Gister en eergister se Januaries uit ?Panorama? en ?Lantern? PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 26 January 2009 23:02
Untitled Document

Verslanking is nie net deesdae ’n Januarie-tema na Krismis se groot-eet nie. Dit was al so in Januarie 1956. Ons kyk terug na Januarie-onderwerpe in twee kultuurtydskrifte en kom agter hoe goedkoop vakansies in ons land tot so onlangs as 1988 nog was; hoe presidentsvroue se voorname nie belangrik was in 1977 nie; hoeveel geregistreerde kiesers ja gestem het in 1983; wat die voorspellings was oor Afrikaanse musiek in 1987 en oor pretdraf byeenkomste in 1986.

Verslanking in 1956
Verslanking is al baie jare ’n gewilde onderwerp in vrouetydskrifte, alhoewel presies hoe ’n slanke vrou moet lyk, vandag drasties anders is as in die vyftigerjare. In Januarie 1956 het selfs die kultuur-tydskrif‘ Lantern’ ’n hele 16 bladsye aan ’n verslanking-afdeling afgestaan.

Tanganjika word mondig
In ‘Lantern’ se Januarie-uitgawe van 1962 word vertel dat Tanganjika op 1 Desember 1961 die eerste van die Oos-Afrikaanse state en die jongste Afrika-staat was om onafhanklikheid te kry. Die naam ‘Tanganjika’ het gekom van die samestelling van twee Ki-Swahili woorde, naamlik ‘tanga’, ’n seil, en ’nyika’, ’n plato – tekenend van ’n land wat uit water en hooglande bestaan. Tanganjika is vandag deel van Tanzanië.

Transkei se geboorte
Transkei is in vrede gebore, sê die ‘Panorama’ van Januarie 1977. Dié land het om middernag 25 Oktober 1976 onafhanklik geword en die artikel lewer verslag oor die feesvieringe rondom die gebeurtenis. Op die foto is die Transkeise President, Botha Sigcau en sy vrou, saam met die Suid-Afrikaanse Staatspresident, Dr N Diederichs en sy vrou. Die vrouens se name word nie in die onderskrif genoem nie.

Eerste Indiërmatrose
In Januarie 1979 berig ‘Panorama’ dat die eerste Indiërmatrose in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Vloot nou opgelei word “om hul plek vol te staan in die verdediging van Durban”. Die artikel lui dat die instelling van “die Diensbataljon vir Indiërs weer eens ’n bewys is dat die regering die Indiërs as volwaardige burgers van Suid-Afrika beskou”. Die opleiding sou duur van 15 Januarie tot 15 Desember.

Kiesers stem toe ‘ja’
Daar is meer as een keer ja gestem in ons land. In ‘Panorama’ van Januarie 1984 word die 2 November 1983 referendum oor die voorgestelde nuwe grondwet vir Suid- Afrika bespreek. Daar was 2,7 miljoen geregistreerde kiesers en 76,02% van hulle het gestem: 65,95% het ja gestem en 33,53% het nee gestem. Eerste Minister, PW Botha, het gesê hy verwag dat die uitslag die begin is van ’n nuwe era van nasionale eenheid oor taalgrense heen.

Adoons en kie
Onthou julle vir Oom Kaspaas, Nefie en Tan’ Engeltjie? Of wat van Adoons, Fielies, Katoo en Dr Kaas Windvogel? In Januarie 1985 doen ‘Lantern’ ’n indiepte artikel oor Thomas Ochse Honiball, pionier van die Afrikaanse strokiesprent en skepper van plaaslike humoristiese tekenprente.

Pretdraf word ’n tendens
In Januarie 1986 bespiegel ‘Panorama’ oor die pretdraf en – loop tendens in ons land. Daar word gesê dat dit lyk of dit nou ’n instelling begin word. Die foto’s wys die kwart miljoen mense wat deelgeneem het aan so ’n pretdraf by Verwoerdburgstad, toe dié naam nog aanvaarbaar was, op 26 Oktober. Die inskrywingsfooi was R2 per persoon.

Nuwe era vir Afrikaanse musiek
Dit is hoe Lucas Maree en Laurika Rauch in 1987 gelyk het. In Januarie 1987 publiseer ‘Lantern’ ’n artikel genaamd ‘Tuiskoms van die Afrikaanse luisterlied’. Die artikel onderskei tussen die luisterlied, volkslied, kunslied, popmusiek,‘country’ en moderne ‘folk’. Die voorspelling word gewaag dat daar ’n nuwe era in Afrikaanse musiek voorlê.

.

Uitsaai op sy beste
Esmé Euvrard, legendariese aanbieder van radioprogramme, was in Januarie 1987 se ‘Panorama’ te siene toe sy deelgeneem het aan die Dierebeskermingsvereniging se kleurryke optog deur Johannesburg se strate. ‘Uitsaai op sy beste’ was ’n artikel oor die SAUK wat in 1987 vyftig jaar oud was.

Vakansies was spotgoedkoop
‘Panorama’ van Januarie 1988 verduidelik dat Suid-Afrikaanse vakansies met die daling van die rand spotgoedkoop geword het vir oorsese toeriste. Die verblyfpryse wat in dié artikel genoem word, klink vir ons in Januarie 2009 na ’n sprokiesverhaal. ’n Tweebed hut in die Krugerwildtuin het R36 per dag gekos. ’n Vier-dae toer van Johannesburg na die Krugerwildtuin kos sowat R400 en sluit aandete en ontbyt in. ’n Woonstel aan die Natalse noordkus het buite seisoen R25 ’n dag gekos. Voetslaners se oornag hutte was R2 per persoon per nag. Dieselfde artikel noem dat ’n 100 g stafie Toblerone minder as R3 kos en dat 20 avokado’s R3 kos by ’n straatsmous.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger