Digter ontsnap in hoë hakke en kappie – en dis nie al nie PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 26 January 2018 14:44
Untitled Document

Angie Kleijn

Bekende digter Jan FE Celliers het vir drie maande ná die Britse troepe Pretoria ingeneem het, onder die vloerplanke van sy huis in Sunnyside geskuil. Sy uiteindelike ontsnapping uit die dorp was danksy ‘n plan wat die kappiekommando gemaak het – Jan is as vrou vermom.

Jan was 34 jaar oud toe die Engelse Oorlog in 1899 uitgebreek het en was toe reeds amper vyf jaar getroud met Susanna Jacoba Dürr, wat voorheen ‘n goewernante was vir die melaatse kindertjies in die Erasmuskasteel.

Reeds toe Jan agt jaar oud was het hy stadigaan begin doof word. Teen die tyd wat hy van Junie tot Augustus 1900 onder sy huis se vloerplanke moes skuil, het hy al hoe meer afhanklik van Susanna se gehoor geraak en die wegkruip in die donkerte moes baie erg vir hom gewees het.


Die Celliers-gesin met hulle geliefde “lelik-mooi hondjie”, Prinsie, in die tuin van hulle Sunnyside-huis in 1916. Jan en Susanna sit in die middel met hulle oudste seun, Johan, staande agter. Langs hulle is hulle enigste dogter, Marie en die twee jonger seuns Henri en Albert
Foto: Carolize Jansen-versameling

Toe die luik in die plankvloer 55 jaar later verwyder is, is die volgende woorde aan die onderkant ontdek: “Hier het ek weggekruip, Augustus 1900. Jan FE Celliers.” Dié luik word as ‘n aandenking in die Jan Celliers-skool in Johannesburg bewaar.

Jan se huis was in Kotzestraat 166 en het tot 1970 behoue gebly, omdat dit weens
testamentêre beskikking nie verkoop kon word nie. Lank ná die Celliers-gesin daar uitgetrek het, het dit ’n kwynende bestaan as huurhuis gevoer.

In 1971 is ‘n woonstelblok daar begin bou en die Genootskap Oud-Pretoria het aan die nuwe eienaars, Engel en Ruyter, voorgestel dat die woonstelle Jan Celliers genoem moet word en dat ‘n gedenkplaat met die perseel se geskiedenis in die voorportaal aangebring moet word.


Albert en Henri by Prinsie
Foto: Carolize Jansen-versameling

Skuil
Die ‘Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria’ van 1971 berig dat Jan destyds in ‘Die Brandwag’ geskryf het oor sy gedwonge skuilhouding en avontuurlike ontvlugting. In haar bekende boek, ‘Die Kappiekommando’, het Johanna Brandt ook ‘n hoofstuk oor dié ontvlugting geskryf. Altwee stukke is op Jan se oorlogsdagboek gebaseer, waarvan gedeeltes later in ‘Die Huisgenoot’ verskyn het:
“. . . Aldag dieselfde, nou al maande lank, in die voorste kamer op ’n stoel, ’n boek in die hand, die gordyn amper tot onder neergetrek, sodat ek oor die boek net onder die gordyn deur kon kyk op die tuinhekkie.”

“Daar kom weer ’n Kakie in. Amper te laat gesien. Woerts! is ek onder die vloer. My vrou trek die tapyte oor die luikie, en sy is die reine onskuld vir die Kakie, wat wil weet hoeveel mense daar in die huis is, waar die man is. Op kommando natuurlik.”

“Welkom aand en donker: my tyd van die dag om eindelik ’n bietjie buitentoe te gaan,” het hy geskryf. In die agterplaas onder “my beskermende sipresse” het hy gaan oefeninge doen: “Gespring, gehardloop, voor- en agtertoe gebuig, gewigte opgetel, om my stramme lede – van heeldag sit – los te maak.”

Junie, Julie en Augustus 1900 het op dié manier verbygegaan. Jan het op 29 Mei in dié penarie beland.

