Lesers praat oor 15 jaar van Bronnies PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 25 September 2017 19:31
Untitled Document

Ons het ‘n aantal gewaardeerde lesers gevra om hulle mening oor en ervaring van 15 jaar se Bronnies te gee. Dieselfde vier vrae is aan elkeen gestel, maar hulle is ook vrye teuels gegee om enigiets by te voeg, sou hulle wou. En hulle wou. Die vier vrae was: 1. Hoe, waar en wanneer het jy die eerste keer met Die Bronberger kennis gemaak? 2. Van die redaksionele inhoud, wat lees jy die graagste en geniet jy? 3. Wat, of waarvan sou jy graag meer in die Bronnie wil sien, of wat stel jy voor kan ons doen om die inhoud te verbeter? 4. Volg jy die advertensies in die Bronnie en ondersteun jy (soms, dikwels) ons adverteerders?

'n Klas van sy eie

Buks Barnard, Nooitgedacht
Ek kan nie eers onthou waar ek vyf minute gelede my bril neergesit het nie, maar ek dink dit kon honderd jaar gelede by die ou Egons gewees het waar ek Die Bronberger die eerste keer gesien het.

My tafelgenote moes toe maar verder sonder my sprankelende geselskap klaarkom, want ek was besig om te lees.

Die geskiedenisstories is vir my die beste en die interessantste, maar daar is niks in Die Bronberger waarvan ek regtig nie hou nie.

Die Bronberger is reeds die beste tydskrif wat ‘n mens kan kry, maar ‘n blokraai sal hom nog beter maak.

As ek die dag nie anders kan as om iets te moet koop nie, sal ek beslis voorkeur gee aan ‘n onderneming wat in die Bronnie adverteer.

Die Bronnie is in ‘n klas van sy eie; nie net omdat die ander tydskrifte vandag so vals en so vrot is nie, maar omdat die Bronnie werklik skoon, leesbaar en interessant is. ‘n Mens kan baie daaroor sê, maar daar is veral twee dinge wat my baie positief stem:

Die Bronnie het, soos dit ‘n fatsoenlike, professionele tydskrif betaam, vier kolomme. Dit lyk beter, lees makliker, bied meer ontwerpmoontlikhede en is vriendeliker teenoor adverteerders as die amateuragtige, lesersonvriendelike drie kolomme waarmee sommige ander tydskrifte hulleself soos tienderangse laerskooljaarblaaie laat lyk.

Ek beweer nie dat daar nog nooit ‘n taalfout in Die Bronnie was nie (die drukkersduiwel loop oral rond soos ‘n briesende leeu), maar dit is duidelik dat groot moeite gedoen word om keurige, korrekte taalgebruik te handhaaf. Dit verhoog die geloofwaardigheid en nut van die tydskrif en getuig van respek teenoor die leser. ‘n Mens voel skoon en goed as jy die Bronnie lees.

Uiterste geluk met julle eerste vyftien jaar en mag die gehalte die volgende 150 jaar net so hoog bly.

Hou dit net so

Alet Erasmus, Kleinfontein
As ek terugdink, is dit nou so 14 jaar gelede wat ek die eerste keer ‘n Bronberger onder oë gehad het. Daarna het ek altyd uitgekyk vir die nuwe uitgawe en kon nie glo dat so ‘n glansblad kosteloos vir sy lesers beskikbaar is nie.

Ek waaier-blaai altyd die Bronnie van agter af deur om te kyk vir interessante kosdinge uit die ou dae wat ek dan met die redaksie se toestemming in my Kuierkombuisprogram met my luisteraars deel. 

Volgende is die lesers se foto’s uit die omgewing – elkeen met ‘n storie by. Altyd lekker om te sien waar ‘n fotograaf ‘n ander hoek gebruik, of iets anders meer uitlig in ‘n foto. Die Bronnie voorsien in interessante en ligte leesstof. Hou dit so!

Wanneer iemand my vra oor die een of ander kontrakteur of onderneming, verwys ek graag na die Bronnie se adverteerders, veral wanneer iemand in die omgewing se dienste benodig word. Dit is ook lekker om goeie terugvoer te kan gee van so ‘n adverteerder.

Altyd lekker om van mense te lees wat jy ken en wanneer jy in die Bronberg-distrik bly, weet jy dit is moontlik.

