Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 20 March 2015 01:52
Untitled Document

Angie Kleijn

Mense is reeds langer as ‘n eeu naarstiglik op soek na die Kruger-miljoene. Daar was al meer as 50 georganiseerde soektogte na die vermiste ‘Boereskat’; groot stukke aarde is omgedolwe en Bourke’s Luck Kolgate en verskeie grotte en tonnels in die ou Oos-Transvaal is herhaaldelik gefynkam.

Krugerponde was Suid-Afrika se eerste inheemse, kommersiële geldeenheid. Gemunte ponde, naakte ponde, ongemunte goud en muntplaatjies is inderhaas voor die val van Pretoria op 5 Junie 1900 uit die SA Munt en Nasionale Bank gehaal, op treintrokke gelaai en na die laeveld in die rigting van Paul Kruger se trein, bekend as die regering-op-wiele, gestuur.


Gustav Preller
Foto: Wikimedia

Gustav
Verlede maand het ons berig dat Gustav Preller, wat in 1900 ’n klerk in die Departement van Myne was, vertel het hoe hy opdrag ontvang het om wavragte goud uit die ou Munt in Pretoria te verwyder. Hy het in die middernagtelike ure ‘n wa tussen die Nasionale Bank-gebou, die Paleis van Justisie en die Munt getrek en vragte goud gelaai terwyl genl Jan Smuts toesig gehou het.

Hy moes die goud na die ouditeur-generaal by Pretoria-stasie neem waar dit op die presidensiële trein gelaai is. Die trein het Pretoria vroegoggend verlaat en Machadodorp in die namiddag bereik, waar Ernest Meyer, die meester van die Munt, gehelp het met uitbetalings in goud.

En dit is net hier waar die stories van mekaar begin verskil en hoekom die romantiek oor die verlore goud in rolprente en televisiereekse omskep is. In 1967 is ‘n rolprent, ‘Kruger Miljoene’, met Gé Korsten in sy rolprentdebuut as Du Toit, die singende Bolandse rebel, gemaak. Emil Nofal was die regisseur. Die storie is deur Jan Perold en Fanus Rautenbach geskryf.

Die TV-kanaal kykNET het ‘n realiteitsprogram, ‘Fortuinsoekers’, uitgesaai waarin deelnemers leidrade op die voetspore van die Kruger-miljoen-legende moes volg. Die vervaardigers het later vertel dat hulle op tientalle mense, wat dit steeds hulle roeping maak om dié skat te ontdek, afgekom het.


Die langspeelplaat van die rolprent, ‘Kruger Miljoene’, is in 1967 deur Brigadiers gemaak

Machadodorp
Volgens sekere bronne is die goud met Ernest Meyer se vertrek van Machadodorp op 17 Julie 1900 onder toesig van die hoofklerk in die kantoor van die ouditeur-generaal, kommandant Meindert Noome, geplaas.

Die goud het Machadodorp in Augustus verlaat en 62 kiste goud is glo op 31 Augustus in Lourenco Marques, Portugees-Oos-Afrika aan ‘n Duitse firma, Wilken en Ackerman, oorhandig. Dié firma het die Zuid-Afrikaanse Regering (ZAR) glo genoeg krediet vir die goud-waarde gegee sodat Meindert Noome voorrade kon aankoop.

Daar word beweer dat Meindert onder andere 44 000 sakke meelblom gekoop het, stoomskepe gehuur het, geïnterneerde boere in Portugal en Portugees-Oos-Afrika versorg het en geld na Europa gestuur het om te sorg vir Boere-vlugtelinge.


Daar is baie legendes oor die verlore Kruger-miljoene
Foto: Treasurenet

Begrawe
Gerugte het egter gelui dat die goud van die Pretoria-stasie eers Middelburg toe is en daarvandaan na Belfast, Machadodorp, Waterval Boven en Nelspruit. Voor die trein se vertrek uit Nelspruit is die goud glo op drie geheime plekke begrawe.

Twee waens vol goud is glo na ‘n mynkamp, genaamd Spitzkop, tussen Belfast en Pelgrimsrus geneem en daar begrawe.

Die tweede wa het glo deur Bremersdorp en die Komatirivier na Swaziland gery na ‘n plek tussen Witte Pelosse en Swart Pelosse, waar genl Lucas Meyer gewys het waar die goud begrawe moes word.
Gerugte lui dat die derde wa na Devil’s Knuckles, naby Pelgrimsrus, toe is waar die goud begrawe is. ‘n Klein bietjie goud het oorgebly, wat deur die Boeremagte by Lydenburg opgepas is. Toe hulle hoor dat die Britte op pad was, het hulle met die goud na Roos Senekal vertrek.


