?n Teetuin met verslawende koffie Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 16 October 2008 01:58
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

’n Teetuin is nie noodwendig net ’n plek waar tannies bymekaarkom vir koek-en-tee en skinder nie. Dit kan ook ’n plek wees waar jy en jou metgesel rustig in die somer se buitelug kan stelling inneem vir ’n baie bevredigende ontbyt en verslawende lekker koffie. Dit besef ek nou nadat ons op ’n onlangse Sondag ’n draai by die nuwe Olympus Stream in Neptuneweg gemaak het. Die tuin van Olympus Stream se teetuin is uitspattig getooi in die helder kleure van baie lenteblommetjies.

Die weer is lekker lou en die hoë mure om die hele tuin hou die lastige wind op sy plek. Die sit by ’n eenkant-tuintafeltjie onder ’n groot sonsambreel is gerieflik. Die stemming is lui-gemoedelik en ontspanne en die diens is vriendelik en vinnig.

As Mojo, die kelner, omdraai om ons koffie te gaan haal sien ek op sy rug staan groot geskryf: “Waiter.” Maar ons wag glad nie lank voor hy terugkeer met ons Puro nie. Want dit is die naam van Olympus Stream se koffie – Puro. Dit is ook die naam wat op die sonsambrele pronk en ek wonder onwillekeurig hoekom dan nie eerder ’n ‘koffietuin’ nie.

Puro, só sê die spyskaart, is ’n ‘organiese’ koffie. Deur die organiese verbouing van hulle koffie doen Puro hulle deel om die reënwoude te bewaar, lees ek op die koffiekaart. En ek besluit later dat hierdie koffie vir my só lekker is, dat ek genoeg en gereeld genoeg daarvan sal kan drink om sommer ’n reënwoud of twee op my eie te red.


Puro is die naam van die organiese koffie waaroor ons gaande is

Die ontbytspyskaart bied ’n interessante verskeidenheid. Dit wissel van ’n “ekonomiese brekvis” wat net R19 kos en eintlik maar een is vir kinders of vir ouens wat nie honger is nie, tot die bielie wat hulle “Olympus Stream Supreme” roep. Dit bevat spek, eiers, worsies, hamburger-frikkadel, sampioene, braaitamatie, roosterbrood en koffie en is die enigste item wat meer as R40 kos.

Die “Wake Up breakfast” is iets ‘anders,’ belowe die spyskaart. Jy kry Franse roosterbrood met konfyt of heuning saam met kaas en spek. Dit kos R32. Dan is daar natuurlik die ‘gesondheidsontbyt’ wat jy deesdae oral raakloop. Muesli met vrugte en neute en jogurt en ’n ‘bran’ muffin, kry jy alles vir R27 ter wille van die gesondheid.

Of jy kan volstaan met net ‘muffins’ teen R16 of ‘scones’ teen R14.


?n Gesin geniet ontbyt in Olympus Stream se tuin

Teen net R20 kan jy visvingers en tjips, of roereiers op roosterbrood, of ’n mini-pizza saam met die koeldrank of sap van jou keuse kry. ’n Bargain, sou ek dink. Ek besluit egter om ’n omelet te beproef. Jy kan self die twee bestanddele kies wat jy binne wil laat bêre en ek kies maalvleis (‘savoury mince’) en kaas. Die sjef by Olympus Stream is nie snoep as dit by ’n omelet kom nie. Dis ’n ordentlike een. Hy lê die bord netjies vol en hy is goed gevul met sy maalvleismengsel. Die sjef het iets met die maalvleisie gedoen waarvan ek hou. Dit is smaaklik en geurig sonder om te skerp gekrui te wees. ’n Heerlike, vullende ontbyt teen net R28.

Metgesel het lank en besluiteloos na die ontbytspyskaart gestaar voor sy die ding omblaai en haar oë op die “lunch” afdeling val. Hier sien sy etlike keuses tussen die “wraps” (wat sal ’n ou dit tog in Afrikaans noem?) en die tramazinis en die broodjies wat haar geval.


?n Netjiese, gevulde omelet, ?n reuse ?toedeugie? en ?n diep bak slaai vir ontbyt

Dis lankal nie meer vroegoggend nie en sy besluit op ’n “wrap” met hoender, pepadew en mayonnaise. Die ‘toedeugie’ en yslike bak slaai wat Mojo voor haar neersit, bewys dat die sjef ook hiermee glad nie snoep is nie. Metgesel geniet haar sappige ‘toedeugie’ en haar Griekse slaai. Dit kos R38.

Dit was ’n lekker rustige kuier en baie bevredigende ontbytervaring by Olympus se eie nuwe teetuin. Ons sal weer ’n draai daar maak, al is dit dan net om die reënwoude te help red. Moet my asseblief nie bel nie, bel eerder die teetuin se mense by: 012-991-0445.

 

© 2020 Die/The Bronberger