Lekker kuier op ‘n raasplaas PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 26 March 2018 14:37
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Op ‘n mooi Saterdag in Maart sit ons weer half ‘mag-het-troffe’ af, op jag na ‘n kuierplek wat ons nog nie ken nie. Op Rhenosterfontein swenk ons skerp links by die afdraaipad na Rhinopark en Legends MX.

Hier is ‘n aansienlike gedeelte van die ou plaas ingerig met ren- en hindernisbane vir veldmotorfietse van elke denkbare aard en grootte. Saam met modelvliegtuie, regte vliegtuie, viertrekvoertuie en modelmotortjies wat hier ‘n tuiste gevind het, sou die kragfietse sorg dat ons ‘n heel nuwe kakofonie van klank (lawaai) ervaar.


Daar word gebraai en gepiekniek by Legends MX terwyl die ysterperde ruskans kry. Die foto is van die kuierplek se ruim stoep af geneem

Ons mik vir die kuierplek wat in ‘n netjiese, groot rondawelplek ingerig is en wat die naam Royal Livingston dra. En as jy vir ‘n ietsie wil aansit moet jy inval by die ander en jou voorkeur vir die stilte afsweer. Want dit is wat hulle hier doen: Hulle raas en hulle geniet dit. Metgesel merk op dat mense wat langs die gebied se plotpaaie bly, baie dankbaar behoort te wees vir hierdie alternatiewe jaagplek.

Ons sit eers buite by een van die buitetafels aan, maar verskuif gou na die binnewerke – wat as ‘n effense knaldemper dien. Hier neem ons by ‘n ruim, ronde houttafel op gerieflike stoele plaas. ‘n Vriendelike kelner bring die spyskaart en (op versoek) die TV se afstandbeheer nader. Ek stel die TV-stel op krieket en verdoof die klank na nul desibel.

Groot vensters bied ‘n goeie uitsig. Voor ons speel kinders met modelkarretjies, mense hou piekniek en braai en diesmeer by die netjiese plekke onder koeltebome en net ‘n klipgooi verder op die ‘kiddies’ se hindernisbaan rits jong ridders op ‘n legio dingeskrieke rond.


‘n Knaap op ‘n kriekfiets besig op die jonger ridders se hindernisbaan

Die ‘krieke’ raas nie in ‘n koor of in een stem nie – elkeen sing sy eie, baie luide dreuntjie. Ek dink ek verstaan nou hoekom die krieke op Engels ‘scramblers’  heet: Party klink opsluit net soos die oorirritasie wat ‘n outydse elektriese klitser voortbring. Sommige klink kompleet na ‘n hommelby in ‘n bottel en een laat my dadelik dink aan ‘n brommer in ‘n toiletbak. En as een riddertjie die vet toedraai, skiet daai kriekfietsie nes ‘n string rooi klappertjies op Kersdag. Maar ek kla nie. Ons is immers aspris hier. En jy raak na ‘n ruk, amper soos die kreef,  gewoond daaraan.

Jy kan ontbyt oor naweke tot 4 nm bestel (in die week is net die kroeg oop) en die spyskaart dra nogal ‘n redelike groot keuse. Ontbyte met wisselende hoeveelhede van eiers, spek, kaasworsies, boerewors, gebakte bone, skyfies en roosterbrood of die koninklike omelet (royal) wissel in prys van tussen R44 en R69. ‘n Kleiner kinderontbyt kos R25.


‘n Billike stokvis met ‘n groot slaai en skyfies

Nege verbuigings van roosterbroodjies weeg in tussen R20 en R36 en vyf soorte burgers kos ‘n iets oor die R30. Dan kan jy ook ‘n ‘mighty tall’ een teen R60 bestel. Die burgers kom saam met baie goeie skyfies, sou ons later uitvind. Ek dink nie die warmbrak met Weense- of Russiese worsies kry deesdae groot aftrek nie, maar dit kos R20 en R25 onderskeidelik. Dalk is die eienaar ondernemend genoeg om nie die ‘verkeerde’ worse te gebruik nie.

Metgesel besluit op die gekrummelde stokvis met skyfies en slaai. Sy hou verby die paar hoendergeregte, omdat sy effe ‘opgehoender’ is, sê sy. Die vis en skyfies se prys is R55 en die slaai is R25 ekstra. Die porsies is groot en lekker, meen Metgesel, en sy is veral gaande oor die tuisgemaakte souskeuses daarby.


Die ingang na die ruim rondawelplek wat die restourant huisves

Die kaasburger wat ek nuttig is heel gangbaar en die skyfies daarby is, soos elders vermeld, reg na my smaak. Die burger se broodjie is liggies gerooster, wat gaaf is en ook net baie liggies gebotter, wat nie so gaaf is nie. Die frikkadel is smaaklik, maar kon doen met ‘n bietjie minder broodaanvulling. Dit kos R38. Rooiwyn per kraffie is ‘n winskoop teen R25. Die plek bedien ook ‘harder’ drank – en sagter ook, soos melkskommels en koeldrankies. Die koffie agterna, was lekker vertroostend.

Ons het die anderste kuiertjie by Rhenosterfontein se Legends MX nogal baie geniet – desondanks.
Jy kan hulle bel by 082-413-7726.

 

© 2018 Die/The Bronberger