Die plekke waar die goud glo weggesteek is
Tekening: Sunday Times Lifestyle

Pelgrimsrus
Pelgrimsrus was die plek waar Veldponde gemaak is. Ná die val van Pretoria het waarnemende president Schalk Burger en ’n paar Boeregeneraals die Muntkommissie gestig. ’n Onderwyser van Kaapmuiden naby Nelspruit, PJ Kloppers, is as hoof van die Staatsmunt te velde aangestel.
Hy moes sy eie masjinerie met toerusting van die onaktiewe Transvaal Gold Mining Estates by Pelgrimsrus saamflans. Daar was ‘n paar goudstawe, spoelgoud is ontgin, en goud is herwin deur kwikplate skoon te skraap wat in ou amalgamasieprosesse gebruik is.

Dit was glo ‘n groot gesukkel omdat die goud bros was en aanhou kraak het, maar na ‘n paar chemiese eksperimente het die onderwyser, met die hulp van ‘n ontsmettingstablet met kwik daarin, die goud pletbaar gekry en blanko muntvorms uit die goudplaat gepons.

Hy het dié muntvorms met klein handbeiteltjies en ’n hamer gekerf en die gietstukke is in ’n handpers gebruik om 986 Veldponde te maak.


Paul Kruger en sy hoof raadgewers in die oorlog. Links van die president is
Kommandant PJ Joubert, en regs van hom PJ Cronje. Agter, van links na regs, is: A Wolmarans, FW Reitz, SM Berger en JMH Kock
Foto: Gutenberg

Ermelo
In 1925 het gerugte die rondte gedoen dat vier Kleynhans-broers ’n sy-wakis met Krugerponde 200 meter van ‘n pan op die plaas Langverwacht op die Amersfoortpad buite Ermelo uitgegrawe het. ’n Zoeloe-gesin op die plaas het glo in die 1960’s ook ’n kis met 4 000 Krugerponde uitgegrawe.

Bloemfonteinse sakeman, Johan Venter, het die gerugte gehoor en die plaas gekoop. Ná ’n jaar-lange soektog met onder meer metaalverklikkers het hy tou opgegooi. In 2004 is daar berig dat die plaas op die Internet opgeveil word.

In 1992 het ‘n groep van 300 mense R3,7 miljoen in Die Barbertonprojek-Trust (BPA) belê. Die trust het glo oor vertroulike inligting beskik dat die Kruger-miljoene in ‘n netwerk ou tonnels in ‘n koppie net duskant Barberton, waar Paul Kruger se spoorlyn doodgeloop het, begrawe lê. Niks het ooit van hulle soektog gekom nie.


Dié 1898 goue pond is in die oorlog deur die Kanadees, Owen Sound, van Ontario gevind
Foto: Canadian Boer War Museum

Giel
In 2001 het die 73-jarige Delarey Eloff, seun van veldkornet Machiel (Giel) Christiaan Eloff, gesê dat sy pa die ware verhaal oor die skat aan sy kinders vertel het nadat die gesin na Argentinië geëmigreer het. Die skat is blykbaar in die klowe tussen Waterval-Boven en Machadodorp weggesteek.

Delarey sê sy pa en drie verkenners is uitgesoek om die vrag by Waterval-Boven in te wag en dit na Lourenco Marques te neem. Blykbaar was ‘n Kakie-peloton op hulle spoor en hulle het besluit om die goud eerder te begrawe.


Veldpond
Foto: Scott Balson

Een van hulle het die touleier in die gat wat gegrawe is doodgeskiet en hulle het die gat met klippe gepak om dit soos 'n graf te laat lyk. Die vier is hierna in verskillende rigtings terug na hulle kommando.
Ná die Engelse Oorlog was Giel Eloff ’n offisier in die 1914 Rebellie. Hy is gevang en was in Koster in die tronk. Toe hy in 1916 op parool uit is het hy met sy gesin na Commodoro Riva Davia, waar Delarey gebore is, getrek.

Die Eloffs het in 1939 in Suid-Afrika kom kuier en het nooit na Argentinië teruggekeer nie. Giel het genl Smuts in 1946 gaan vertel dat hy onthou waar die goud is en Smuts het hom aangesê om die goud te gaan soek. ‘n Span soekers onder leiding van Giel en sers Henning van Waterval-Boven kon die wegsteekplek nie opspoor nie.


