak gesondheid geweier om na Europa te ontsnap. Sy is later na Bloemfontein teruggestuur waar sy as krygsgevangene ’n voorbeeld van deursettingsvermoë gestel het.

Ná die Vrede van Vereeniging het sy haar man na Europa vergesel, om hom in sy langdurige siekte te versorg. Hulle het in 1905 terug gekeer en Tibbie het haar openbare loopbaan in 1907 as voorsitter van die pasgestigte vroueliga, die Oranje-Vrouevereniging, voortgesit.


Frederiche Adelheid Mathilda König op haar troudag met Christiaan Beyers. Sy was ‘n gesofistikeerde vrou wat Frans, Duits, Afrikaans en Engels vlot kon praat

Versoekskrif
Ná Tibbie se brief, het mev P Roos die versoekskrif aan die vroue voorgelees. Hulle het ’n kort gebed gedoen en het om 2 nm na die Uniegebou begin aanstap.

Gedagtig aan die beledigings wat vroue by ‘n Krugerdag-viering die vorige jaar in Pretoria ondervind het, het mans langs die stoet van vroue geloop om moontlike molesteerders die skrik op die lyf te jaag. Bronne berig dat ‘n sambok of selfs ‘n gevaarliker wapen hier en daar uit ‘n mou of baadjiepant geloer het.


Mev H Steyn lees Tibbie Steyn se boodskap aan die skare voor
Foto: Otto Husemeyer in ‘Die Brandwag’, 1915-09-01

Deputasie
Die deputasie wat die versoekskrif aan Buxton moes gaan oorhandig, het in ‘n voertuig vooruit gery. Die deputasielede, onder leiding van Drienie en Elsie, het vroue uit al vier provinsies ingesluit.

Hulle het reguit na die Uniegebou gery om die pleitskrif vir die rebelleleiers se vrylating in die goewerneur-generaal se kantoor aan hom te oorhandig, terwyl die res van die vroue in die amfiteater gewag het.

Drienie het as woordvoerder opgetree en Buxton gevra om die groot skare vroue te gaan ontmoet en sy antwoord aan hulle bekend te maak. Buxton het egter geweier. Hy het gesê dat hy ingevolge die Uniegrondwet eers die kabinet van eerste minister Louis Botha moes raadpleeg. Botha was daardie dag skynbaar nie in Pretoria nie.

Drienie en haar deputasie het by die ander vroue in die amfiteater by die Uniegebou aangesluit en gerapporteer dat ’n antwoord op die versoekskrif mettertyd na raadpleging met die kabinet verstrek sou word.

Die vroue het met Kerkstraat terug tot by Kerkplein geloop, waar mev Roos die deelnemers bedank het en uitgenooi het om daardie aand ’n kerkdiens by te woon. Hulle is ná samesang uitmekaar.

Die dag na die betoging, Donderdag 5 Augustus, het die vroue by die Nasionale
Dieretuin in Pretoria byeengekom vir ’n onthaal. Hier is toesprake gehou en telegramme van ondersteuning, wat uit alle dele van die land ontvang is, voorgelees.


Cornelia Margaretha en haar man, generaal De Wet
Foto: Zuid-Afrikahuis

Verras
Die volgende oggend het ‘n hele paar van die vroue-afgevaardigdes toevallig in generaals De Wet en Jan Kemp op Pretoria se spoorwegstasie vasgeloop. Hulle was in Johannesburg in die tronk, maar is as gevangenes na Pretoria gebring om in die hooggeregshof te gaan getuienis lewer in ’n ander rebelleleier, ds HD van Broekhuizen (Elsie Eloff se skoonseun), se hofsaak. Die vroue het kans gekry om die generaals van die optog te vertel.  

Op Saterdagmiddag 7 Augustus het die komitee ’n brief van Buxton ontvang waarin hy geskryf het dat sy ministers nie in staat was om aan te beveel dat die rebelleleiers vrygelaat word nie. Hy het gesê dat elke geval mettertyd volgens meriete beoordeel sou word. Die protesoptog het dus nie op die onmiddellike begenadiging van De Wet-hulle uitgeloop nie.

Die vroue was egter oortuig dat die optog positiewe gevolge oor die lang termyn sou hê. Volgens Drienie het dit “die ontwaking van Suid-Afrika se dogters” aangekondig.


Die vroue-optog in aantog
Foto: Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum

Aktief
Daar word gesê dat Afrikanervroue van toe af polities aktief begin word het. Knap voor dié optog, in Julie 1915, het Johanna Brandt die Vrouwen Nasionale Party gestig. Johanna het in die Engelse Oorlog saam met haar ma, die weduwee van Warmelo, ‘n suksesvolle spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse in Pretoria bedryf.

Die Nasionale Vroue-Vereniging is deur Elsie van Broekhuizen gestig en dié twee organisasies het in Oktober 1915 as die Vroue Nasionale Party saamgesmelt.

Vroue het hierná ook aktief by die Helpmekaarbeweging betrokke geraak en die beweging het spoedig afsonderlike vrouetakke gehad.

Die eerste Helpmekaar-beweging is op 15 April 1915 gestig om die Transvaalse en Vrystaatse rebelle van 1914 te help om groot finansiële eise te betaal. Die eise van winkeliers, boere en munisipaliteite, tesame met die boetes wat spesiale howe aan die rebelleleiers opgelê het, was in een stadium £400 000. Deur onderhandeling en hofsake is dit tot £230 000 verminder.

Die Helpmekaar-beweging het landwyd onder hoofsaaklik Afrikaners genoeg geld ingesamel om die hele bedrag af te betaal en nog £100 000 oor te hou.

Generaal De Wet en ’n aantal van die veroordeelde rebelle is in Desember 1915 vrygelaat. Nog ’n klomp is in Mei 1916 en die res in November 1916 vrygelaat.

 

© 2019 Die/The Bronberger