Honde weer welkom in reservaat PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 May 2017 14:20
Untitled Document

Honde is sedert ‘n hofuitspraak op 12 Mei weer welkom in die Faerie Glen Natuurreservaat. Dit is nou mits hulle aan leibande vas is en ‘n toegangspermit het.

Die metropool van Tshwane se stadsraad het die verbod op honde vanaf 1 Januarie ingestel. In Februarie het ons berig dat Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat en mense wat gereeld in dié reservaat met hulle honde stap, hofverrigtinge aan die gang gesit het om die verbod op honde in die reservaat ter syde te stel.


Bridget en haar eienaar, Martinus (Tienie) Cronje, sien uit daarna om hulle oggendstappies te hervat

Die Vriende het op 25 Januarie hofdokumente aan die stadsraad bedien. Ná onderhandelings het die stadsraad besluit om nie die Vriende se aansoek in die hof teen te staan nie. Volgens die hofuitspraak op 12 Mei is die verbod op honde in die reservaat gelig. Honde moet egter aan leibande vas wees en hulle ontlasting moet opgetel word. Die Vriende gaan plastiese sakkies vir dié doel aan honde-eienaars voorsien.

‘n Permitstelsel, soortgelyk aan die een wat op Tafelberg Nasionale Park geld, word voortaan toegepas. Die stelsel gaan deur Tshwane Natuurbewaring geadministreer word. Permit-aansoekvorms is by die kassier by die reservaat se ingang beskikbaar.

Slegs honde met permitte sal in die reservaat toegelaat word. Daar word beraam dat dit ongeveer drie werksdae sal neem om so ‘n permit uit te reik. Die permitte, wat aanvanklik gratis is, sal vanaf Julie volgende jaar ‘n sekere bedrag begin kos.


Honde aan leibande word weer tussen die wild in Faerie Glen Natuurreservaat toegelaat
Foto: J Engelbrecht

Die Tshwane Metropolitaanse Polisiedepartement het ingestem om die verordeninge af te dwing en sal in die reservaat teenwoordig wees om aksie teen oortreders te neem. Lede van die publiek wat honde-eienaar sien wat nie dié verordeninge gehoorsaam nie, word gevra om klagtes te lê.

Informele klagtes kan by die Vriende gelê word en formele klagtes by die polisie. Lede van die publiek sal met dié klagte-stelsels ‘n belangrike rol speel om permithouers wat die reëls verbreek, aan te meld.


Bodi kan weer die uitsig vanaf die Bronberg in die reservaat geniet

Die reservaat is in Junie 2014 amptelik as ‘n natuurreservaat geproklameer en verskeie wildspesies is daar gevestig. Louise Kritzinger, voorsitter van die Vriende, sê dit is glad nie die Vriende se doel om die reservaat van sy bewaringstatus te ontneem en dit in ‘n hondepark te omskep nie.

“Indien honde op ‘n verantwoordelike wyse in die reservaat toegelaat word, kan dit nie ‘n negatiewe uitwerking op die omgewing hê nie,” sê Louise.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online