Tien gewenste Kerspersente vir die Bronberg PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 03 December 2008 23:34
Untitled Document

Hier is tien Kersgeskenke – kompleet met strikkies en klokkies om – vir die Bronberg-gebied. Ons het gaan kyk na dinge wat ons lesers pla, grensloos irriteer, frustreer en hartseer maak. En toe het ons lank, diep en innig gaan soek na ’n persentjie wat elke verpesting op sy plek sal sit.

Vullis
Kersvader het gesê hy’s ten volle bereid om ons te help om ’n patrollie te reël. Hy sal sy takbokke ook inspan om die mense wat hul vuilgoed langs ons paaie stort, te help opspoor. En dan vat ons daardie sakke wat ten hemele stink en Kersvader vervang dit met die ou persentjies wat vir die vullis-storters bedoel was. Hy glip dan met die morsjorsige sakke vol rommel deur die Jorse se skoorstene om dié verrassinkies onder hul Kersbome te gaan stort.

Gatpaaie
Rudolph sê hy’s baie bly dat hy nie Kersvader se slee oor ons paaie hoef te trek nie. Selfs net die landslag op plotpaaie gee hom heeljaar lank nagmerries. Hy sien van jaar na jaar hoe die ontwikkelaars se groot lorries die paaie verwoes wat die plotmense al die jare self in stand gehou het. Hy gaan vanjaar ’n paar ontwikkelaars se stootskrapers agter aan die slee vasbind, kompleet met operateurs ingesluit, en aflaai by elke pad wat reggemaak moet word.

Pompom
Die pompom onkruid is besig om die grasvelde en padreserwes van ons gebied oor te neem. Kersvader het gesê hy stuur die elfies wat in sy speelgoedfabriek werk om vir dokter Stefan Neser te help om die pompoms te besmet. So jaar of wat terug het Zwavelpoort die eerste plek in die land geword waar pompoms aspris besmet word met ’n roes fungus in ’n poging om dié uitheemse indringers te vernietig.

Deelname
Kersvader sê as hy sy geskenke so goed wegsteek soos die kennisgewings wat ontwikkelaars opsit, sou hy eerder in ’n paaseiersprokie gespeel het, Bronbergers kla dat hulle nie betyds die kennisgewings sien of in hulle posbusse kry nie. Kersvader sê dat hy almal se adresse wat op sy geskenklysie is, vir die regte omgewingskonsultante sal stuur sodat hulle betyds kan deel word van elke openbare deelname-proses.

Gouemol
Arme Juliana se gouemol word met elke dinamietskietslag van die steengroef en met elke fondasie wat bo-op die Bronbergrif gegrou word, nog skaarser. Dié diertjies is op die kritiese bedreigde spesie-lys en kom net op drie plekke in die wêreld voor – op die Bronbergrif, in Nylsvley en in die Pretoriuskop deel van die Nasionale Kruger Wildtuin. Die elfies wat in Kersvader se Kerspersent-fabriek werk sê hulle sal almal op Oukersaand by die mense van natuurbewaring se Krismispaarties gaan toyi-toyi. Dalk dwing dit dié sogenaamde bewaarders om mynwese aan te vat en die groot geld van ontwikkelaars te ignoreer.

Lawaaimakers
Rudolph sê hy kan nie verstaan hoekom enige iemand sal kies om op iets te ry wat soveel lawaai maak nie. Veral nie op ’n Sondagmiddag nie. Hulle kom uit die stad uit om plotmense en –diere te terroriseer en die reeds vergatte paadjies oor te neem. Uit ’n vlieënde takbok se oogpunt, kom dié brullende monsters reguit uit ’n nagmerrie uit. Rudolph sê hy sal sorg dat die mense wat op dié lawaaimakers sit, almal sal uitvind van die lekker bane wat spesiaal vir hulle gebou is.

Vlamme
Die Kersfabriek se elfies onderneem om hierdie jaar spesiaal grafsteentjies op te sit vir elke duiker, skilpad, hasie, padda, krimpvarkie, voël en sommer ook vir al die goggas wat jaarliks in ons gebied se veldbrande sneuwel. Kersvader gaan nie meer persente aflewer vir die mense wat die veld aspris aan die brand steek omdat “die vlamme so mooi is vir die kinders” nie. Hy gaan ook elke ou wat ’n weghol voorbrand veroorsaak vir ’n ruk laat vlamme slaan in ou Niek se warm plek.

Kitskursus
Kersvader borg vanjaar ’n spesiale prys vir die menige wildtuine, wildparke en bewareas in ons gebied – ’n kitskursus in wildbestuur. Rudolph sê die heel eerste les in dié kursus sal wees dat takbokke nie natuurlik in die Bronberg voorkom nie. Hulle sal ook leer hoe om die arme diere nie vir ewig te traumatiseer en te verwond as hulle probeer om wildgetalle onder beheer te bring nie.

Knippers
’n Towerspreuk, sê Kersvader, is wat in ons kontrei nodig is. Iets wat binne ’n enkele sekonde elke liewe draadknipper in boewe se hande in rubber-knippers sal laat verander. Heinings sal ondeurdringbaar wees, wild sal nie meer op Lynnwoodweg doodgery word nie, perde sal nie meer die pad vat Faerie Glen toe nie en inbrekers sal magteloos langs drade op en af draf met al hoe vinniger knippende rubber-knippers.

Stormloop
Ontwikkelaars het’n vreeslike ding in ons kontrei kom doen. Oorle Kaalvoet Jan het gesê dat ploteienaars soos ’n trop uitgedorste buffels op ’n hoë-digtheid ontwikkelaar se aanbod om te koop, afhardloop. En dit sonder om enigsins om te gee wat daarna met die ou stukkie grond gebeur wat hulle dekades lank vertroetel het. Ons vra die elfies om te werk aan ’n soort bril. As jy hom opsit kan jy nooit weer bome of gras of grond of selfs enige rondings sien nie. Jy sien net vierkantige vorms, bakstene, plaveisel, teëls en sinkplate.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger