Tierpoorters woedend oor vragte riool op grasplaas PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 20 March 2015 01:50
Untitled Document

Tierpoorters is woedend vir die stank en vlieë wat vragte menslike afval in hulle gebied veroorsaak. Hulle vrees besmetting van hulle drinkwater en sê daar is reeds mense wat sedert die eerste hope afval in Desember daar afgelaai is, begin siek word het.

Inwoners rondom Cheetah- en Taustraat sit met die hande in die hare en sê dat beamptes van die Tshwane Metroraad, Gautengse Departement van Water en Sanitasie en Departement van Waterwese reeds in Januarie besoek afgelê het en die storting klaarblyklik nie kan stop nie.


Die grootte van die hope
Foto: Burmeisters

Christo de Jager, eienaar van die kitsgrasplaas op plot 70 waar die riool-afval afgelaai word, het aan Die Bronberger bevestig dat al dié departemente sy perseel besoek het. Hy sê hy het toestemming om sy kitsgras op dié manier te bemes, solank hy die afval binne ‘n dag in die grond inploeg.

Christo sê dat hy ‘n jaarkontrak by Johannesburg Water gekry het en dat hulle eers na sy plot toe gegaan het om seker te maak die omstandighede is reg om die afval daar af te laai.

Volgens Christo is dit slyk wat daar afgelaai word en nie rou riool nie. Hy sê dit is ‘skoongemaakte’ riool wat uit ‘n fabriek kom. Die menslike afval kom uit Sandton, sê hy.


Die vragmotor stort menslike afval op 4 Maart
Foto: Burmeisters

Pappery
Volgens Christo se buurman, Johan Burmeister, het Tierpoorters se nagmerrie in Desember begin toe ‘n klomp vragte afgelaai is en net daar gelê het.

“Kraalmis maak ‘n hoop,” sê hy. “Hierdie goed maak ‘n plas, en die pappery stink verskriklik en lok geweldig baie vlieë.”

Johan sê dat die afval tot die eerste week in Februarie in hope daar gelê het. Hy sê dat sy dogter en kleindogter in daardie stadium siek geword het en dat sy kleindogter ongevalle toe moes geneem word.
‘n Buurvrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê dat sy kolonkanker het en in remissie is, maar dat die reuk, vlieë en besoedelde drinkwater haar gesondheid beïnvloed.

Die swart kleur van die menslike afval is steeds duidelik te siene in die omgeploegde land
Foto’s: Tania Potgieter

Konsultant
Johan en Heletha Burmeister het ‘n omgewingskonsultant genader om hulle met dié saak te help.

Blanché Postma van Clean Stream Environmental Consultants het Bashan Govender van die Gautengse Departement van Water en Sanitasie met die Burmeisters se klagtes genader.

Die klagtes sluit in dat sommige van die hope rioolafval ongeveer 100 meter van die Burmeisters se huis afgelaai word en dat die vlieë en stank ondraaglik is. Blanché het ook gesê dat Christo, as eienaar van die grasplaas, nie permanent daar woon nie.

Volgens Blanché was daar vroeg in Januarie nog 20 van die hope wat in Desember afgelaai is, en daar is bekommernis oor die risiko van E.Coli in die grondwater, wat dié omgewing se enigste drinkwater is omdat munisipale pypwater nie voorsien word nie.

Bashan Govender het Blanché se klagte na Lilian Siwelane van die Departement van Waterwese aangestuur, en sy het ook vir Hannes Vorster van die Tshwane Metroraad se Departement van Omgewingsake in kennis gestel.

‘n Terreinondersoek is op 22 Januarie gedoen en die beamptes het Christo aangesê om die afval in die grond in te ploeg. Dit het gebeur en Christo se bure was onder die indruk dat die nagmerrie verby is.


Die hope afval op 4 Maart
Foto: Burmeisters

Weer
Op 4 Maart het vragmotors weer begin om rioolafval op die grasplaas af te laai. Dié vragte het volgens Christo se bure die hele dag en nag in hope gelê.

“Die stank is vandag onuithoudbaar,” het buurvrou Wilma Janse van Rensburg gesê. Sy het ‘n klagte aan Lilian Siwelane gestuur wat sê dat altwee die Janse Van Rensburgs se plotte, gedeelte 69 en 406, se boorgate slegs 29 meter diep is en dat die bemesting op die grasplaas hulle drinkwater bedreig en onaanvaarbare hoë vlakke van lugbesoedeling veroorsaak.


Inwoners kla ook dat die vragmotors wat die afval by die grasplaas aflaai hulle paaie
stukkend ry en stof opskop
Foto: Tania Potgieter

Ploeg
Christo het aan Die Bronberger gesê dat hy die vragte op 5 Maart kniediep in die grond ingeploeg het. Van dié afvalmateriaal was egter nog duidelik sigbaar ná die ploegsessie.

Hy het gesê dat hy sedert 1999 op daardie 8,5 hektaar plot met kikuyu kitsgras boer en dat hy aanvanklik hoendermis en toe beesmis gebruik het, maar dat dit nie so goed soos die menslike afval werk nie.

Volgens Christo is dit juis ‘n omgewingsvriendelike proses omdat minder boorgatwater gebruik word om gras wat op dié manier bemes is, aan die gang te hou.

Hy sê dat hy nie moeilikheid soek met sy bure nie en dat hy weet dit ruik nie lekker nie, maar die sonering van sy grond is ‘landbou’ en hy het toestemming om dié soort bemesting te gebruik.

Hy sê dat hy 7 000 m² menslike afval in die grond geploeg het en dat hy seker eers oor so drie of vier jaar deur dié bemestingsproses sal gaan op die grasplaas. Hy het nie gesê wat die jaarkontrak met Johannesburg Water behels en waar die res van die jaar se menslike afval afgelaai gaan word nie.

Christo het glo ook ‘n plot in Zwavelpoort met groentetonnels.

 

© 2019 Die/The Bronberger