Inbreker loop sy rieme styf PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 April 2015 20:41
Untitled Document

’n Inbreker het sy rieme op 3 April lelik styfgeloop in Tierpoort toe die inwoners van ‘n hoewehuis tuiskom en hom helder oordag op heterdaad betrap.

Mandy Jacobs en Leon du Plessis het omstreeks eenuur die middag van ‘n besoek aan die winkels teruggekeer. Leon is eerste die huis binne terwyl Mandy die motorhuis gesluit het.


Leon du Plessis wat die inbreker platgestoei en met Mandy se hulp vasgebind het

Mandy Jacobs: Dit was ‘n aaklige ervaring, sê sy

Toe Mandy met die inkopiepakkies by die kombuis inkom het sy na Leon geroep, maar hy het nie geantwoord nie. Dis toe dat sy ‘n gespook en gestamp in die gang hoor en sien dat die kombuisvenster gebreek is. In die gang het sy op Leon en die inbreker afgekom waar hulle besig was om te stoei.

Mandy vertel dat Leon ná ‘n gesukkel die boef op die vloer vasgepen het en hulle kon hom vasgebind.

Sy het ‘n noodboodskap na die Tierpoortse ‘Whatsapp-groep’ gestuur en binne minute was lede van die gemeenskap daar om hulle by te staan.


Die polisie vat die boef weg

Die inbreker het eers die veiligheidshek voor die kombuisdeur oopgeforseer, maar kon blykbaar nie die deur oopkry nie. Hy het toe ‘n kombuisvenster gebreek om in te kom.

Die polisie het die inbreker, Kgwali Abram Ratau van Mamelodi, op die plot in hegtenis geneem en verklarings by Mandy en Leon gekry. Ratau het sy ID-boek by hom gehad en is ‘n Suid-Afrikaanse burger.


Die inbreker sit vasgemaak in die gang van ‘n Tierpoortse hoewehuis

Toe vriende later die middag kom help om die deur reg te maak en die toneel op te ruim, het hulle ‘n lang skroewedraaier onder die bed in die hoofslaapkamer gekry. Dit is waarskynlik gebruik om die deur te probeer oopbreek.

Mandy sê dit was ‘n aaklige ervaring. Sy en Leon wil dankie sê vir almal wat gaan help het. Mandy sê veral dankie vir haar ‘held’, Leon du Plessis.

 

© 2019 Die/The Bronberger