Toe die oorlog uitgebreek het, het Jan op 16 Oktober 1899 aan die Kaaplandse front by Colesberg geveg. Daarvandaan is die kommando’s na Kroonstad om veldmaarskalk Roberts se opmars te probeer stuit.
Toe dié plan misluk, is hulle terug na Pretoria, maar generaal Louis Botha het alle vegtende burgers beveel om die dorp te verlaat. Jan het nie ‘n ryperd gehad nie en voor hy kon wegkom, was die Britse soldate op 5 Junie 1900 reeds daar. Hy wou nie die eed van getrouheid en neutraliteit aan die Britse kroon aflê nie en as hy gevang sou word, kon hy geskiet word of as krygsgevangene weggestuur word.


Die oorspronklike vuurherd van die Celliers-gesin se huis in die woonstelblok se ingangsportaal. Daar was eens ‘n gedenkplaat bo die vuurherd
Foto: Carolize Jansen-versameling

Vermom
Dit was Drienie Joubert, vrou van die kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Piet Joubert, wat Jan se ontsnapping “as vrou” saam met haar dogter beplan het. Hendriena Susanna Johanna Joubert, Drienie se dogter, is in 1884 met Abraham Hugo Malan getroud. Abraham se broerskind was Margaretha Magdalena (Ita) Malan, wat in 1903 met Jan Abraham Joubert – Drienie se jongste seun – getroud is. Dié Malan-vrouens was in die Engelse Oorlog by kaptein JJ Naude se spioenasienetwerk betrokke.

Drienie se dogter en haar twee seuntjies is op 24 Augustus met ‘n perdekar, waarmee sy groente na Pretoria aangery het, gestuur om Jan by sy huis in Sunnyside te gaan oplaai.

In die ‘Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria’ van 1971 word Jan as volg oor dié ontsnapping aangehaal:

“Ek het ’n rok aan. Oor my skouers ’n mantel met hoë opgeslaande kraag, om my kort hare van agter toe te maak; op my hoof ’n reguit-rand strooihoed, met ’n sware sluier oor my gesig; ’n paar handskoene aan, my voete gewring in ’n paar uitgetrapte dameskoene, met taamlike hoë hakke.”


Jan FE Celliers se huis in Kotzestraat 166, Sunnyside
Foto:‘Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria’ Nr/No 65-71 van 1971 

Ontsnap
Die ‘Tydskrif’ berig verder: “By die tuinhekkie loop ’n Kakie by hulle verby, ’n ent verder hou nog een sy hand op, soos later blyk net om die verkeer te reël. By Leeubrug gaan hulle eers sy swaer verby wat die dames beleef groet omdat hy nie in die geheim ingelaat is nie, en toe weer sy skoonsuster wat nie durf groet nie omdat sy weet wat aangaan.”

“Van Leeubrug gaan hulle Kerkstraat op in die rigting van die Kerkplein tot voor die huis van ds HS Bosman, ook ingelig, waar hy ‘oorstap’ op ’n trolliewaentjie met osse bespan. Sy metgeselle is die twee seuntjies van 12 en 13 jaar oud wat hulle ‘suster’ na die plaas vergesel . . .”

“Dis op die middel van die dag. Die wind dreig om sy hoed af te waai. Die stof is hinderlik. By Hovesdrif waar hulle die Apiesrivier weer oorsteek op die bekende pad na die noorde, gaan hulle ’n klomp Engelse soldate verby wat daar hulle perde water gee. Soldate en ander verbygangers stel om begryplike redes baie belang in die ‘jong dame’ op die wa.”

“Hulle gaan ’n groot kamp van Engelse soldate verby; dan by Eloff se plantasie verby waar die eerste wagte hulle deurlaat; dan deur Wonderboompoort waar hulle by nog ’n wagpos moes verbygaan, elke keer met die nodige spanning en benoudheid; vandaar agter Magaliesberg weswaarts tot hulle teen sononder die huis van die Malans bereik.”

“Dit was maar die begin; eers maande later, na baie swaarkry en onaangename ervarings,
het hy die kommando bereik – en tot die einde van die oorlog in die veld gebly.”