Deur middel van die Bronnie leer ons ook ons omgewing ken. Die Bronnie bevorder omgewingsvriendelike ruimtes en help om mense bewus te maak wanneer iets skadelik vir die omgewing is.

‘n Pragtige pluspunt is die besonderse publikasie wat verskyn het met inligting wat in Die Bronberger was. Die koffietafelboek, ‘Toeka se Dae – Die Karakters’, is voorwaar ‘n aanwins vir die nageslag.

Die Bronnie bly ook nie net in die omgewing nie, skoonsus lees ewe lekker saam in Australië en wanneer ek my kopie van Die Bronberger kry, neem ek altyd een vir my Ma wat in Pretoria woon. Sy lees net so lekker saam.

Baie dankie aan die redaksiespan wat elke maand ‘n keurige tydskrif vir ons saamstel.

Bindende artikels

Gnatius de Lange, Bashewa
Ek het die eerste keer die tydskrif raakgevat toe Lion Bridge Hardewarewinkel nog op plek was by hulle ou perseel in Lynnwoodrif. Daar is die ding op die toonbank – gratis? Iets verniet wat interessant lyk? Vat maar versigtig een en loop daarmee.

Ek was daarna toe maar op die uitkyk vir die Bronnie. Kon dit so hier en daar kry na Lion Bridge uitgetrek het. Daai jare het ons nog aan die verkeerde kant van die spoorlyn in die skadu van die Telkom-toring op Lukasrand gebly. So net suid van Sunnyside, maar te ver noord om as inwoners van Muckleneuk te tel.

En drie jaar gelede maak ons maar ’n skuif na Maplotterland – te wete Bashewa. Dis daar waar my belangstelling weer opgevlam het om meer te weet en die omgewing te verken as ’n nuweling hier en ’n ander lewenstyl.

Redaksioneel nog altyd bindende artikels – ‘n mens weet dat Angie weer êrens ou verhale gaan oopkrap en aanbied.

Adverteerders – julle staatmakers. Het al van hulle ondersteun. As ek een mag uitlig sal die melkery so net voor Rayton hier uit die suidekant aan linkerkant wees. Hulle bly my beste ondersteuning kry vir lekker kaas.

Die besoeke aan plaaslike eetplekke wat deur Vreethans beskryf word, is beslis iets wat nie moet vergaan nie. Daarmee saam mag julle dalk dink om ’n resephoekie te plaas waar die topgereg so effe beskryf word deur die betrokke gaarmaker. Dié is nie ’n uitnodiging vir ieder en elk om oupa se bobbejaanbiltong se maak te deel nie.

Artikels oor die wild, voëls en plante in die area is ook altyd welkom. Sonder eie kinders is ek neutraal oor skoolverwante artikels, dog het dié ’n waardevolle plek vir betrokkenes.

Bronnie se tannie

Esperance Grobler, Wapadrand
Ek voel asof ek ‘n tannie van Die Bronberger is, want as ek terug dink aan die Bronnie se ontstaan, en ook aan die 15 jaar wat hy gegroei het, dink ek aan my  dogtertjies wat onderskeidelik maar vyf jaar en een jaar oud was. Hulle is nou 20 en 16.

Ek het saam met Gerhard en Angie die lief en leed deur die jare beleef, die krisisse, en ook die wonderlike hoogtepunte. Ek onthou jare terug se gedigte-aande waar ons tot laatnag gesit en kuier het, en ook die Bronberger-kontreimark, waaroor daar eintlik ‘n hele boek geskryf kan word.

Die voorblaaie herinner my altyd aan die tydperk waardeur ons almal se lewens gedraai het. Ek dink aan die Kersfees-uitgawe, toe ek en Angie sit en kuier het by hulle buitestoepie hoog bo in die Bronberg, en sy die tafel met blinkgoedjies wat uit die boomtakke afgehang het, afgeneem het met sonsondergang. Die foto was op die voorblad. Ook albei my dogtertjies was al voorbladgesiggies.

En dan die dag wat ek en Angie met groot avontuur ‘n windpomp gaan soek het, en ek soos wafferse model daarop gaan sit en pryk het vir die voorblad. Ons het daardie dag so gelag, dis snaaks dat ek nie afgeval het nie!

