Kreatiewe Cullinaners stal wenner uit PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Sunday, 27 September 2015 15:38
Untitled Document

Die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Cullinan het die kategorie van die mees kreatiewe uitstalling by die CMR Gauteng-oos se jaarvergadering gewen. Die CMR Zithobeni langs Bronkhorstspruit het die prys vir die beste uitstalling gewen.

Die jaarvergadering is op 21 Augustus by die NG Kerk Faerie Glen in Glenwoodrylaan gehou.

Verskillende CMR streekkantore het deelgeneem aan ‘n uitstallingskompetisie met die leuse, ‘CMR maak ‘n verskil’, om die werk wat dié kantore doen om kinders en gesinne in nood te help, uit te beeld.
Die beoordelaars was van mening dat die Cullinan-kantoor se uitstalling die mees kleurvolle een was en ‘n boodskap van hoop gee. Dié kantoor lewer ook dienste in Refilwe en op altwee plekke word suksesvolle projekte geloods om die gemeenskappe te bemagtig.

Benewens werkskepping, word ook jaarliks kinderbeskermingsprojekte met kinderbeskermingsmaand in Junie aangebied en duisende kinders word bereik.

Die kantoor is by die Baptiste kerk in Cullinan en daar is ook ‘n pleeghuis vir kinders, Jabez-huis, op die terrein.


Die CMR Cullinan het die kategorie van die mees kreatiewe uitstalling gewen

Uitdagings
Die CMR Zithobeni se uitstalling beeld dié streek se uitdagings, naamlik armoede, kinderverwaarlosing, tienerswangerskappe en geweld, uit. Die maatskaplike werker, Thea Hettasch, werk al ses jaar in die gebied en sy en haar hulpwerker, Lina Sibanyoni, het die uitdagings probeer uitbeeld. Die pop wat voor lê wys hoe die tienerdogter wegkyk en nie die swangerskap kan aanvaar nie.

Thea en Lina se werksdag behels baie aanmeldings vanuit die gemeenskap en baie van die kinders moet in pleegsorg van die oumas of ander familielede geplaas word omdat die ma oorlede is aan Vigs of ander siektes, of nie in staat is om die kind te versorg nie. Die pa speel ‘n minimale rol in die kinders se versorging en die uitstalling probeer ook om die nodigheid van ‘n betrokke pa uit te beeld.

Vergadering
By die jaarvergadering in Faerie Glen is die opening en verwelkoming gedoen deur Gerrit Muller, voorsitter van CMR Gauteng-oos en ds Alex Clark, bestuurslid van CMR Gauteng-oos en voorsitter van CMR Elarduspark.

Die gasspreker was dr Enrich Basson met ‘n praatjie getiteld, ‘Verander jou houding – verander jou lewe’. Die program het ook die toekenning van sertifikate, voorlegging van die jaarverslag deur ds Gideon du Toit, voorlegging van die finansiële state en aanstelling van ouditeure, ingesluit.

Die bedankings is deur Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-oos gedoen. Sy het mense herinner dat die CMR se leuse, ten spyte van uitdagings, ‘Diens met Deernis’ bly.

 

© 2019 Die/The Bronberger