Lesers wil ontplof oor die skiet van bomklappers PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 07 December 2017 06:20
Untitled Document

Met die feesseisoen om die draai het ons by Bronnie-lesers aangeklop om te hoor wat hulle van die afskiet van vuurwerke en veral bomklappers dink. Ons het die volgende vier riglynvrae gevra:
1. Wat is jou mening oor mense wat vuurwerke oor die feesseisoen afskiet?
2. Indien jy daarteen gekant is, hoekom? Indien jy dit goedkeur, hoekom?
3. Wat kan verder gedoen word om die afskiet van vuurwerke te bekamp – veiliger te maak?
4. Wat is jou boodskap aan mense wat volhard met hierdie gewoonte?

Ons lesers is vrye teuels gegee om verder op die onderwerp uit te brei en hulle ervaring met vuurwerke te deel.


Bianca Steyn van Cullinan dink mense wat vuurwerke afskiet is selfsugtig en die meeste van hulle is onverantwoordelik.

Bianca sê sy keur vuurwerke en bomklappers om verskeie redes nie goed nie: Dit is gevaarlik, veral in die hande van kinders en party mense gebruik dit op ‘n onverantwoordelike wyse. Honde, katte en ander diere verstaan nie dat die skrikwekkende geraas ‘n viering is nie. ‘n Mens kan jouself net indink wat deur hulle koppe gaan. Diere se gehoor is baie meer sensitief as ons s’n en honderde troeteldiere raak vermis of selfs erger. Daarby besoedel dit die omgewing en hou dit ‘n brandgevaar in, sê Bianca.

Sy meen die enigste manier om dit veiliger te maak, sal wees om alle bestaande vuurwerke te vernietig en ‘n verbod op die produksie daarvan in te stel.

Haar boodskap aan mense wat vuurwerke afskiet is: “Raak ontslae van hierdie gevaarlike gemors. Dit sal nie net goed wees vir die diere en die omgewing nie, maar ook vir jou eie gesondheid.”


Dawie Badenhorst
van Nooitgedacht sê hy sien mense wat vuurwerke enige tyd van die jaar afskiet as mense wat geld mors.

Hy is veral gekant teen die geraas wat klappers veroorsaak en hy sien geen nut of rede vir die gebruik van sogenaamde bomklappers nie. Dit het ‘n baie negatiewe uitwerking op diere in die gebied waar mense dit gebruik, sê Dawie. Hy het geen probleem met vuurwerke wat nie raas nie, solank mense dit verantwoordelik gebruik.

Hy vra dat mense moet dink aan die uitwerking wat dit op die omgewing en die inwoners om hulle het, voor hulle besluit om met bomklappers besig te raak.


Johan Burke sê sy mening sal nie regtig publiseerbaar wees tensy hy selfsensorskap toepas nie. Hy voel so sterk gekant teen vuurwerke dat hy hoop “die gespuis wat die goed verkoop of afskiet moet gevang word en aan hulle tone opgehang word”.

Volgens Johan kan ‘n mens net een Oujaarsaand saam met jou honde by die huis bly om “te sien hoe lekker dit vir hulle is as die breindood werfnerwe kort-kort groot bomklappers afvuur”.

Groter boetes en daadwerklike optrede deur die owerheid is nodig. Die gebruik van vuurwerke is lankal verban, maar hy is nie bewus van iemand wat al in hegtenis geneem of daarvoor beboet is nie, sê Johan. Hy dink nie gedwonge gemeenskapsdiens by diere-reddingsorganisasies sal veel help nie, want hy twyfel of die oortreders genoegsame verstand het om enige empatie te hê met diere wat ly.

Sy boodskap aan klapperskieters is: “Hou op om net aan jouself te dink, jou selfsugtige (gesensor).

Wees ‘n bietjie bedagsaam teenoor jou medemens en teenoor diere. Dis eintlik ‘n boodskap wat elke mens elke dag ter harte kan neem. Die wêreld sal dan inderwaarheid ‘n heelwat beter plek wees.”


Petro Botha van Rayton meen daar is niks verkeerd met vuurwerke nie, maar wel met die mense wat dit misbruik:

“As ek terugdink aan my kinderdae, onthou ek die trosse klein rooi klappers wat vir ons soos wonderwerke was,” sê Petro.

“Ek en my broers sou allerhande nuwe idees uitgedink het om met die goed te eksperimenteer. In blikkies gesit met iets bo-op, mekaar daarmee gegooi en nog baie meer pret met dit uitgedink.

