Monnik se driehoek laat Kersboom wortel skiet PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 07 December 2017 06:15
Untitled Document

Al ooit gewonder hoe die tradisie van Kersbome ontstaan het? In die sewende eeu het ‘n monnik van Crediton in Devonshire die lang tog aangepak om goeie werke in Duitsland te gaan doen. Hy het baie tyd in Thuringia, wat later die gebied geword het waar Kersversiersels hulle oorsprong het, spandeer.

Legendes lui dat dié monnik die driehoekige vorm van die denneboom gebruik het om die Heilige Drie-eenheid te verduidelik. Die idee het soveel byval gevind dat denneboompies teen die 12de eeu in sentrale Europa met die Kerstyd onderstebo van plafonne gehang is as ‘n simbool van die Christendom.


Martin Luther se Kersboom
Foto: The Christmas Archives

Die eerste Kersboom is in 1510 in Riga, Latvia versier. Martin Luther het glo in die begin van die 16de eeu sy Kersboom met kerse versier om vir sy kinders te wys hoe sterretjies in die donker nag vonkel.
Martin Luther was ‘n Duitse monnik en Rooms-Katolieke priester wat in die 16de eeu die grondlegger was van die Protestantse Hervorming in die Christendom.


Kersversiersels in ‘n Victoriaanse huishouding
Foto: The Christmas Archives

Brittanje
Die Kersboom het saam met die Georgiaanse konings van Duitsland af in Engeland aangeland. Die Britse publiek was egter nie juis geheg aan die Duitse monargie nie en het geweier om die Kersboomtradisie in Brittanje voort te sit.

Die bome se versiersels was klatergoud, silwer draad-ornamente, kerse en klein kraletjies, wat alles sedert die 17de eeu in Duitsland en Oos-Europa vervaardig is. Die gebruik was om verskeie klein Kersboompies op tafels te plaas – een vir elke gesinslid – en om elkeen se geskenke onder sy of haar eie boompie te sit.

In 1846 het koningin Victoria en haar Duitse Prins Albert saam met hulle kinders om ‘n enkele groter Kersboom in die ‘Illustrated London News’ verskyn. Dit is glo omdat koningin Victoria so gewild was, dat Kersbome feitlik oornag ‘n mode-item in Brittanje geword het.


Die Victoria en Albert Kersboom
Foto: The Christmas Archives

Maak
Kersversiersels was tuisgemaak. Vrouens het maande voor Kersfees begin om ‘sneeuvlokkies’, sterretjies en papiermandjies vol versuikerde neute te maak. Klatergoud en ‘n engel om bo-op die boom te sit, het egter van Duitsland af gekom en kerse is vir veiligheid in houthoepels gesit.

In 1850 is meer kranse van glas-krale en kort stringetjies met beuels en krale vir Kersbome kommersieel vervaardig. Steeds was dié produkte en ook die Kers-engele meer geredelik in Duitsland as in Brittanje beskikbaar.

Vanaf die 1860’s is klein speelgoed aan die Kersbome gehang, maar die meeste geskenke is nog onder die boom neergesit. Rondom dié tyd het die Kersboom meer algemeen in ander dele van Europa geword, alhoewel die Mediterreense lande nie te veel belanggestel het nie. In Italië was daar ‘n driehoekvormige hout-platform boom wat as die ‘Ceppo’ bekendgestaan het.


Die Duits-gebore Amerikaanse kunstenaar, John Lewis Krimmel (1786-1821), se weergawe
van ‘n Kersboom
Foto: Women in American

Nuwe
Duitse immigrante het hulle Kersboomtradisies na Amerika, Australië en Suid-Afrika saamgeneem, maar voor die middel van die 19e eeu was Kersbome met versiersels redelik raar in die nuwe wêreldse lande.

Die 1880’s het die opgang van oordadige Kersversiersels gesien. Die minimalistiese boompie wat op ‘n tafel gestaan het, het ontaard in die groter boom wat op die vloer staan en waaraan enige en elke blink ding onder die son gehang is. Hoe meer oordadig, hoe beter.


Dié Kerstoneel verskyn op bl 71 van ‘Youth’s Keepsake, A Christmas and New Year’s Gift’, wat in 1841 in Boston gepubliseer is

Teen die 1890’s het Kersbome tot teen die plafon gestrek. In die 1900’s het mense begin om hulle Kersbome volgens ‘n tema te versier – selfs Oosters of Egipties – maar met die dood van koningin Victoria in 1901 het die groei van die Kersboomtradisie vir ‘n paar dekades stilgestaan.


‘n Duitse Kersfees in die vroeë 1900’s
Foto: Knick of Time

Nostalgie
Die oplewing van Dickensiaanse nostalgie in die 1930’s het die Kersbome se versiersels begin beïnvloed, maar die Tweede Wêreldoorlog het gou ‘n stop daaraan gesit. In baie Europese lande was dit verbode om bome as Kersbome af te saag.

Ná die oorlog het die Kersnostalgie stadig weer begin herleef. In die middel-sestigerjare het daar weereens ‘n verandering gekom – die Amerikaanse aluminium-Kersbome het begin om die wêreld oor te neem en versiersels het weer minimalisties begin raak.


‘n Kersboom in die 1940’s
Foto: Allison Marchant

Die terugkeer na die oordadigheid van die laat-Victoriaanse era het in die 1970’s op Kersbome begin uitpeul en nagemaakte antieke Kersversiersels is orals vervaardig. Intussen het ‘n hele aantal vreemdsoortige Kerstradisies kop uitgesteek – soos die verskillende soorte dennegeur-spuitgoed wat ‘n mens op jou groen plastiese boompie kan spuit sodat hy net soos die ware Jakob ruik.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online