Pretoria se eerste waterstelsel herontdek PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 15 October 2008 22:51
Untitled Document

Die posisie van die heel eerste leidam in Pretoria is onlangs herontdek. Gert Bronkhorst, een van die eerste Voortrekkers wat in die omgewing aangekom het, se dam en leivoor-waterstelsel is gevind met die hulp van die ou foto en kaart wat ons hier publiseer.

Hoeveel erfgoed van die eerste Voortrekkers wat in ons omgewing aangekom het, bestaan nog? In Die Bronberger se September-uitgawe het ons vertel van die vernietiging van ou geboue en ’n historiese bloekomlaning op die oorspronklike plaas Garstvontyn.

Andries Beetge, die eerste eienaar van dié plaas, was getroud met een van die Bronkhorst-dogters van die Fonteine-vallei plase. Die broers Gert en Lucas Bronkhorst was, saam met die Van der Walts en Prinsloos, die eerste Voortrekkers wat hulle in die Fonteine-vallei kom vestig het tussen 1832 en 1842. Die plase Groenkloof en Elandspoort het aan die Bronkhorsts behoort. Erfenis- en restourasiekonsultant, Anton Jansen, het onlangs die plek van Gert Bronkhorst se damwal in die Apiesrivier gevind asook die pad wat die leivoor vanaf die dam na sy landerye toe geloop het. Die dam is reg wes van Unisa se hoofgebou en is vandag van beton. Aan die oos-oewer is daar nou traliewerk voor ’n waterpyp wat voorheen die leivoor was. Dié pyp lê op dieselfde plek waar die oorspronklike leivoor was en eindig in Unisa se gronde wat voorheen Normaal Kollege se sportgronde was. Tot 1954 was dit Portugese groentetuine.


Terrein van die oorspronklike opstal van JGS (Gert) Bronkhorst in Elandspoort, die eerste woning op grond wat vandag die stad Pretoria (noord van Elandspoort) is: A ? watervoor. B ? terrein waar Bronkhorst se kliphuis vermoedelik gestaan het. C ? treinspoor na Johannesburg. D ? hoofpad van Fonteine na die noorde. E ? Fonteinevallei. F ? die huidige Mainstraat. G ? deel van die vroeŽre Portugese groentetuin met servituutwater uit Fonteine en plaasregte.
Foto: Dr SP Engelbrecht: Pretoria 1855-1955.

Foto
Anton kon die dam se posisie bevestig deur na ’n foto op bl. 254 van Dr SP Engelbrecht se boek, ‘Pretoria 1855– 1955’ te kyk waar die leivoor met ’n stippellyn aangedui is. In haar Ou Pretoria Nuusbrief het Rosa Swanepoel meer inligting gegee oor die foto in Dr SP Engelbrecht se boek. Die huis met die interessante gewel in die middel van die foto in Mainstraat was die vroeëre woonhuis van Chrisjan Joubert, hoof van mynwese.

Dit was ’n verdiepinghuis, ontwerp deur Zwaan & van Dyk, en is einde 1890 voltooi. Die terrein waarop die gewelhuis staan, is waar Gert Bronkhorst se opstal in die 1840’s gebou is.

Kaart
Om die waterstelsel se posisie te bevestig, het Anton ook na ou kaarte van Pretoria gekyk waar die watervore langs die strate geteken is.

In die kaart wat hier weergegee word, is Mainstraat die straat regs van die rivier en Prellerstraat die volgende een. Harmoniestraat het in 1889 nog nie bestaan nie. Die pad heel links op die kaart is die pad “naar de Fonteinen”.

Die dik swart lyn op die kaart is die Apiesrivier. Die muisagtige figuur in die middel van die kaart is’n opgaardam en leivoor wat gebruik is om die landerye in die draai van die rivier nat te maak.


So het die gebied rondom Bronkhorst se opstal in 1889 gelyk
Foto: J Van Vooren en JH Oerder: Kaart van Pretoria ZAR 1889

Putte
In daardie jare was daar nog nie gepypte water nie en Pretorianers het hulle water uit leivore vanaf die Fonteine gekry. Baie inwoners het waterputte gehad vir drinkwater, omdat die watertafel baie hoog was.

“Trouens dit is nog steeds hoog want byna elke kelder onder die geboue het pompe wat die water in die stormwaterpype van die stadsraad pomp en dit vloei weer na die Apiesrivier. By die Leeubrug kan ’n mens die water uit die pype sien loop,” sê Anton.

Volgens Unisa is daar ’n serwituut geregistreer vanaf die Apiesrivier tot by hulle gronde. Anton gaan nou probeer dat Unisa alles restoureer en die waterstelsel laat funksioneer. Dit sal dan van die oudste erfgoed van blanke setlaars in ons gebied wees.

 

© 2019 Die/The Bronberger