?Ek gaan jou kaal uitrek . . .? Print E-mail
News - Briewe
Monday, 23 February 2009 19:45
Untitled Document

Deon van Rensburg skryf:
Ek het in my lewe nie gedink dat ’n man van die reg my ooit sal dreig met die woorde: “Laat julle nou net die storie in Die Bronberger plaas, dan trek ek julle kaal uit.”

Die dreigement gegewe die omstandighede laat my as inwoner skielik baie onveilig voel, gegewe dat die persoon wat my gedreig het in beheer van die Boschkop Polisiestasie was die aand van 3 Februarie.

Ek het nog altyd geglo dat as jy iemand vang wat steel en dan nogal bewyse op video-band het, dat jy die polisie help deur die persoon dan te oorhandig. Grote Griet, my ontnugtering was groot toe ek moes staan en toekyk hoedat die polisie weier om na die video materiaal (bewyse) te kyk en nog minder met die persoon wil praat wat geïmpliseer word – en glo dit, die geïmpliseerde eintlik begin beskerm.

Skielik is ek die een wat gedreig word. Op ’n stadium kon ek my eie oë en ore nie glo nie en het geweet my vriende gaan my nie glo as ek die storie vertel nie. Ek besef dat ek dit wat ek sien met my selfoon moet afneem.

Dis toe dat die geregsdienaar my fisies te lyf gaan, amper my vingers afbreek, en die foon wil gryp. Die besef dring toe tot my deur dat die kaptein ongemaklik moet wees oor die manier hoe hy my hanteer. Dis toe dat ek gedreig word met die kaal uittrek storie.

Ek probeer nou nie om te veel daaraan te dink hoe dit moet wees om deur ’n polisieman kaal uitgetrek te word nie, maar is veel eerder bekommerd oor die soort beskerming wat die gemeenskap geniet en hoeveel ek regtig op die deel van die gereg kan staatmaak wat veronderstel is om my te beskerm eerder as uit te trek. Terloops, ek was nie eens deel van die klag wat gelê is nie, net ’n onskuldige bystander wat nie kon glo wat ek sien nie.

Supt. Groenewald van die Boschkopse Polisiestasie antwoord:
Die SAPD Boschkop kan op hierdie stadium geen kommentaar lewer ten opsigte van bogenoemde voorval nie aangesien die onskuldige bystander onvoldoende inligting weergee in sy brief. Verklarings deur die betrokke lede van die publiek sal verwelkom word sodat die saak behoorlik ondersoek kan word.

 

© 2020 Die/The Bronberger