Jan en Susanna met hulle twee jonger seuns Henri en Albert by Prinsie in hulle tuin
Foto: Carolize Jansen-versameling

Gebore
Johannes Francois Elias Celliers is op 12 Januarie 1865 op die plaas Wagenmakersvallei in die distrik Wellington gebore as oudste kind van joernalis Johannes Francois (Jan Volkstem) Celliers en Magdalena Bisseaux, dogter van ‘n sendeling van die Paryse Sendinggenootskap, Isaac Bisseaux, wat in 1829 na Suid-Afrika gekom het. Jan se pa was ’n afstammeling van Franse Hugenote, Josué Sellier (’n ou spelling van Celliers) en Elisabeth Couvret.

Jan het ’n broer, Isaac Bisseaux, en drie susters, Susanna Wilhelmina (Sannie), Anna Sibella Magdalena en Hester Maria, gehad. Sannie is later met die beeldhouer Anton van Wouw getroud.

Drie jaar na Jan se geboorte is die Celliers-gesin na Kaapstad waar sy pa subredakteur van ‘Het Volksblad’ geword het. Die gesin het in 1874 na Pretoria getrek waar Jan se pa in 1873 stigter en redakteur van ‘De Volkstem’ geword het. Hulle het in Boomstraat gebly op die perseel wat later die nasionale dieretuin geword het.


Die blok woonstelle wat op die erf gebou is waar Jan se huis gesloop is
Foto: Carolize Jansen-versameling

Skool
In Kaapstad was Jan in ‘n Skotse kerkskool. Ná die gesin se aankoms in Pretoria was hy eers in meester Dely se skool op Kerkplein en daarna het hy vir die eerste keer Nederlandse onderrig by Cornelis J van Boeschoten ontvang. Hy was ook ‘n leerling aan die Gimnasium te Stellenbosch, die Jongenskool op Wellington en het by meester Wessel Louis se Pretoriase skool gematrikuleer.

Jan het een van sy eerste gedigte in Nederlands in 1884 geskryf. Sy eerste Afrikaanse gedig het 10 jaar later in 1894 gevolg. Tog het hy eerder vir landmeter studeer. Hy het in Delft en Leiden in Nederland gekwalifiseer. Terug in Suid-Afrika het hy net vir ‘n jaar as landmeter in die bosveld gewerk voor hy ‘n klerk in die onderwysdepartement geword het.

In 1894 het hy Staatsbibliotekaris in Pretoria geword en het op 6 Desember daardie jaar met Susanna Jacoba Dürr getrou. Jan en Susanna het ’n dogter, Maria Elizabeth (Marie), en drie seuns, Johannes Francois (Johan), Henri Josua en Albert Couvret, gehad.


‘Skrywers in beeld 3 – Jan FE Celliers’ deur FR Gilfillan
Foto: Bid Or Buy

Ná oorlog
Ná die oorlog het Jan op 9 Junie 1902 na Pretoria teruggekeer, net om uit te vind dat hy sy pos as Staatsbibliotekaris verloor het. Hy het glo voor die oorlog ‘n trommel goue Krugerponde in die agterplaas van sy Sunnyside-huis begrawe en daarmee is hy en Susanna en hulle eerste twee kinders Nederland toe.

Van daar is hulle na Switserland waar Jan letterkunde studeer het. Hulle het naby Clarens gebly en so met Paul Kruger en ander Boere-vlugtelinge in aanraking gekom. Hulle twee jongste seuns is daar gebore en dit is in Switserland wat Jan met heimwee aan sy land terug gedink het en sy gedig, ‘Die vlakte’, geskryf het. Dit is ’n paar jaar later op 12 Mei 1906 in ‘De Volkstem’ gepubliseer.

Die gesin is in Junie 1907 terug na hulle huis in Sunnyside, maar Jan was werkloos. Hy het later werk as ‘n liasseerder en toe vertaler by die Departement van Binnelandse Sake gekry waarna hy vertaler in die Departement van Landbou geword het. Jan het dié werk as sieldodend beskryf en hy moes enigiets vanaf slaghuisregulasies en pluimveevoer tot “resepte vir varkenskos”, vertaal.