Die opening van De Nationale Bank der Zuid-Afrikaansche Republiek deur Paul Kruger in 1891. Dié bank het in 1890 die kontrak gekry om ’n Staatsmunt in Pretoria te stig
Foto: SA Coin

Spook
Nog ‘n opgetekende verhaal vertel dat twee broers, wat by die oorspronklike wegsteek-aksie betrokke was, die skat in 1905 wou gaan haal. Daar het twis uitgebreek, en die een broer het die ander een doodgeskiet. Die moordenaar het die doodstraf gekry, maar voor sy vonnis volbring kon word, het hy in die selle selfmoord gepleeg. Die legende lui dat dit hulle geeste is wat soekers na die skat op ‘n dwaalspoor lei.


Jan Smuts
Foto: Eon Images

Spalding
In 2001 het die kurator van die Kruger-museum, Anneke Lugtenburg, gesê dat die Nasionale Kultuurhistoriese Museum ’n dokument het waarin mev H Spalding se herinneringe as tienjarige meisie in Nelspruit opgeteken is.

Paul Kruger se treinwa het agter die Spalding-huis gestaan en haar pa en die president het “saam leeus geskiet”. Sy het gesien hoe mense pakkies uit die wa laai en op muilwaens na Sabie neem.

Manie Bredell, Paul Kruger se private sekretaris, het aan die Spalding-gesin gesê dat die goud in Lourenco Marques op ’n Duitse skip gelaai is om vir gewere en ammunisie, wat die Boere vroeër by die Duitsers gekry het, te betaal.


Die voorkant van die ZAR Munt-gebou in Paleisstraat, Pretoria
Foto: wiki.up.ac.za

Skip
Eli Levine, skrywer van ‘The Coinage and Counterfeits of the Zuid Afrikaansche Republiek’, sê egter dat Paul Kruger die meeste van die goud saam met hom op die skip Gelderland, verskaf deur koningin Wilhelmina van Nederland, geneem het.

Ander legendes op die skip-tema sê dat 30 kiste goud in Julie 1900 met die Duitse stoomskip Bundersrath van Lourenco Marques na Hamburg verskeep is. ‘n Verdere 100 kiste goud is glo in September 1900 op ‘n ander Duitse skip gelaai.

Stories loop ook dat ‘n groot deel van die ZAR-staatskat reeds in 1898 in Lourenco Marques op drie skepe gelaai is wat nooit hulle bestemmings bereik het nie. Die eerste skip het glo in ‘n warrelwind gesink. Die tweede een se manskappe het die kaptein vermoor en verdwyn, en die derde skip, Dorothea, het by Kaap St Lucia in ‘n storm in twee gebreek en gesink. Blykbaar het die matrose in reddingsbote weggekom.


Die 1892 hoeksteen van De Nationale Bank
Foto: wiki.up.ac.za

Feite
Volgens prof Fransjohan Pretorius aan die departement historiese en erfenisstudies van die Universiteit van Pretoria, is geld en goud ter waarde van 500 000 en 750 000 pond na die destydse Oos-Transvaal geneem sodat dit nie in Britse hande kon beland nie.

Skuldeisers wat oorlogsvoorraad aan die regering voorsien het, het op die trein toegesak toe hy op Machadodorp gestop het. Dieselfde het gebeur toe die trein op Barberton gestop het. Daarna het Britse soldate die spoor versper en die goud is in ossewaens oorgelaai en gebruik om die oorlog te finansier.
Fransjohan sê dat genl Louis Botha in April 1901 laat weet het dat die goud op is.

Vandag is ‘n ongebruikte Veldpond glo so rondom R100 000 werd. In ‘n onlangse veiling wat in Sandton gehou is het ‘n stel ZAR-Krugerrande van 1892, wat vir meer as vier dekades nie opgespoor kon word nie, vir meer as twee miljoen Rand verkoop.



‘n Naakte pond en 1892 Krugerpond, wat beroemd is omdat hulle nie die korrekte eendisselboom-ontwerp van die ossewa gehad nie, maar ‘n tweedisselboomwa, soos die Duitsers gebruik het. Paul Kruger wou die nuwe munte voor die verkiesing in omloop kry, en het bestellings by die Berlynse Imperiale Munt geplaas
Foto: SA Coin

 

© 2020 Die/The Bronberger