Wynand van der Merwe
In die landelike gebied van die Boschkopse Polisiestasie kry ek gereeld talle navrae oor die Wet op Identifikasie van vee.
Die wet se naam is die Wet op die Identifikasie van Diere, 2002 (Wet No. 6 van 2002) en vervang die ou Wet op Veebrandmerke, 1962 (Wet No. 87 van 1962). Dié wet is landwyd van toepassing en dit is verpligtend om alle beeste, skape, bokke en varke te merk.

Adjudant offisier Wynand van der Merwe
Voordele
Die voordele van wettige merke is eerstens dat dit ‘n fisiese afskrikmiddel is. Veediewe is meer geneig om ongemerkte diere te steel. Dit bied ook positiewe identifikasie en ‘n positiewe bewys van eienaarskap.
Wettige merke maak opsporing moontlik en gee dus meer doeltreffende polisiëring en ‘n hoër herwinningspersentasie.
’n Wettige identifikasiemerk is ook nuttig omdat die eienaar gevind kan word as gesteelde of verlore diere opgespoor word.
Registreer
Nie almal weet hoe om ‘n identifikasiemerk te registreer nie. Alle vee-eienaars moet aansoek doen vir ’n geregistreerde identifikasiemerk. Die vorms is verkrygbaar vanaf voorligtingskantore, magistraatskantore, veediefstaleenhede van die SAPD of by die Registrateur van Identifikasiemerke. ’n Eenmalige registrasiefooi is betaalbaar.
Adresseer die koevert as volg: Die Registrateur van Identifikasiemerke, Privaatsak X138, Pretoria, 0001.
Die registrasie word op die nasionale Register van Diere-identifikasiemerke geplaas (AIS).

Pligte
Dit is verpligtend vir alle eienaars van beeste, skape, bokke en varke om ’n identifikasiemerk by die registrateur van diere-identifikasie te registreer.
Elke eienaar moet sy of haar diere op die voorgeskrewe metode merk. Alle beeste, skape, bokke en varke waarvan die identifikasiemerk onduidelik of onsigbaar geword het, moet volgens wetlike voorskrifte geheridentifiseer word.
Enige eienaar van ’n dier met ’n identifikasiemerk wat die dier binne 14 dae nadat hy of sy die eienaar daarvan geword het, wil verkoop, ruil of weggee, moet die nuwe eienaar van ’n identifikasiedokument voorsien.
Dit beteken dat die dier binne 14 dae weggemaak kan word sonder dat dit met die nuwe eienaar se merk gemerk is, omdat dit reeds die vorige eienaar se merk op het en ’n identifikasiedokument uitgereik is.
’n Eienaar wat ’n dier ná 14 dae nadat hy die eienaar van so ’n dier geword het, wil verkoop, ruil of weggee, moet sy eie merk op die dier aanbring voordat hy daarvan ontslae raak.
Die eienaar moet ook die nuwe eienaar van ’n identifikasiedokument voorsien. Die nuwe eienaar moet die identifikasiedokument vir ’n tydperk van een jaar hou. Dit beteken dat daar nie ná 14 dae van die dier ontslae geraak kan word sonder dat die nuwe eienaar se identifikasiemerk op die dier aangebring is en ’n identifikasiedokument uitgereik is nie. |