“Later het ons bomklappers gekoop, sterliggies waarmee ek my vingers verbrand het, ander wat gefluit het en dan die heel mooistes en ook die duurstes: Dié wat hoog opgegaan het en dan ontplof het in die pragtigste kleure en patrone.

“Waar het dit lelik en verkeerd geword? Is dit as gevolg van die diere wat verwilderd raak? Ons diere (en daar was heelwat) het dit net soveel soos ons geniet.

“Partykeer moes iemand ’n oorywerige hond vashou dat ons net in vrede die klapper kon aansteek. Hoekom het dit heeltemal handuit geruk? Is dit nie maar presies dieselfde ding as drank, sigarette, medisyne en kos nie?

“Het die mens se onvermoë om alles binne perke, ordelik en verantwoordelik te doen, nie nou alles gaan opfoeter vir die res nie? Wat het van die vreugde van Nuwejaar geword vir mense wat nie die partytjie-tipe is nie? Waarheen kan ons gaan om ook ‘Nuwejaar’ te hou?

“Ek stel voor ons bring die vuurwerkvertonings terug. Gee vir ons ’n groot parkeerarea of oop stuk veld, kry genoeg vuurwerke, koeldrank, eetgoed, musiek en wat ook al nodig is om dit opwindend te maak.

Die kinders en wie ook al wil, kan hulle klappers afskiet onder toesig en 12 uur dan skiet ons weer ons heel mooiste en duurste klappers op. Brand hulle hul vingers is dit deel van jou mooi herinneringe vir wanneer jy jou senior jare bereik.

“Ek voel vandag nog presies dieselfde oor vuurwerke. Daar is niks mee verkeerd nie maar wel met die mens wat dit misbruik en verkeerde dinge daarmee doen. Slegte en gemene mense sal daar altyd wees maar daar is ook gewone ordentlike mense wat dit so sal geniet om weer ’n vuurwerkvertoning by te kan woon en dalk is daar ’n ou tannie wat baie graag weer ’n bomklapper onder ’n blikkie wil sit en kyk hoe ver hy kan skiet!”


Folkers de Lange is “100 persent teen vuurwerke gekant”. Hy sê die arme diere, honde, perde en ander word so getraumatiseer dat jy jou hande vol het om hulle te kalmeer.

“Voordat mense vuurwerke aanskaf moet hulle twee keer dink. Hulle moet dink wat doen hulle aan die gemeenskap en aan die diere.”

Mense wat betrap word dat hulle die wet oortree met die skiet van vuurwerke, moet gedwing word om dadelik by ‘n veearts gemeenskapsdiens te gaan doen, sodat hulle kan sien wat die uitwerking van vuurwerke is.

“Ek voel baie sterk hieroor, want ek bly op ‘n plot in Cullinan en het al gesien hoe lyk diere wat in drade in is as gevolg van die skiet van vuurwerke,” sê Folkers.


Ronell van der Merwe van Welbekend sê vuurwerke kan wel mooi wees, maar dit word nie altyd veilig hanteer nie. En ongelukkig word troeteldiere en ander diere benadeel deur vuurwerke.

“Ons honde- en katkinders word vreesbevange. So ja, ek is redelik gekant daarteen, want al bly ons op ‘n plaas, redelik ver van die naaste bure af, sien en hoor ons dit nog.”

Ronell vra dat mense ander in ag moet neem en as hulle dan vuurwerke wil afskiet moet hulle seker maak hulle doen dit op ‘n plek waar diere en die veld nie sal skade ly nie.

Sy sê dat bomklappers en ander wat klapgeluide maak, vermy moet word. Dié wat nie so vreeslik raas nie moet ook versigtig gebruik word, sodat dit nie die veld aan die brand steek nie.
“Dink liewer twee keer of dit regtig die moeite werd is om vuurwerke te gebruik,” sê Ronell.


Nadine Bennet van Tierpoort is “totaal en al” teen vuurwerke gekant. Haar perde is haar lewe en ook haar inkomste en hulle maak hulself seer in ‘n poging om weg te kom van vuurwerke af. Dit kos haar baie geld aan kalmeermiddels en veeartskoste vir haar perde en honde elke keer as mense klappers in die omgewing skiet.

Nadine sou dit verkies dat vuurwerke heeltemal verbied moet word, omdat dit gevaarlik en nutteloos is. Volgens haar is daar baie beter dinge wat met daardie geld gedoen kan word.

