Help om winter warmer te maak PDF Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 18 June 2016 13:57
Untitled Document

Rayton- en Cullinan Apteek in samewerking met die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se tak in die gebied samel winter-hulpmiddele in vir die behoeftige mense in die gemeenskap. Die apteek gaan houers voorsien waarin komberse, klere, skoene, kos, skryfbehoeftes of skoonmaakprodukte afgelaai kan word.

Kerke en winkels in die gebied werk saam aan die projek en sal ook houers vir skenkings beskikbaar stel. Dié projek gaan dwarsdeur die winter tot einde Augustus duur.


Enige warm komberse is welkom

Sandra Pollock, klinieksuster by Rayton Apteek, sê hulle het besluit om die projek te begin omdat “ons sien hoe mense sukkel om medisyne te kan bekostig vir veral hulle siek kinders, en dan het die kinders ook nie ordentlike klere of skoene nie. Dan breek jou hart vir hulle. Daar is so baie mense wat sukkel, en baie van hulle is of enkelouers of net een ouer kry werk.”

Sandra sê dat hulpmiddele wat ingesamel word nie buite die gebied gebruik gaan word nie, maar spesifiek vir die mense rondom Rayton. Die maatskaplike werkers van die CMR gaan die skenking-houers bestuur en sorg dat skenkings by mense wat dit nodig het uitkom.


Skoene en kouse is nodig

Enige warm klere, soos truie, jasse en handskoene, is altyd welkom, sowel as skoene en kouse, veral vir kinders. Daar is ook ‘n behoefte aan linne, veral enkelbedkomberse en kos wat lank geberg kan word of wat nie ’n yskas benodig nie.

As jy kan help om die winter ‘n bietjie warmer te maak vir mense wat sukkel, skakel Rayton Apteek: 012-734-4800. Die apteek is in die Raymed-sentrum, Treurnichtstraat.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger