Lila se hondmak rysebras floreer op Elandshoek PDF Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 21 October 2017 16:23
Untitled Document

Om ‘n sebra mak genoeg te maak sodat hy gery kan word, is nie kinderspeletjies nie. In 2003 het ons die verhaal van Lila Oechler en Nyamazan, ‘n vier-jaar oue Burchell-sebra, vertel. Nyamazan word nou 19 jaar oud en wys deesdae die wêreld wat sebras kan doen met Lila se Dinokeng sebra-toere op die Oechlers se plaas op Elandshoek buite Rayton.


Lila Oechler met Nyamazan, links, en Vicky van der Berg met Nandi, regs
Foto’s: Henry O Photography

Op dié plaas woon daar nog twee sebras: ’n jong merrie, Nandi, wat Lila onlangs geleer het om gery te word; en Xena wat ongelukkig nie vir die toere gebruik kan word nie al is sy baie mak. Lila vertel dat mense Xena hans grootgemaak het en dat sy partykeer onvoorspelbaar kan wees.


Nyamazan het as jong sebra vinnig geleer om op stem-bevel vryspring te doen

‘Zorse’
Lila het ook ‘n ‘zorse’(seperd?) genaamd Habibi, ‘n 25-jarige Boerperd-sebra kruising. Volgens Wikipedia is ’n ‘zorse’ ’n kruising tussen ’n sebra-hings en ’n perd-merrie. Lila sê dat Habibi nie aspris so geteel is nie; dit was ‘n fratsongeluk. Haar ma was deel van ’n Boerperd-stoet en langsaan was ’n rehabilitasiesentrum vir wilde diere met ‘n heining wat ‘n sekere vryerige sebrahings nie kon binnehou nie.

Die kruising tussen ’n sebra-merrie en perd-hings word ’n ‘hebra’ genoem. ’n ‘Zonkey’ (sedonkie?) is die kruising tussen ’n sebra-merrie en ’n donkie-hings.  ’n ‘Zedonk’ is ’n kruising tussen ’n sebra-hings en donkie-merrie. ‘Zedonks’ word glo soms in dieretuine geteel omdat hulle baie soos die uitgestorwe kwagga lyk. Net soos die muil, is al dié kruisings steriel.


Lila lei Nandi, toe Vicky haar die eerste keer gery het

Maatjie
In 2003 het ons vertel dat Nyamazan se maatjie die Friesperd Thor was. Lila sê dat Thor nog lewe, maar nou baie oud is – 30 jaar. Nyamazan is vriende met Lila se kwartmylperd (“quarter horse”) Flash en ook met Nandi. 

“Ongelukkig kan ek hom nie by Xena sit nie, want sy val hom aan en jaag hom tot hy gedaan is,” sê Lila.


Nyamazan het homself geleer om in die huis in te kom. Hy loop na die yskas,
waar hy wortels uithaal. Die bulhond-tefie, Gaby, is sy maatjie

Op die plaas woon daar ook ’n jonger Friesperd, Odin, wat deur Lila se man Henry gery word en Lila se vos Amerikaanse kwartmylperd, Poco Flash, met wie sy as deel van die Gauteng-span aan drie nasionale kampioenskappe van die ‘Western’ Berede Spele deelgeneem het.

Lila het in 2003 al gesê dat sy geen probleme het met die oordra van siektes tussen sebra en perd nie. Toe Nyamazan twee jaar oud was het Lila hom laat kastreer en ook laat toets vir perdesiekte, wat hy nie gedra het nie.


Vicky en Nandi

Makmaak
Lila het Nyamazan, wat die Zulu-woord vir ‘klein diertjie’ is, as ‘n sewe-maande oue vul by ‘n wildsplaas net buite Pretoria aangekoop. Sy het al die nodige permitte en vervoerlisensies gereël en ‘n boma gebou, wat gereed gestaan het vir die vul se aankoms.

Selfs in sy erg-verdoofde toestand het Nyamazan daardie nag reg bo-oor die 6,4 voet muur van die boma gespring en op die snelweg begin terughardloop huis toe. Gelukkig het die polisie van Nyamazan geweet en hom gevang en aan Lila terugbesorg.


Nyamazan gryp ‘n stukkie roosterbrood met appelkooskonfyt

Dié episode het Lila laat besef dat dit nie so maklik gaan wees om ‘n sebra-vul mak te maak nie en dat hy homself dalk baie ernstig gaan beseer. Dit was toe dat sy besluit het om haar eie kop te volg, wat die kenners nou ook al daarvan sou sê. Sy het Nyamazan in ‘n perdestal gesit en die lang proses om sy vertroue te wen, het in alle erns begin.