Om die vrae te beantwoord: Ek het Die Bronberger geken nog voor hy gebore is! Die eerste uitgawe was ‘n pronkstuk, en soos ‘n wonderwerk-baba waarvan ek die geboorte beleef het.

Ek lees altyd eerste ‘The final word’, beslis my gunsteling. Ek ervaar dat dit altyd tot my spreek en my eindeloos inspireer.

Toeka se Dae geniet ek ook baie. Die navorsing wat daaragter sit, asook die unieke foto’s, maak dit geweldig interessant.

Vreethans is my ander gunsteling. Ek waardeer Vreethans se sêgoed en eerlikheid. Ou Poon se
Plotpraatjies se unieke Afrikaanse taalgebruik, is vir my baie amusant.

Ek het geen kritiek teen enige inhoud, uitleg of materiaal in die Bronnie nie. Wat ek wel sou geniet, is om meer mense, saam met die natuur, in plaas van net die natuur, op die voorblaaie te sien. Maar dit is maar my persoonlike smaak. Die fotografie is altyd van hoogste gehalte en baie toepaslik.

Ja, ons volg gereeld van die advertensies vir dienste, en het ervaar dat adverteerders in die Bronnie mense is wat hulle roepings ernstig opneem. Daarom, as ons byvoorbeeld ‘n nuwe loodgieter soek, gaan kyk ons in Die Bronberger wie geadverteer het.

Namens my, Johannes, Danielle en Tanika: baie geluk, Bronnie, met jou 15de verjaarsdag. Hierdie tannie van jou is erg trots op jou, wat deur baie maalkolke van die lewe beweeg het om te wees waar jy nou is: ‘n Baie unieke tydskrif van gehalte wat vir niks terugstaan om die interessantste gebeure en inligting van ons Bronberg-gebied oor te dra aan sy lesers nie, en dit boonop  gratis.

Lekker warm gevoel

Max Steenkamp, Pretoria
Ek het die Bronnie die eerste keer by Bafana Cash Store gesien. Die winkel het destyds aan my behoort en was van die heel eerste uitgawe af ‘n verspreidingspunt van die Bronnie.

Ek geniet Toeka se Dae, aktuele stories oor die omgewing en die verslae oor eetplekke in die gebied.

Die Bronberger kan dalk meer betrokke raak by welsynsaksies in die omgewing. Julle het die gemeenskap se aandag en daar is soveel behoefte. Insamelpunte vir behoeftige mense en diere van die omgewing kan in die Bronnie gestalte kry deur artikels oor welsynsaksies saam met die gemeenskap.

Ek ondersteun die Bronnie se adverteerders, veral die kwekerye en perdegoed, of wat die behoefte mag wees. Dit wissel, maar ek kan dit in Die Bronberger kry.

Ek sal dan net graag wil noem: Om ’n Bronberger te kry is soos om huis toe te gaan . . . dis ’n lekker warm gevoel en kosbaar!

Advertensies soos kontreimark

Breytie Breytenbach, Mooiplaats
Met die eerste Bronnie in my hand, was my onmiddellike gedagte dat dit onmoontlik gaan wees om so ‘n kwaliteitproduk volhoubaar gratis te versprei, maar dit was sekerlik ‘n manier om lesers te beïndruk sodat hulle in die toekoms baie hoopvol sal aanhou om die soveelste amateurpoging te ondersteun, het ek gedink. Natuurlik het ek nie op daardie stadium vir Gerhard en Angie geken nie.

Ek kon nie op daardie oomblik voorspel hoe hulle vir my persoonlik ruimte sou gee om die saak van ‘n mislukkende polisiestasie en ‘n sukkelende gemeenskapspolisiëringsforum vir die gemeenskap oop te breek nie; dat hulle getrou sou bly in die lang stryd om ‘n georganiseerde gemeenskap daar te stel nie.

Vandag is dit die een ding wat my nog steeds die meeste tref: hulle vermoë om so intiem saam met die mense van die omgewing te beweeg en tog ook so objektief en aktueel te bly dat Bronnies ver weg van ons af ook op mense ‘n indruk maak.

Ek lees graag alles wat oor ons mense gaan – van die lesersbriewe af tot verslae oor ontwikkeling, morsjorse en stormskade, terwyl my wederhelf, Sophie, eerste blaai na die artikels oor die geskiedenis van ons wêreld.