In 1910 het hy en Gustav S Preller van die oprigters van ‘Die Brandwag’ geword. Jan het vir tien jaar in die redaksie gedien en was ook ‘n medewerker van ‘Die Boervrou’ terwyl sy vertaalwerk steeds die gesin se brood-en-botter voorsien het.


‘n Ouer Jan FE Celliers
Foto: Wikipedia

Gedigte
Daar is baie oor Jan FE Celliers se letterkundige werk geskryf. Een van sy bekendste gedigte onder skoolkinders is waarskynlik ‘Dis al’: “Dis die blond,/ dis die blou:/ dis die veld,/ dis die lug;/ en ’n voël draai bowe in eensame vlug – /dis al./ Dis ’n balling gekom/ oor die oseaan,/ dis ’n graf in die gras,/ dis ’n vallende traan –/ dis al.”

Die ‘Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria’ van 1971 berig dat huislikheid opvallend in sy poësie is en deurgaans verwys na die huis in Kotzestraat.

“Daar het ‘Klein ondeug’ (sy jongste seun) die lang gang afgehardloop. Daar het Prinsie, die lelik-mooi hondjie (een van sy sketse) geluk in die hart van Phlippie gebring. Daar het op ’n goeie reënjaar ‘Ons pampoen’ (ook een van sy sketse) in die agterplaas opgekom, die
wêreld volgerank, die bome uitgeklim . . .”

In 1920 het die Universiteit van Stellenbosch ingespring om Jan van die verveling van sy werk as vertaler te verlos. Hy is met die Jan Marais-fonds as buitengewone hoogleraar aangestel en die plan was dat hy meer tyd aan sy skryfwerk sou kon wy.

Jan se lesings is egter swak bygewoon, want sy buitengewone professoraat het geen vaste plek in die erkende leerplan gehad nie en sy doofheid het kommunikasie met studente bemoeilik.

Hy is in Januarie 1922 terug na Pretoria en is hierna elke jaar vir omtrent ‘n maand Stellenbosch toe om sy doseerwerk af te handel. Sy finansiële probleme is glad nie hierdeur opgelos nie.


Die gedenkplaat in Jan Celliers-park, ook Proteapark genoem, in Groenkloof, Pretoria
Foto: Carolize Jansen-versameling

Tragedie
Susanna is in 1926 onverwags oorlede en Jan het gesukkel om die emosionele slag te verwerk. Met sy toenemende doofheid was sy vrou vir jare die skakel tussen hom en die buitewêreld. Ná Susanna se dood het hy heeltemal ophou skryf en die tragedies in sy gesin het hom diep geraak.

Sy oudste seun Johan is in 1919 Europa toe en het tien jaar in Parys as skilder gewerk. Met sy terugkeer het hy as kluisenaar op ‘n plaas buite Johannesburg geleef.

Sy seun Henri het klavier in Europa studeer en met ’n Tsjeggiese pianiste getrou, maar het nooit self groot sukses as musikant behaal nie. Terug in Suid-Afrika was hy ‘n belowende toneelspeler, maar pleeg toe selfmoord. Jan se jongste seun Albert is nooit getroud nie en het op ’n jeugdige ouderdom reeds begin blind word. Sy dogter Marie is met Hugo Stegmann getroud en hulle eerste kind, Marietjie, is baie jonk dood.

Jan het die huis in Sunnyside finaal in 1927 opgegee en is Europa toe om mediese
raad vir sy doofheid in te win. Hy het in 1929 ophou doseer en het vir ‘n ruk op Harrismith gewoon.

Daarná het hy in Tamboerskloof in Kaapstad by die skilder John Esterhuizen en sy vrou ingewoon.

Jan is op 1 Junie 1940 in die ouderdom van 75 jaar dood toe hy by Marie in Aucklandpark, Johannesburg gekuier het. Hy is in die heldeakker van die ou kerkhof in Kerkstraat-wes, Pretoria begrawe.


Die grafte van Celliers, Jan FE: 1865–1940 en Susanna Jacoba (gebore Dürr): 1868–1926 asook Celliers Jan F: 1897–1967 in die Kerkstraat-begraafplaas in Pretoria
Foto: eggsa

 

 

© 2018 Die/The Bronberger