Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 28 April 2015 23:15
Untitled Document

Wat gaan deesdae op Kerkplein aan? Die plein word dramaties verander en die vraag hoe dit ons geboue-erfenis beïnvloed word op Woensdag 13 Mei by ‘n byeenkoms van die Tshwane Geboue-erfenisvereniging beantwoord.

Verlede jaar is ou tremspore op Kerkplein ontdek met uitgrawings vir ‘n nuwe vinnige busdiens, bekend as die A Re Yeng-projek. Die tremspore is in ‘n goeie toestand en gaan bewaar word, maar dit het ‘n sekere herontwerp van die busdiensroete rondom Kerkplein tot gevolg gehad.


Die trem wat nog deur perde getrek is op Kerkplein

Die elektriese trem op Kerkplein

Vergange
Die ontdekking van die ou tremspore het lig op vergange dae se vervoermetodes gewerp. Openbare vervoer het in 1897 in Pretoria begin toe die Pretoria Tremmaatskappy met agt trems en 50 perde aan die werk gespring het. Met die oorlog het die projek tot ‘n stilstand gekom omdat die perde op kommando nodig was.

Die trems het weer in Julie 1903 begin om passasiers op kort en langer roetes te neem.

Veertien elektriese trems het die perde-trems op 2 November 1910 vervang en die Tremloods is in 1912 voltooi. Roetes vanaf Kerkplein het passasiers na Sunnyside, Pretoria-wes, die stasie, dieretuin en die ou Volkshospitaal geneem. Ongeveer 21 km tremspore is gelê.

Later is daar ook ‘n spoor na die Uniegeboue aangelê. In 1935 het dubbeldekkerbusse die trems begin aanvul en die laaste tremrit was op 19 Augustus 1939.


Kerkplein se suid-oostelike kwadrant

Byeenkoms
Die Tshwane Geboue-erfenisvereniging se byeenkoms word by The Link in Hatfield gehou.

Voorsitter, Anton Jansen van die Rietfontein-kleinhoewes, sê dat die vereniging een van die metroraad se voorste konsultante, argitek Craig McClenaghan, gevra het om die byeenkoms toe te spreek. Sy voorlegging gaan toegelig word met foto’s en daar is geleentheid vir vrae.

Die vereniging gaan ook vertel van ‘n beplande Hannes Meiring-gedenknaald en ‘n Dakota-vliegrit oor historiese plekke.
Bespreek jou plek by Anton Jansen: 083-653-0982 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2020 Die/The Bronberger