Die advertensies is vir my soos kraampies op ‘n plaaslike mark en die kommentaar op eetplekke in die omgewing het my al menigmaal gehelp aan ‘n aangename ervaring.

Les bes wil ek my waardering uitspreek vir die handjievol poësie-aande wat lank terug deur hulle moontlik gemaak is. Dit is iets wat ek seker altyd sal onthou.

Gatpad op voorgrond

Marietjie Ahlers, Tierpoort
Ek het agt jaar gelede met die nuwe man in my lewe kennis gemaak en sewe jaar gelede het ek dus ‘n Tierpoorter geword en met Die Bronberger kennis gemaak.

Heel eerste blaai ek na die Tierpoort Seniors se berig, aangesien ek daarvoor verantwoordelik is. Ek geniet elke woord in Die Bronberger. Deon, my eggenoot, is mal oor Toeka se dinge!

Bring asseblief weer die gatpad (Tierpoortweg) op die voorgrond.

Ek vind die advertensies van groot hulp.

Leef op koffietafel

Ben Geldenhuys, Kleinfontein
In ‘mensjare’ is 15 jaar nog maar kind, maar in die lewe van ’n sakeonderneming is 15 jaar reeds ’n senior burger, aangesien min besighede so lank bestaan.

Die redaksie mag maar werklik trots wees op hierdie mylpaal, nie net omdat min ondernemings sulke ou bene kou nie, maar ook omdat gedrukte media groot kompetisie het van die kitsmedia wat die internet teweeg gebring het.

Ons almal weet egter dat kitsoplossings, soos kitskos, nie so gesond is soos kwaliteit-boerekos nie. Dit is ook hoe ek Die Bronberger sien, soos daai bord boerekos van gehalte wat mens Sondae geniet terwyl jy die res van die week haastig een of ander kitskos wegbêre.

Ek onthou nog goed my eerste kennismaking met Die Bronberger. Ons het in 2009 vanaf die Wesrand verhuis en met ons intrek het daar op een van die kombuiskaste ‘n Bronnie gelê.

Nuuskierig oor ons nuwe omgewing, moes die uitpakkery eers ‘n bietjie wag totdat ek Die Bronberger klaar gelees het. Die maandelikse Bronberger in ons huis ‘leef’ nou nie meer op ’n kombuiskas nie, maar het sy plek gekry op die koffietafel in die sitkamer.

Dit is immers ’n kwaliteit-tydskrif wat op kwaliteitpapier gedruk word en wie se koffietafel-leeftyd veel langer is as die maand-datum wat op hom gedruk is.

In ons huis praat, luister, lees, bid, droom en ja selfs stry ons soms, uitsluitlik in Afrikaans. Dit maak Die Bronberger meer as welkom in ons huis. Ons is lief vir die natuur en vir geskiedenis, gevolglik word Toeka se Dae altyd eerste gelees.

As daar iets gekoop moet word, blaai ons deur Die Bronberger om te kyk of daar nie ’n plaaslike onderneming is wat ons kan ondersteun nie.

As ek op hierdie wenresep ’n voorstel mag waag vir verbetering, sal dit wees dat oorweging geskenk word aan ’n kwartaallikse fotokompetisie.

Van die begin af

Juanita Jamneck, Mooiplaats
Ek ken Die Bronberger van die eerste uitgawe af. Ek kan nie onthou waar ek dit gekry het nie, maar dit was waarskynlik nog destyds by ons lekker kuierplek, Nikos. Ek lees omtrent alles, van die briewe en die redaksionele kommentaar af. Ek lees ook al die res, maar het nie altyd tyd om die lang artikels oor die geskiedenis te lees nie.

Ek hou van die Bronnie soos hy is en wil steeds inligting oor gebeure in die omgewing, moontlike ontwikkelings en prestasies van die omgewing se mense, sien. Die artikels moet egter kort en bondig bly en nie oor baie bladsye versprei word nie – ek het nie altyd genoeg tyd om langes te lees nie.

Ek ondersteun baie beslis en dikwels die adverteerders. Die Bronnie is altyd my beginpunt as ek ‘n diensverskaffer soek.

