Twee verkragters se turf sit ná jare PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 19 March 2015 23:37
Untitled Document

Twee geharde misdadigers is ná bykans vyf jaar se volharding deur ‘n vasbeslote ondersoekbeampte, vroeër dié maand op Bronkhorstspruit tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Die twee misdadigers is aan verskeie klagtes van verkragting en gewapende roof skuldig bevind. Die misdade is in die polisiëringsgebiede van Cullinan, Bronkhorstspruit en Sunnyside gepleeg.

George Matsimela is skuldig bevind op drie klagtes van verkragting en vyf van gewapende roof. Hy is tot vier lewenslange tronkstraftermyne en ‘n verdere 19 jaar gevonnis.

Kenneth Mogadime is aan een klag van verkragting en vyf van gewapende roof skuldig bevind en gevonnis tot lewenslange en ‘n bykomende ses jaar gevangenisstraf.

Die twee skurke is in November 2011 aangekeer nadat hulle ‘n man langs die ou Bronkhorstspruitpad ontvoer en beroof het. Die man is in die veld afgelaai en hy het na die naaste huis gehardloop vanwaar die polisie gebel is.


Johannes Jaftha

Die verdagtes se groen Toyota Tazz is in Silverton opgemerk en hulle is in hegtenis geneem.

Voor dié inhegtenisname is vyf ander voorvalle in die gebied aangemeld waar dieselfde metodes gebruik is om te roof en te verkrag. ‘n Uitkenningsparade is gehou en die slagoffers van die ander voorvalle het Matsimele en Mogadime as die oortreders uitgewys. DNS-toetse het hulle verbind met verkragtings in Cullinan, Bronkhorstspruit en Sunnyside.

Die opvolgende hofsake is telkemale uitgestel en van die klaers het naderhand moed verloor en wou nie meer in die hof getuig nie. Die twee is toe aanvanklik weens die gebrek aan getuienis op twee aanklagte onskuldig bevind.

Die ondersoekbeampte het egter volhard en die slagoffers in die ander sake gemotiveer om moed te hou en hulle telkens opgelaai en hof toe geneem en later weer gaan aflaai. Vroeg in Maart vanjaar het die sake uiteindelik in Bronkhorstspruit se streekhof voorgekom en is die misdadigers skuldig bevind.

Dié inligting is deur die kommunikasie-offisier van die Cullinanse polisiestasie, Johannes Jaftha, aan Die Bronberger gegee. Toe ons hom net voor saktyd bel om verdere inligting en die naam van die ondersoekbeampte te probeer kry, is ons meegedeel dat hy nie beskikbaar is nie, omdat sy seun die vorige dag oorlede is. Ons meegevoel.

 

© 2019 Die/The Bronberger