Sy vra dat mense ‘n bietjie moet dink aan diere, mak en wild, voor hulle klappers skiet: “Julle ontstig die hele omgewing en natuur vir weke lank om julle vyf minute se plesier te kry. Honde beseer of dood hulself soos hulle probeer wegkom, wild hardloop deur drade en word op paaie dood gekry. Kinders word ernstig beseer omdat pappa en mamma dit goedgedink het om vir hulle bomklappers te koop. Julle is verantwoordelik vir baie huislose troeteldiere.

“Dit is seker die barbaarsste manier om enige fees te vier. Ons diere- en perdemense haat die feesseisoen al oor julle selfsugtige optrede. Baie dankie aan die handvol mense in ons omgewing wat die afgelope paar jaar hulle kant bring en nie klappers skiet nie”, sê Nadine.


Helena Naudé Potgieter van Tweedracht kan haarself nie indink hoekom mense in hierdie tyd wat alles so duur is en kospryse so ongelooflik opgaan, nog goed kan of wil koop wat met een ‘bang!’ die hemelruim ingeskiet word en dan nog skade aanrig nie.

Helena wil die mense wat die gewoonte beoefen mooi vra om hierdie jaar eerder die geld aan te wend om vir iemand wat dit nodig het eetgoedjies vir Kersfees aan te koop. Of, omdat dit meestal diere is wat ly, dierekos te koop en dit by ‘n dierewelsyn-organisasie af te laai.

“Ek lees juis weer vanoggend wat St Franciscus van Assissi gesê het: Dit is deur te gee dat ek ontvang. Dis nie ‘n preek nie, dis ‘n feit. Ag asseblief man, ek vra mooi,” sê Helena.

Sy is totaal gekant teen vuurwerke. Sy woon op ‘n kleinhoewe en is uiteraard ‘n diereliefhebber.

Wanneer sy die uitwerking sien wat vuurwerke op haar diere het, is “daar niks in my wat ‘n goeie woord daarvoor kan hê nie”.

“Bowendien is ek self geweldig gehoorsensitief (daarom bly ek op ‘n kleinhoewe) en haat ek die lawaai ook. Geen gevoel van vrede op aarde, waaroor ek Kersdag vier, wanneer ek daardie geluide hoor nie,” sê Helena.

Na haar mening is daar niks wat gedoen kan word om vuurwerke veiliger te maak nie – dit moet bloot verbied word.

Helena se boodskap aan klapperskieters is: “As jy, Vuurwerker, dan nou gaan volhard, hoop ek uit die diepte van my hart dat daar iewers iets in jou sal ontwaak wat jou sal laat twyfel die dag as jy by die plek instap waar jy van plan is om die goed te koop. En dat jy sal dink en wonder of jy nie tog maar langsaan ‘n sak hondekos moet koop nie en dan nog geld sal oor hê om vir oom Jan en tannie Petro, wat net die nodige het, ‘n lekker Kersete te koop, of ook te nooi na julle Kerstafel.

“Jy sal hierdie net eenkeer doen, en jy sal dit elke Kersdag doen. Ek daag jou uit, bewys my verkeerd. Die oom en tannie gaan nog jare van jou praat ook . . .”


Johan Pieterse het ‘n “probleem” met mense wat nie diere en ander om hulle in ag neem nie.
Diere raak baie verwilderd oor die afskiet van vuurwerke. Johan sê hy het ‘n spaniel (sniphond) gehad wat “ná so ‘n sessie” deur ‘n venster probeer breek het. Hulle het die hond gekry waar hy erg beseer en getraumatiseerd in die diefwering verstrengel was.

Johan vertel dat hulle seun saam met vriende vuurwerke by die see geskiet het, toe een reg onder die seun se oog vasgeslaan het. Een sentimeter hoër en hy kon sy oog verloor het, sê Johan.

“Kinders wil dit veral afvuur en dit is die ouers se verantwoordelikheid om hulle korrek in te lig, maar saam met vriende vergeet hulle soms die waarskuwings.”

Hy is nie gekant teen die viering met vuurwerke wat gekontroleerd by ‘n plek soos Loftus afgevuur word nie. Maar inwoners in die omgewing moet betyds gewaarsku word sodat hulle kan reëlings tref met hulle diere en kalmeermiddels moet selfs beskikbaar gestel word, sê Johan.

Mense wat volhard met vuurwerke wil hy waarsku dat hulle eendag die vrugte daarvan kan pluk: ‘n Kind sonder ‘n oog of ‘n man sonder vingers. Hy vra dat mense dié feesseisoen bedagsaam moet wees en aan die diere en mense naby aan hulle moet dink.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online