Polisie praat oor Donkerhoek-aanval PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 26 March 2018 14:36
Untitled Document

Die 69-jarige Nic Grobler van Donkerhoek is op 13 Februarie met ’n panga op sy kleinhoewe aangeval en vir dood agtergelaat. Hy het vir langer as sewe ure in ‘n poel bloed om sy lewe geveg voor hy gevind is. Nic is aan die een kant verlam en kon homself nie ophelp om ‘n ambulans te ontbied nie. Hy was vir langer as ‘n week in Muelmed-hospitaal se waakeenheid en daar is hoop dat hy sal herstel. Nic se bakkie en items soos ‘n selfoon en skootrekenaar is gesteel. Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop vertel hoe sulke aanvalle verhoed kan word.

AO Wynand van der Merwe

Die meeste inwoners van ons omgewing het seker gehoor van dié aanval op Nic Grobler in die Donkerhoek-omgewing. Dit was ’n lafhartige, maar goed deurdagte aanval gewees. Dit is juis oor dié voorval waaroor ek met ons inwoners wil praat.

Op die dag van die aanval het die SAPD ure gespandeer om die vermiste werker, wat saam met die slagoffer was, op te spoor omdat daar eers vermoed is dat die werker ook ’n slagoffer was. Dit het toe later aan die lig gekom dat die werker die verdagte in die saak is.

Toe navraag begin doen is oor die werker, wat meer as twee jaar lank vir die man gewerk het, kon slegs sy naam en ’n selfoonnommer beskikbaar gestel word. In gevalle soos dié is dit van uiterste belang dat die volle name, ID nommer en ’n kontak of verwysing van werkers op lêer gehou word.


Nic Grobler

Boschkop SAPD het ’n oopdeur-beleid waar enige lid van die gemeenskap hulle werkers kan bring vir die nagaan van hulle geskiedenis. Dit word sterk aanbeveel dat alle werkers, nuut of oud, in hulle werkkontrak ’n klousule onderteken wat toestemming aan die werkgewer verleen om hulle vingerafdrukke te laat neem en ook dat hulle ID nommer nagegaan mag word.

Daar is talle voorvalle waar die werkers op ’n plot of plaas betrokke is by misdade. Hiermee wil ek nie sê alle werkers is onbetroubaar nie. Daar is ook baie voorvalle waar werkers die inwoners gered het en partykeer self met hulle lewe moes boet daarvoor, maar ons moet die werklikheid aanvaar dat nie almal vertrou kan word nie.

Die volgende word voorgestel: Indien julle ’n nuwe werker aanstel, ou werkers kan ook hierby ingesluit word, verkry ’n kopie van die persoon se ID dokument, ’n verwysing van vorige werkgewers, asook die werker se adres en besonderhede van sy familie.

Die inligting moet iewers veilig op lêer geplaas word. Die werkers kan ook na die polisiestasie toe gebring word waar vingerafdrukke geneem kan word en ’n misdaadprofiel op die ID nommer getrek kan word.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Sulke inligting is van onskatbare waarde. Sou die werker later gesoek moet word in verband met ’n misdaad, vergemaklik dit die SAPD se ondersoek om misdadigers voor die hof te bring en dat geregtigheid kan geskiet.

Hierdie en nog verdere sake sal op ’n openbare landelike beveiligingsvergadering by Rosemary Hill op die Groen pad op 5 April om 7 nm bespreek word. Alle inwoners van ons gemeenskap wat deur Boschkop SAPD bedien word, is welkom om die vergadering by te woon.

Daar sal sprekers van Agri SA en die TLU wees. Wees deel van die bevordering van veiligheid in ons gemeenskap. Kom vat hande met die SAPD en laat ons almal saam ’n verskil in ons gemeenskap se veiligheid maak. Ons sien uit daarna om u te ontmoet.  

Vir verdere inligting, bel adjudant-offisier Wynand van der Merwe by 071-675-5505. 

 

© 2018 Die/The Bronberger