Honderde kuierplekke oor 15 jaar beproef PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 25 September 2017 19:30
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel het oor die 15 bestaansjare van die Bronnie heen by honderde kuierplekke in die Bronberg-gebied ingeval en verslag oor hulle ervarings gedoen. Ons lig hier enkele kuierplekke uit wat na ons wete vandag nog bestaan en fokus eerder op hoe Vreethans die atmosfeer gevind het, as op dit wat genuttig is.

Koffietijd, 2008

Net ’n klein entjie van die koöperasiewinkel af dra ons bene ons deur die eetvertrek van Koffietijd tot agter in die tuin.

Ja, ek bevind my al weer in ’n teetuin, maar dié keer is die klem openlik op koffie. Koffietijd, op die Hollandse manier. Ons neem stelling in op ’n parkbankie wat voor ’n tafeltjie staangemaak is. ’n Groot en mooi sambreelboom, van die papierbas-soort, verskaf welkome koelte teen die hetige son.

Vriendelike waarskuwing: As jy self effe breed van bas is, wil jy nie by een van die tafeltjies met die groen, metaalstoeltjies loop sit nie, tensy jy natuurlik ’n vraat vir pyn is.

Aan die een kant van ons is ’n mak dieretuintjie waar kleingoed se opgewonde stemmetjies elke dan en wan deur die kras geskreeu van ’n reuse papegaai uitgedoof word. Aan die ander kant is Plantland se kwekeryplek.

Oral by die ander tafeltjies is groepies kletsende vrouens saamgekoek. Ek tel agtien vrouens, ses stootwaentjies en ’n hele aantal kleuters wat nie lank genoeg stilstaan om behoorlik getel te kan word nie. Ek tel net een man, en dit as ek myself bytel. Lekker gesellig by dié Koffietijd.

Boma Café, 2016

Ek het al vergeet hoe besig die groot dorp op ‘n Saterdag kan wees. Die verkeer knoop behoorlik in en om Garstfonteinweg en ek doen sporadies dieselfde agter die dieselwa se stuurwiel. Gelukkig sit Boma op die noord-oostelike hoek van die bedrywige koopsentrum. Hier is genoeg oop parkeerplek en ons hou jou werklikwaar vlak by die kuierplek onder ‘n koelteboom stil.

Dié plek het ‘n ruim kuierstoep, waar ons deur ‘n vriendelike kelner na ‘n netjiese tafeltjie vergesel word. Die kelner is ewe netjies uitgedos. Die binnewerke van die plek is smaakvol ingerig, met ‘n mooi kroegie, nog kuiertafels en ‘n biltong- en vleisdelikatesse.

‘n Wakker briesie werk met die hitte se gal. Hier op die hoekstoep is jy die erge gewoel van koorsagtige koopgieriges gespaar. Buite druis die verkeer met Garstfonteinweg verby. Met ‘n bietjie verbeelding en hulp van ‘n glas of wat rooies, kan jy jou wysmaak dis die see wat jy hoor.

Bronberg Lodge (restaurant), 2007

Dis ‘n onopgesmukte plek sonder pretensies. Die mense (personeel en gaste) is vriendelik en gemoedelik. Jy voel jou gou daar tuis – amper soos wat jy dit by jou oom se plaasopstal sal ervaar.

Kuierplek is daar in oormaat. Jy kan jou sit in die ruim kroegvertrek by ‘n tafeltjie kry of jy kan die lang stoep of lapaplek vir jou aansit kies. Ons kies ‘n regte ou eetkamertafel – soos op jou oom se plaas – hier lekker naby aan die kroegtoonbank.

Gusto Latino, 2015

Die kuier op Gusto Latino se stoep het veral lekker geraak toe ‘n swartgeklede man, duidelik van Latynse herkoms, opstaan en een van die Spaanse kitare opneem. Die ou het ‘n swart mantel saam met sy swart klere aan en swart hoed op sy kop.  Metgesel meen hy lyk amper nes Batman.

‘Batman’ streel die snare van sy Spaanse kitaar en met ‘n baie goeie stem begin hy spontaan om Latynse liedjies te sing. Toe sy vrou, met ‘n nog beter stem by hom inval, raak dit eers lekker en toe ons en ander op die kuierstoep (met minder goeie stemme) ook inval, raak dit oor-lekker aldaar.

Tina Skukan, 2009

In die hartjie van ou Faerie Glen sit een van die dorp se bes bewaarde geheime op ’n rustige kleinhoewe teen die hang van die Bronberg. Ja, ’n hoewe, ’n plot in Faerie Glen.

Hier het Tia Nigrini ’n merkwaardige kunsgalery ingerig en dit na haar ma vernoem; die Tina Skukan Kunsgalery. En dis hier langs Koedoebergweg wat jy die oulikste kuierplek sal kry.

Die atmosfeer by dié tuinkafee is rustig en ontspanne. Dis mooi en baie stil en ons stap eers rustig deur die tuin en verskillende vertoonlokale en bewonder die kunswerke van uiteenlopende aard en omvang.

Dan neem ons plaas op die stoep van die uitspanplek. Ons kies die diep, outydse gemakstoele in die hoek. Jy kan ook in die koelte van die groot bome in die tuin sit.

