Markdag by mooi sinkhuis . . . PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 29 May 2017 14:22
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dis Sinkhuismarkdag op Cullinan: ‘n Sporadiese lekkerte wat by vermaakkunstenaar en kosprogramaanbieder (TV en radio), Willie Strauss, se geskiedkundige huis gehou word.

Koue en reën is voorspel en die weerman is jou werklik dié keer in die kol, maar met die intrapslag is dit duidelik dat die trietsigheid nie veel van ‘n geesdrifdemper is nie. Almal is daar – amper soos met Osbraai op Kromdraai, net baie anders.


Markmeester en sjef, Willie Strauss, beweeg tussen die kombuis en die gaste in die tuin

Uitstallers het hulle kraampies oral in die mooi tuin staangemaak en allerlei oulike handvaardighede word aangebied. Maar ons is hier vir die kos. Willie se kos . . .

Op ‘n swartbord voor die buitegeboutjie van blik, wat onder meer die betaalpunt huisves, is die warmkosspyskaart op ‘n swartbord neergekryt: Geregte wat nie alledaags in restourante is nie.

Regterhandman, Etienne Smith, beman die bestel- en betaalpunt en ook die groot pot warm glühwein wat hy vir jou in ‘n blikbeker uitlepel.


Etienne Smith beman die glühweinpot

Jy kan by ‘n tuintafel aansit en jou keuse uit ‘n blikbord geniet, of jy kan dit in ‘n wegneembak huis toe vat: Afval en stampmielies (R80), lewerkoekies en kapokaartappels (R40), pap en kaiings (R40), groente- of botterskorsiesop met ‘n broodjie (R40), tong met sjerrie-mosterdsous (R50) en bobotie (R40) en R50 met slaai.

Vir ‘n lekker kerrieafval is ek baie partydig en ek weet Willie, wat op ‘n Noord-Kaapse skaapplaas mensgeword het, ken sy pad om pens-en-pootjies, maar ek troetel juis in die laaste tyd ‘n verlange na ‘n beestong met mosterdsous. Vir Metgesel bestel ek die botterskorsiesop en later is sy bly oor my wenner-wegneemkeuse.

Dit is veral die broodjie wat haar waardering wegdra. Willie het mooi broodjies gebak. Dit lyk soos ‘n boerbrood – net heelwat kleiner en volgens Metgesel is dit nie ingedeegde wind soos vandag se winkelbrood nie, maar goeie en gewigtige brood wat tevrede in die maag loop lê.


Die fudge wat ‘n huistoeskryfbrief verdien

My beestong met sy sjerrie-mosterdsous stil die verlange daarna in my gemoed en gestel. Dit smaak presies soos ek wou hê dit moet.

Een van die hoofredes vir my besoek aan vandag se Sinkhuismark is om aankope te doen vir more se Moedersdag. Moeder van Metgesel moet bederf word met Willie se kunstige tuisgebakte en -geboude lekkernye. ‘n Langtafel of twee dra swaar aan dié produkte en ek pak die inkopietog al kwylende aan.

Later durf ek die langpad huis toe aan met hertzoggies, appelrosies (!), sjokoladekolwyntjies, anys-oliebolletjies, melktert, vleispasteitjies, kweperlekkers, gemelkterte pannekoek en baie dekadente fudge: My keuse vir die moeder van ‘n koek-en-tee wat op more wag. Daar was nog om van te kies, maar ek volstaan want eetgoed van elders is ook reeds aangekoop.

Alles is baie keurig en met sorg gemaak en Moeder van Metgesel meen die volgende dag dit is eintlik te mooi om te eet, maar dan ook te lekker om te los.


Markgangers het in getalle opgedaag ondanks die koue en reën

Ek dink dis baie slim en oorspronklik van Willie-hulle om ‘n kaneelpannekoek met melktertvulsels te laai, maar Metgesel bars my ballon en sê dat sy dit jare gelede al geken en geniet het.

Die appelrosies is prentjiemooi en die tekstuur en smaak maak dat Metgesel dit as haar gunsteling kroon. Mooi en lekker is die kolwyntjies ook – kyk maar hier neffens op die foto, dan stem jy dalk saam.

Die maalvleispasteitjies, anys-oliebolletjies (amper soos vetkoekies, maar gekrui, amper soos tjilliehappies, maar dit byt nie) en hertzoggies kan jy maar oor huis toe skryf. Maar dis die uitsonderlike Amarula-fudge wat jy maar saam met ‘n lofsang en ‘n foto in jou huistoeskryfbrief kan aanstuur. Genoegsaam vir my om te sê, is dat Willie se fudge ‘n soete ervaring is.


Mooi en smaaklike appelrosies, kolwyntjies en hertzoggies

Soos gemeld word sporadies markdag by die sinkhuis gehou, maar tussendeur bied hulle ook gesellige langtafel-etes aan. Tuisprodukte, soos Willie se legendariese sjokolade-vrugtekoek, kan ook bestel word.

Jy kan navraag doen per e-pos by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , of loop vra gerus jou vraag op Die Sinkhuismark se facebook-blad.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online