Ek wil voorstel dat julle die advertensies ook op die webblad en Facebook plaas – selfs teen ‘n ekstra fooi. Deesdae het die meeste mense hulle fone by hulle en kyk sommer daarop as hulle iets soek. Hulle gaan soek nie noodwendig die harde kopie nie. Ek gaan soek wel my harde kopie maar ek is oud – nie soos jong mense wat alles op hulle foon soek nie!

Ek maak staat op die Bronnie vir my kinderpartytjies want ek kry nogal besprekings op sterkte van die advertensie daarin. Dit hou ’n mens ook op hoogte van gebeure in die omgewing en veral waar daar dreigende ontwikkelings is. Ek is ook mal oor die briewe waar die gemeenskap hulle sê kan sê.

Reaksie uit Bronnie is beter

Jakes Stadler, Bashewa
Baie geluk aan julle span met die merkwaardige mylpaal van 15 jaar – onafhanklik! Wel gedaan.

Ons het aan die begin van 2005 ‘uit die dorp uit’ na ons hoewe in Bashewa getrek. Van toe af kry ons elke maand Die Bronberger. Dis ‘n tradisie – soos ons gesinsbyeenkomste elke naweek. As ek reg onthou (of moet raai), sou ek sê ons eerste ontmoeting was uit die Farm Shed – net oorkant Grootfontein.

Ek dink die redaksionele inhoud is deurgaans van hoogstaande gehalte, maar ek hou veral van die goed wat met die natuur en diere te doen het. Of dit nou ‘n mooi sonsopkoms of ‘n spoggerige hoenderhaan, my (gunsteling) naguiltjie of ‘n ystervark is. Terloops dink ek (die natuur) is juis die veld waarin ons so bevoorreg en geseënd is in die Bronberg-gebied.

Nog mooi natuur en diere kan nie kwaad doen, wat my aanbetref nie. Net asseblief nie ‘slegte nuus’, soos duisende eertydse troetelvarkies wat huis soek nie. Daar is genoegsame ander publikasies wat op die negatiewe konsentreer.

Ek sou wel inligting wat uit ‘n ekonomiese en/of sakehoek benader word waardeer, maar ook nie die ‘gewone’ morbiede op-pad-na-Zimbabwe nie. Iemand soos ‘n dr Roelof Botha is in staat om die ekonomiese slagveld in ‘n speelveld om te skep, deur slegs die aanslaghoek te verander. Ook kan ‘n verdere gereelde (ligte) inspirasiestukkie dalk help om gemoedere verder te lig – iets wat myns insiens nodig is.

As ‘n adverteerder, wil ek dus graag sien dat die ‘besluitnemers’ ook voortdurend meer betrek word om die publikasie te geniet.

Ek kyk beslis na die advertensies – en dink ook julle uitleg en advertensie-groepering is ‘n (suksesvolle) uitstaande kenmerk.

Ek wil byvoeg dat die papier- en drukkwaliteit myns insiens beslis bydra tot die algemene indrukke van ‘n kwaliteitpublikasie. So ook word die inhoud en advertensies met ‘kwaliteit’ geassosieer – en word daar nie elke maand net nog meer toiletpapier teen 30 sent afslag aangebied nie.

As adverteerder, kan ek met oorgawe (en feitelik) getuig dat Die Bronberger nie net ‘n aansienlike gedeelte van my direkte teikenmark bereik nie, maar ook dat die reaksie uit Die Bronberger merkwaardig en meetbaar beter is as uit advertensies in verskeie ander publikasies.

Ek kan dus pleit vir ‘n groter verspreidingsgebied – om die doeltreffendheid sodoende nog verder te verbeter.
Sterkte vir die volgende 15 jaar.

Versamel uitgawes

Margot Wnuczek-Lobak, Moot
Ek lees en versamel Die Bronberger en het hope – van nommer een af. Sedert ek uit die gebied getrek het, het ek ‘n klompie uitgawes misgeloop, maar gelukkig bring ‘n vriendin van my nou gereeld vir my die nuwe Bronnie.

Ek lees graagste Toeka se Dae en die inligting or die natuurlewe. Verder lees ek ook al die artikels wat te doen het met die omgewingsake en ontwikkelings.

Ongelukkig het ek deesdae baie min geleentheid om van die adverteerders se dienste en produkte te gebruik, maar ek weet dit is in my boeke sou ek iets benodig.

Ek is werklik mal oor die Bronnie!