Du Plooy Melkery, 2014

Die vriendelike pienkbont koei langs die pad na Rayton, trek lank reeds my aandag. Sy staan lewensgroot en geduldig onder ‘n strooihoed langs die Kaalfonteinhoewes, om die afdraaipaadjie na Du Plooy Melkery aan te dui.

Op ‘n sopnat Maandag vat ek dié paadjie, langs weiende swartbont koeie, miniatuur perdjies en skroppende werfhoenders verby en hou voor die kleurvolle winkel stil. Vandag wil ek plaasprodukte aankoop, en sommer met die intrapslag weet ek, ek is op die regte plek.

Die Du Plooy’s van Kaalfontein maak bykans elke ding denkbaar wat ‘n mens van koeimelk kan maak en verkoop dit teen groothandelpryse, kan jy maar sê, in hulle winkel op die plaas.

Broodblik & Koffiepit, 2011

Vyf kilometer van Bapsfontein af, neffens die vaal, reguit pad na Springs, staan ‘n ou opstal met ‘n lekker rondomstoep. Hou gerus stil as jy dalk daar verbybeweeg. Of rig ‘n tydjie in en ry aspris soontoe. Jy sal nie spyt wees nie.

Want in dié ou winkel wat hulle oupa Watkins in 1933 gebou het, het sy nasate ‘n baie spesiale kuier- en koopplek ingerig. Hulle noem dit Broodblik en Koffiepit.

Ons sit op ‘n Saterdag af Broodblik en Koffiepit toe. Die wonderlike reuk van vars gebak verwelkom jou as jy by die voordeur instap. Oral op die rakke is gebak, gebottel en tuisgemaakte snuisterye uitgestal. Kompleet soos ‘n plaaskombuis uit ‘n ander era.

Boskombuis, 2013

Anderkant Rayton, op die pad na Kleinzonderhout, draai jy regs af en voor jy Kleinfontein kry, sit Die Boskombuis regs – weggesteek in ‘n swart wattelbos. Met die stilhouslag is dit duidelik dat die plek reeds gewildheid onder die ‘baaikersbrêkvisbrigade’ verwerf het. Brulperde van alle denkbare soort en kleur staan gedienstig buite en wag op hulle ruiters.

In Die Boskombuis se lywige lapa tussen die bome brand ‘n ewe lywige vuur. Ons neem by een van die tafels plaas en ’n vriendelike kelnervrou bring koffie nader. Die koffie lyk en proe op dié wat jy by ’n Wimpy sal kry. Lekker en warm genoeg vir my sodat ons dadelik ’n opvolgbestelling insit. Het ek gesê dit was die eerste regte Winterdag van dié jaar?

Baie van die ruiters verkies iets kouer uit die kroeg om warm te maak en ek kan goed verstaan hoekom.

Cockpit Brewhouse, 2012

Een van die vriendelike, kundige kelners of broumeester André self, staan byderhand om jou oor die fynere dinge van elke brousel in te lig: Genoeg inligting oor subtiele kruie-, bessie-, ‘bisket’- en selfs ‘banana’-smake, en oor pilsener-mout en adellike hops om enige wynsnob op sy neus te laat kyk.

Omdat Andre lugvaartbefoeterd is, dra sy bier, soos sy plek, name wat met vliegtuie te doene het.

Waar jy buite in die voortuintjie van die ou klipskakelhuisie in Cullinan se Oaklaan sit, sal jy kan proe aan biere soos Spitfire Pale Ale (van Engelse aard), Mustang Ale (Amerikaans) en Fokker Weis, wat vernoem is na ‘n Duitse vliegtuig – regtig.

By Cockpit kan jy ook enkele mengeldrankies (cocktails) met ‘n bierbasis geniet, of kies uit ‘n verskeidenheid enkelmout-whiskies. Hulle hou ook ‘n beperkte verskeidenheid, billikgeprysde wyn en ‘n redelike keuse van ander harde- en sagter hout aan, En, o ja, het ek al gemeld dat jy ook aldaar kan loop eet?

My naam is immers nie Drinkhans nie en ons is eintlik oorspronklik op ‘n onlangse, lui Sondag na Cullinan se Cockpit toe om ‘n ietsie vaster vir die innerlike te beproef.

Square Times Café, 2010

Ek vra my persoonlike Valentyntjie om saam met my by Square Times Café by Olympus se Boardwalk te loop kuier, want dis toevallig Valentynsdag, en Metgesel sê die saak is reg.

Die onderste vlak van die plek is redelik gepak. Lekker sit al die Valentyntjies in die oopte langs die dammetjie, maar ons rigting is by die trappe op, na die nuwe sitkamer waar hulle vir jou dankie sê oor jy rook.

Die enigste probleem, sê die kelner, is dat ons self sal moet trappe op en af as ons aan die buffet wil meedoen. Ons wil nie noodwendig nie en kelner gaan wys ons die plek.

Jy kan binne in die sigaar-sitkamer in diep rusbanke sit en ontspan of op die balkon. Net een ander paartjie sit op die balkon en handjies hou, soos dit op dié rooihartdag hoort, en ons neem plaas by ’n tafeltjie met ’n uitsig oor die boomtoppe heen op die dammetjie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online