Ou Kraai is toe Stilveld toe PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 22 January 2008 00:00

Jare her het ek nogal gereeld saam met oom Jan Kom-drink gekuier - in die polisiekantien op ‘n plattelandse dorp. Oom Jan en sy broer Wally Combrink, het tot anderkant hulle 50’s nog rugby vir die dorpspan gespeel. Twee taai manne wat hard kon speel en hard kon kuier.

Oom Jan Kom-drink het baie pêlle gehad. Jy kan maar sê hy was almal se pêl. Selfs ou Kraai kon met vrymoedigheid ‘n geselsie met oom Jan aanknoop, al het al die ander manne in die klub ou Kraai soos die pes vermy.

Want ou Kraai was ‘n opperste ou vrek en ou Kraai het nie altyd te lekker geruik nie. Hy het ook altyd net genoeg geld vir een bier kantien toe gebring en dan gesorg dat hy hom iewers in ‘n kuierkringetjie inwurm vir as daar ‘n rondte gekoop word.

Maar oom Jan was altyd vriendelik en verdraagsaam tenoor hom. Hulle was blykbaar donkiejare gelede pêlle op skool en oom Jan was nie van die soort wat ‘n pêl sommer net vergeet het nie. Op ‘n dag het ek oom Jan Kom-drink uitgevra oor ou Kraai en toe vertel hy my:

Kraai het sy hele lewe lank in ‘n woonwaentjie gebly. Nooit getrou nie. Nooit eers ‘n meisie gehad nie. Dit nadat sy groot jeugliefde tragies dood is toe hulle so 18 jaar oud was.

Kraai se ouers was gesiene boere in die distrik en dit is algemeen aanvaar dat ou Kraai sal gaan boer as hy klaar skool geloop het. Maar toe tref die ongeluk die gesin en hulle verloor alles, plaas inkluis.

Só het ou Kraai toe ná skool by die tabakkoöperasie begin werk en in sy woonwaentjie ingetrek. Deur die jare het hy elke geldjie wat hy by die koöperasie en as skrynwerker in sy vrye tyd verdien het, gebêre. Nie in die bank nie, maar onder die woonwaentjie se vloer. En vandag, só vertel oom Jan my toe, is ou Kraai ‘n skatryk man.

Dit gebeur toe dat ou Kraai skielik nie meer polisiekantien toe kom nie.‘n Kraailose week of wat verloop voor ek oom Jan Komdrink vra wat dan van ou Kraai geword het.

Ek sal nooit sy antwoord vergeet nie: “Kraai is Stilveld toe.” Stilveld toe. Ek het gedink oom Jan bedoel dat die ou die tydige vir die ewige verruil het, maar nee, sê oom Jan. Hy is weg. Hy het net weggeraak. Niemand weet waarheen nie. Sy woonwaentjie net daar met die opgeligte vloer gelos en sonder ‘n woord aan iemand is hy vort. Stilveld toe.

 

© 2019 Die/The Bronberger