Van voor geboorte af

Ernst Lösch, Bashewa
Ons het destyds by die eertydse Formosa Teetuin met die Bronnie se mense kennis gemaak voor die tydskrif se geboorte en ken Die Bronberger van die heel eerste uitgawe af.

Ek hou van die historiese inligting en geniet dit om berigte te lees wat die gemeenskap raak. Die gereelde rubriek oor eetplekke in die gebied is ook altyd welkom.

‘n Blokkiesraaisel en wenke vir oumenskwale kan dalk ‘n aanwins wees. Wenke oor die restourasie en die skoonmaakprosesse van ou meubels sal ook verwelkom word.

Ja, ek verwys gereeld kliënte en mense wat navraag doen na die adverteerders in Die Bronberger.

Iets vir almal

Dot Chalmers, Centurion
Hoe my ‘verhouding’ met Die Bronberger ontstaan het?
Ons het ‘n familiebegraafplaas by Kleinfontein en die wetgewing rondom begraafplase het deur die jare baie verander. 

Ek het begin vrae vra oor wat die familie se reg op toegang is, sou die grond in vreemde hande beland en wat sal gebeur sou ons verdere familielede daar wil begrawe. So het my pad met dié van Johan Viktor gekruis, ‘n leser van die Bronnie en ook ’n lid van die GGSA.

Hy het my vertel hoe ek familiebegraafplase kan opsoek deur die webtuiste van GGSA en toe hy hoor waar my familie vandaan kom, het hy voorgestel ek moet aansluit by Die Bronberger se Facebook-blad.

Ons is nie meer woonagtig in die verspreidingsgebied van Die Bronberger nie, maar bly graag op hoogte deur die Facebook-blad en ek kry my uitgawe altyd vanaf my suster, wat steeds op Kleinfontein bly.

Die geskiedkundige artikels in die Bronnie fassineer my en natuurlik ook alles oor ou begraafplase wat gevind word. My neef se woorde altyd aan my is: “Los die dooies uit, laat hulle rus . . .”

Ek dink Die Bronberger bied iets vir almal en ek geniet die foto’s wat die mense van die omgewing deel, veral die mooi sonsondergange.

Ek ondersteun graag die mense in die area wat adverteer en sal graag ook meer mense wil sien wat vars plaasprodukte adverteer.

Veels geluk Bronnie-redaksie en dankie vir al julle harde werk. Ons ondersteun graag
julle puik tydskrif.

Vreethans eerste

Robert Denton, De Tweedespruit
Ek het die Bronnie in 2007 by een van die verspreidingspunte raakgeloop. Ek dink dit was Giel se hardewarewinkel op Cullinan.

Ek lees altyd heel eerste Vreethans se rubriek, die redaksionele kommentaar en dan Angie se fantastiese stories.

Ek sou baie min aan die inhoud verander – hou dit asseblief net so.

Ja, en ek ondersteun die Bronnie se adverteerders sover ek kan en sal altyd eerste die Bronnie raadpleeg as iets aangekoop moet word of ek dienste benodig.

Bron van inligting

Deon van Rensburg, Mooiplaats
Ek onthou nog die dae toe ons by oom Faan gekuier het. Wanneer die Bronnie se mense instap, het die gesprekke ’n nuwe dimensie, diepte en diskoerse ingeslaan. So onthou ek nog die gesprekke oor Die Bronberger wat toe nog in sy babaskoene gestaan het.

Vandag is die Bronnie lankal in, uit en deur sy tienerfase en ’n volwasse ‘Bron’ van inligting dwarsdeur die kontrei. Ek het al die voorreg, wat meer ’n eer was, gehad om ’n paar brokkies van gebeure te skryf en is altyd met Bronnie-vriendelikheid begroet.

Na 15 jaar is daar reeds baie Bronnie-nostalgie, maar die een ding wat my deur die jare verras het was die hoeveelheid kere wat ek saam met vriende ’n koffie-kuier geniet het; dan soek ek na iets en male sonder tal is ek deur iemand om die tafel vertel dat hulle of ’n paar weke, soms maande en selfs jare gelede ’n artikel, advertensie of antwoord op my vraag in die Bronnie gesien het.

Ek geniet die Bronnie-geskiedenis van die omgewing. Ek is ’n suigstokkie vir goeters en geniet die advertensies in die Bronnie.

Knap gedaan en hou koers!

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online