Lila sê dat sebras baie meer sensitief is as perde en omdat hulle so emosioneel is, was die inbreekproses nie ‘n maklike ding nie. “Inbreek is eintlik die verkeerde woord,” sê sy.


Lila se ‘zorse’ Habibi saam met Nandi toe sy nog ’n vulletjie was

“Jy moet nooit probeer om ‘n wilde dier se gees te breek nie en in die begin het ek vir ‘n week lank voor Nyamazan se stal gesit en gerusstellend met hom gepraat terwyl hy na die staldeur geskop het en sy kop teen die deur se draadafskorting gestamp het.”

“Sy kop het naderhand gebloei en al wat ek kon dink was: Wat op aarde het ek gedoen?”


’n Mak sebra wat vroeg in die 1900's in Oos-Afrika spring
Foto: Wikipedia

Halter
Dit het lank gevat voor Nyamazan Lila toegelaat het om in die stal in te kom. Na ‘n ruk kon sy vir hom ‘n halter aansit en nog later, ‘n saal en ten einde laaste kon sy hom ry. Teen 1,35 meter is Nyamazan so hoog soos ‘n ponie en alhoewel hy ‘n poniesaal het, is sy rug baie meer reguit as dié van ‘n perd, wat veroorsaak dat die saal aanhou opskuif.

Lila het hom daarom meestal bloots en met ‘n stanglose toom gery omdat hy goed op bevele reageer sonder ‘n stang in sy bek.


Walter Rothschild met sy sebra-koets op pad na Buckingham Palace 

Lila het onlangs weer deur al dié grondwerk en opleiding met haar sebra-merrie Nandi gegaan. Sy sê sy kon Nandi voorberei om gery te word, maar Lila is self te swaar om die klein merrietjie te ry.

Sy het vir Vicky van der Berg, ‘n graad-elf skoolmeisie van Die Wilgers Hoërskool, betrek. “Vicky ry baie goed perd en is baie lig, so ek het haar gevra om Nandi te kom ry as sy kans sien. Vicky was baie dapper en het Nandi van die heel eerste keer af mooi gery.”

Met Lila se sebra-toere kry mense die kans om die sebras van naderby te leer ken, hulle te roskam en saam met hulle afgeneem te word.


Mev Johnson in 1923 op ‘n sebra genaamd Bromar
Foto: Steemit

‘n Sebra as deel van ‘n toekase sirkusvertoning
Foto: Pinterest deur Hanna Holmgren

Toeka
Lila se mak sebras is nie die enigstes wat ooit in die Pretoria-omgewing ingespan is nie. In die laat 1800’s het die bekende Zeederberg poskoets agter ‘n span sebras op Kerkplein aangekom.

Perdesiekte was ‘n groot probleem in die destydse Zuid-Afrikaanse Republiek en sebras, wat teen dié siekte bestand is, is as trekdiere gebruik. Dié eksperiment was glo nie op die lange duur geslaagd nie, omdat die sebras nie so beheerbaar soos perde was nie.


Dr Rosendo Ribeiro op huisbesoek in Nairobi
Foto: Daily Mail

Sebras is in 1874 in Parys, Frankryk as trekdiere gebruik. Kaptein Horace Hayes het in 1891 ‘n volwasse bergsebra-hings makgemaak en die eksperiment was so suksesvol dat sy vrou op die sebra gery het en gereeld op hom afgeneem is.

In die middel-1800’s het goewerneur George Grey sebras na Nieu Seeland uitgevoer vanaf sy vorige pos in Suid-Afrika. Hy het dié sebras gebruik om sy koets te trek op Kawau, ‘n eiland wat aan hom behoort het.


Dié foto van die Zeederberg Poskoets met sy span sebras is in die ‘Lantern’ van Junie 1983 gepubliseer

In Engeland het die diereversamelaar, Lord Rothschild, gereeld deur London met sy befaamde sebra-koets gery. In 1907 het Rosendo Ribeiro, die eerste dokter in Nairobi, Kenia, huisbesoek op ‘n sebra gedoen.

Sebras wat mak aangehou word kan soos ’n perd 25 jaar of ouer word, maar in die natuur lewe hulle gemiddeld net so 10 tot 12 jaar voor hulle as prooi gevang word.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online