Hadedas vrek as die grond te hard is PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 11 November 2008 04:18
Untitled Document

Hadedas is die voëls in ons gebied wat die swaarste kry in droë seisoene. As die grond te hard is, kan hulle nie hul snawels daarin druk om die erdwurms, wat een van hul hoofvoedselbronne is, in die hande te kry nie.

Dit is hoekom hadedas floreer op voorstedelike grasperke en sportvelde wat dwarsdeur die jaar natgehou word. Hulle is gewoonlik welkom in tuine omdat hulle ook slakke, insekte, spinnekoppe en klein reptiele vreet.

Lawaai
Mense wat ongelukkig genoeg is om ’n boom voor die kamervenster te hê waar ’n swerm hadedas oornag, sal egter nie saamstem met dié verwelkoming nie. Hadedas slaap in swerms van tot ’n 100 voëls wat skielik in die middel van die nag soos wekkers kan afgaan met hul kenmerkende klipharde ha-haaa-ha geluid. Hoewel hulle in groot swerms slaap, beweeg hulle bedags ver van hul slaapplek af in kleiner groepies van tien tot 30 voëls.

Hul roep mekaar terwyl hulle van dié slaapplek af vlieg in die oggend of terugkom in die aand. Hadedas is geneig om elke dag dieselfde roete te volg en is so stiptelik dat ’n mens jou horlosie kan stel op hul terugkeer slaapplek toe.

Dié swerms gebruik jaar na jaar dieselfde boom as slaapplek, maar broei in pare, weg van die swerm af. Hulle broei in Augustus, September en Oktober. Die nes is ’n platform van stokke met gras boop. Dit is gewoonlik in die takke van ’n boom wat oor water of ’n kloof hang. Neste is egter ook al op telefoonpale gesien.


Hadeda
Foto: Dawid Loubser

Hofmakery
Hadedas het ’n vreemde hofmakery. Eers sal twee voëls van die res af wegbreek en daagliks saam loop en kos soek. Hulle maak mekaar se vere skoon, vleg hul nekke ineen en voer ’n ongewone groetproses uit waarin die voëls mekaar aan die snawel gryp, die snawels dan heen en weer ratel terwyl hul koppe saam op en af en kante toe beweeg. Hul sal soms terselfdertyd hul snawels klap en hul kop en nekvere laat rys.

Hadedas lê drie of vier ligte olyfgroen eiers met rooierige merke op. Die eiers vat 25 tot 28 dae om uit te broei. Die kuikens kan so lank as twee dae vat om hul pad deur die eier oop te pik. Hul bly vir ongeveer 33 dae in die nes en is agterna nog afhanklik van hul ouers.

Die hadeda, Bostrychia hagedash, is 76 cm lank. Hy is ’n vaal, gryserige bruin voël wat glansende brons vlerkdekvere toon in die son. Sy gesig is grys met ’n wit streep wat van die snawelbasis tot onder en agter die oog loop. Die donker, lang, afgeboë snawel het ’n rooi rif op die bo-mandibel. Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes het nie die rooi op die snawel of die brons op die vlerke nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger