‘Betoging’ oor gesteelde bakkie gehou PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 19 February 2015 22:25
Untitled Document

‘n ‘Betoging’ van ‘n heel ander en rustiger aard as dié waaraan die gebied se mense al gewoond geraak het, is vroeg in Februarie voor die Parkview koopsentrum langs Garstfonteinweg gehou.

Onder ‘n veelkleurige sambreel op ‘n verkeerseiland by die ingang van die sentrum se parkeerplek, het ‘n vrou gesit. Plakkate is op die eiland aangebring waarop staan: “My car stolen @ Parkview Sunday Lunchtime”.

Die vrou was Tania van Remoortere, die dogter van Joanne en Tom Weichelt van Bashewa se bekende Bakkieland.


Tania besig met haar betoging voor die Parkview winkelsentrum

Tania en haar man Charles werk die afgelope vier jaar aan gemeenskapsprojekte in Malawi. Hulle was op besoek aan Pretoria om voorraad te koop, toe hulle bakkie op Sondag 1 Februarie by die Parkview winkelsentrum gesteel is. Die egpaar sou op 3 Februarie met ‘n vol vrag teruggekeer het na Malawi.

Tania het besluit om haar ‘betoging’ te hou nadat die veiligheidmense van die sentrum en die sentrumbestuur glo glad nie hulpvaardig was ná die diefstal van hulle voertuig nie. Hulle het ook vasgestel dat daar in die onlangse verlede etlike misdaadvoorvalle by die betrokke sentrum was. Omdat Charles en Tania skielik met ongevraagde tyd tot hulle beskikking gesit het, het hulle besluit om iets te doen om die gemeenskap bewus te maak van die diefstal.


Die bakkie wat uit die winkelsentrum se parkeergebied gesteel is

Hulle ‘sitbetoging’ het oor twee dae gestrek en in dié tyd het lede van die gemeenskap en die Polisiediens by hulle aangedoen om hulle waardering vir die bewusmakingspoging uit te spreek.

Met die Bronnie se saktyd was die voertuig, ‘n wit Toyota Land Cruiser, nog skoonveld. Die bakkie is nie verseker nie, omdat versekering moeilik bekombaar is vir voertuie wat dikwels grense in Afrika oorsteek.

Charles en Tania se hoop was gevestig op die polisie se speurdiens om die voertuig op te spoor sodat hulle kon terugkeer na Malawi om hulle werksaamhede voort te sit.

 

© 2019 Die/The Bronberger