Lietsjie se wilde neef maak krygers braaf Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 04 December 2008 00:56
Untitled Document

Wag ’n bietjie, maroela. Jou reputasie onder die olifante word klaarblyklik maklik uitgestof. Hulle sê die suur rooi vrugte van die lietsjie se wilde nefie het dalk net meer van ’n skop. Jy kan aan die doppruim se vrugte sien dat ’n lietsjie voorvader iewers wind-af moes gestaan het. Dié boom is ook verwant aan die ses valstaaibos-spesies in ons land, die Kaapse sandolien en Transvaalse rooiklapperbos.

Doppruim-vrugte word gebruik om heel stukke konfyt, jellie, ’n effense suur koeldrank, asyn en alkoholiese verversings te maak. En as die alkohol nie genoeg vuur in ’n man se maag sit nie, gebruik legendariese krygers, Kenia se Masai, aftreksels van die bas om hul braaf te maak, as ’n prikkelaar en bloedversterkende tonikum.


Die doppruim se vrugte
Foto: plantzafrica

Olie
’n Goudgeel olie word verkry deur die sade te rooster. Blykbaar het die ou Voortrekkers dit gebruik om hul gewere mee te olie. Dié olie is ook gebruik om seep te maak, as ’n lakseermiddel, opknapper vir hare en as geneesmiddel vir omlope. Dié boom is vandag steeds ’n belangrike bron vir die maak van tradisionele medisyne. ’n Kombinasie van die olie, blare en bas is medisinaal gebruik om bles-word te verhoed, om neuse te laat ophou bloei, vir borskwale, ooginfeksies en geslagsiektes.

Die bas word gebruik om beskermende gelukbringers te maak wat op die grond gestrooi word. Hulle sê selfs dat dié boom se blare slakke effektief doodmaak. Die boom se wortels kan gekou word of as klisteerspuit gebruik word en ook as purgeermiddel vir vee. Die hout word gebruik om pale, jurke en kombuisgereedskap te maak.

Naam
Die doppruim, Pappea capensis, se generiese naam verwys na die Duitse dokter en plantversamelaar, Carl Pappe. Sy spesifieke naam, capensis, verwys na suidelike Afrika.

Dié geharde, immergroen boom word twee tot agt meter hoog en kan koue, hitte en lang droogtes goed hanteer. Met sy digte kroon is die doppruim ’n ideale skaduboom vir klein tuine of parkeerplekke omdat hy nie ’n aggressiewe wortelstelsel het nie.

Sy liggrys stam het spatsels donkerder kleure. Die langwerpige blare het ’n harde tekstuur en die kante wissel van skerp getand, as die blare nog jonk is, tot bykans glad in volwasse blare. In die lente is die nuwe blare ’n pienkerige brons kleur.

Vrug
Die doppruim blom vanaf September en sy groenerige blomme word gevolg deur vrugte van Desember tot Julie. Die ronde fluweelagtige groen vrugte split oop om helder rooi vlees ten toon te stel met donkerbruin tot swart sade. Die sade word geparasiteer deur ’n klein, helder rooi kewer, Leptocoris hexophtalma, wat die olie uit die sade, wat op die grond onder die boom lê, suig. Die vrugte word deur ’n verskeidenheid voëls en diere gevreet en wild soos olifante, kameelperde, koedoes, njalas, bosbokke en grys duikers vreet die blare. Dié boom is ook ’n tuiste vir die larwes van vier verskillende soorte skoenlappers.

Groei
Dit is nie moeilik om ’n doppruim van saad af te groei nie. Gebruik die saad uit ryp vrugte wat nog aan die boom hang. Verwyder die rooi vlees en plant dadelik in saailingbakke met ’n goed gedreineerde saailingmengsel en riviersand. Druk die saad in die sand en bedek met omtrent 5 mm sand. Hou die saailingbakke warm en in ’n skadukol tot die saad ontkiem, wat van ses tot tien weke kan neem.

Los die saailinge in die bakke tot hul omtrent 20 – 50 mm hoog is voor jy hul uitplant. Wees versigtig om nie die jong worteltjies te beskadig nie. Die boom groei stadig in die begin, maar vinniger soos hy volwasse word. Hy sal vinniger groei in ’n warmer klimaat

 

 

© 2020 Die/The Bronberger